
Ruhan du Toit (Foto: verskaf)
Ruhan du Toit, boorling van die Baai (deesdae Gqeberha) wou nog altyd net sing, het hy verlede jaar in ’n media-onderhoud gesê. En hy het dit reggekry, deur die talle uitdagings en oppe en affe wat die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is.
Ná ’n aantal suksesvolle jare as deel van die duo Touch of Class, saam met die kitaarspeler Deon van der Merwe, het Ruhan in 2019 besluit om op sy solo-loopbaan te fokus. In 2021 reik hy dan ook ’n solo-album uit, Monumentaal, wat hy tydens die pandemie geskep het. Hy beskou dit as ’n samevatting van sy laaste 30 jaar in die bedryf, en ’n weerspieëling van sy liefde vir melodie en storievertel.
As veelsydige musikant, wat ook verskeie instrumente kan speel, is hy net so gemaklik voor ’n volgepakte stadion as by ’n intieme bosveldvuur met uitgesoekte gaste. Oor die volgende paar maande stel hy verskeie nuwe Afrikaanse en Engelse enkelsnitte vry wat hy by sy indrukwekkende arsenaal van oorspronklike musiek voeg. Ruhan, met sy skerp humorsin en opregtheid, is ’n geliefde kunstenaar onder jonk en oud. Hy is baie dankbaar vir die geleentheid om elke dag sy passie te kan uitleef en so dan sy unieke talent met die wêreld te kan deel.
Oor die jare het hy verskeie loopbaanhoogtepunte behaal, waaronder vier enkelsnitte, 27 albums, ’n Aitsa-toekenning in 2019, talle radiotreffers, asook optredes op verskeie groot en gewilde musiekverhoë, waaronder Innibos, Afrikaans is Groot en Lexus Pop Classics. Vanjaar kom kuier hy by Momentum Beleggings Aardklop!
“Dit gaan lekker wees,” sê Ruhan oor sy eenmalige optrede met sy band by Aardklop. “Ons gaan vir julle lekkernye bring, dalk so een of twee van die ouer goedjies en dalk so een of twee splinternuwe goedjies.”
Die gehoor kan uitsien na sy vieroktaafstem en uitgebreide repertoire – waaronder sy roerende weergawe van Simon & Garfunkel se The sound of silence, asook sy eie Monumentaal en Shivers – wat hy oor die laaste 30 jaar opgebou het. Onthou, hy tree net een keer op by vanjaar se Aardklop, maak dus seker jy’s daar!
Tyd en plek: Ouditorium, 28 September, 14:00
Kaartjies: R210, R190 (Hartsvriende) – voor ; R190, R170 (Hartsvriende) – agter
Tydsduur: 75 min.
Alle ouderdomme
Laai die volledige feesprogram as PDF af by aardklop.co.za, of tel ’n afskrif van die programboekie by die feeskantoor in Potchefstroom op.
Momentum Beleggings Aardklop
24–29 September, Potchefstroom
Webblad: aardklop.co.za
Facebook: Aardklop Nasionale Kunstefees
Instagram: @aardklopkunstefees
X: @AardklopFees
#hierkomons
#aardklop2024
Medianavrae: 087 527 002


Kommentaar
Kan nie wag nie! Hoogtepunt in my jaar!!