Persverklaring: Hoërskool Dramafees-wenners in Kaapstad aangekondig

  • 0

Die Hoërskool Dramafees, aangebied deur Artscape en Suidoosterfees van 18 tot 22 Augustus 2025, is met groot sukses afgesluit. Tien skole het gedurende die feesweek in Kaapstad meegeding en produksies van uitstaande gehalte gelewer.

Spoke, ’n produksie van Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas in die Noord-Kaap, het die gesogte titel “Produksie van die Fees” verower, asook twee bykomende toekennings.

Wenners per kategorie

  • Beste vertolking in ’n hoofrol: Francois Retief in Parel Vallei Hoërskool se produksie van ’n Pynappel op ’n pizza
  • Beste vertolking in ’n ondersteunende rol: Roslin Spires van Parel Vallei Hoërskool
  • Beste ensemble: Hoërskool Martin Oosthuizen vir Spoke
  • Beste tegniese bydrae: Martin Oosthuizen Hoërskool vir Spoke
  • Beste teks of verwerkte teks: Darryl Spijkers van Parel Vallei Hoërskool vir ’n Pynappel op ’n pizza
  • Beste regisseur: Lize-Mari Amann van Curro Durbanville Hoërskool vir Wolkekrabbers
  • Spesiale beoordelaars-toekenning: Khwela, ’n gemeenskapsorganisasie, vir Echoes of silence – in erkenning van hul innoverende gebruik van ’n eenvoudige stel en beligtingontwerp

Ander skole wat aan die fees deelgeneem het, was Makupula Sekondêre Skool, Hoërskool Bellville, Eros Hoërskool, Apex Hoërskool, Houtbaai Internasional Skool en Schoonspruit Sekondêre Skool.

Die paneel beoordelaars – Herman van der Westhuizen, Dara-Beth Kometz en Mbulelo Grootboom – het daarop gewys dat hul taak moeilik was weens die “uiters hoë gehalte” van vanjaar se inskrywings.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Artscape, het by die toekenningsaand op Vrydag gesê dat die fees se sukses in inklusiwiteit en ontwikkeling lê. “Dit skep stories wat hierdie jong mense se lewens uitbeeld en bring alle soorte mense bymekaar om mekaar se stories te ervaar en te verstaan.”

Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, het bygevoeg: “Die Suidoosterfees is trots om ’n vennoot te wees in hierdie fees wat ’n professionele omgewing aan hoërskoolleerders bied om hul kennis uit te brei. Ons hoop hullesal dié wonderlike ervaring op ’n betekenisvolle manier na hul gemeenskappe terugneem.”

Die toekenningsaand was ’n hoogtepunt wat ’n inspirerende week afgesluit het. In die Artscape Arena het dit deurentyd gevoel die toekoms van Suid-Afrikaanse teater gevoed en gevier word.

Die Hoërskool Dramafees is moontlik gemaak deur die ondersteuning van Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse regering, Netwerk24 en die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top