Persverklaring: Nuwe hoof- uitvoerende beampte vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

  • 1

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) kondig met genoeë aan dat Annelise de Vries vanaf 1 November 2024 die pos van hoof- uitvoerende beampte van die SAAWK sal beklee. Sy neem die leisels oor by Anne-Marie Beukes wat die pos vir een en ’n half termyn beklee het.

De Vries is toegewyd aan die veld van taalbeplanning en taalbestuur in al sy fasette. Dit is vir haar nie bloot ’n beroep of belangstelling nie, maar ’n roeping. Tydens haar loopbaan het sy haarself gewy aan die belangrike taak van taalbeplanning, en sy is onwrikbaar in haar besluit om hierdie noodsaaklike werk by die SAAWK voort te sit.

Volgens De Vries word Afrikaans nasionaal en internasionaal as gevallestudie van effektiewe taalbeplanning bestudeer. Die SAAWK het in die geskiedenis ’n groot rol in hierdie taalbeplanningsprojek vir Afrikaans gespeel en sy is van mening dat daar, veral in ’n tyd waar Afrikaans toenemend gemarginaliseer word, nog baie werk is vir die SAAWK om te doen.

Sy tree uit as dosent in Fakulteit Opvoedkunde, Vakhoof: Tale en Koördineerder: Taalsentrum aan Akademia.

Sy beklee tans die posisie van ondervoorsitter van die African Association of Forensic and Legal Linguistics en is ’n toegewyde lid van die Taalkommissie van die SAAWK. Haar professionele reis sluit betekenisvolle rolle in, soos voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, navorser, taalbeplanningdeskundige en dosent. Haar akademiese kwalifikasies is ’n getuienis van haar toewyding aan die veld. Haar kwalifikasies omvat ’n doktorsgraad in toegepaste linguistiek, ’n meesters- en honneursgraad in Afrikaans-Nederlands, ’n BA-graad in Kommunikasiestudies en ’n BA-graad in Pastorale Begeleiding en Psigologie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top