Persverklaring: Die beoogde onderwyswetwysiging

  • 0

Die Onderwyskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het met kommer kennis geneem van die taalklousule in die voorgestelde onderwyswetwysiging wat die taalbeleid in skole vierkantig in die hande van die onderwysdepartement plaas.

Die Akademie is daarvan oortuig dat die beheerliggame en ouergemeenskappe van openbare skole die onderwysbehoeftes van hulle spesifieke skole die beste ken en verstaan en dit is daarom van uiterste belang dat besluitneming oor taalbeleid van die betrokke instansie in húlle hande gelaat moet word.

Sou die Staat die mag hê om oor die medium van onderrig te besluit, bestaan daar ’n wesenlike gevaar dat leerders van die voordele van moedertaalonderrig ontneem kan word, veral gesien in die lig van die ideologiese stryd wat teen Afrikaans gevoer word.

Dat die beste onderrig in ’n leerder se moedertaal plaasvind, is al by herhaling deur talle studies bewys. In die woorde van Hermann Giliomee: “Opvoeding in die moedertaal anker die kind in sy gemeenskap en bied hom of haar ’n vertroude wegspringplek in die proses van volwassewording.” ’n Taalbeleid behoort op suiwer pedagogiese beginsels geskoei te wees en ’n lukrake verandering kan verreikende gevolge hê – selfs op sosiale en ekonomiese terrein.

Dit is vir die Akademie ook besonder ironies dat die waarde van moedertaalonderrig tans in Suid-Afrika ontken word, terwyl dit in ander Afrika-lande soos Kenia, Tanzanië en Ethiopië groot aandag kry.

Die Suid-Afrikaanse grondwet bepaal dat die staat daadwerklike maatreëls moet tref om die status van al ons land se amptelike tale te verhoog en hul gebruik bevorder. Dit is egter duidelik dat die regerende party nie die wil het om hierdie doelstelling te verwesenlik nie en dat taalgemeenskappe hul eie belange sal moet beskerm. Om hierdie rede ondersteun die Akademie, met sy besondere belang by Afrikaans, enige inisiatief wat op redelike wyse kapsie maak teen die totale verengelsing van onderwys in Suid-Afrika.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top