Persverklaring: ATKV-tak PEAAT bied aan Ma skryf matriek, ’n skreeusnaakse toneelstuk wat jy moet sien!

  • 0

Maak gereed vir ’n aand van lekkerlag en familiemanewales wanneer die ATKV-tak PEAAT (Port Elizabethse Afrikaanse Amateur Toneelvereniging) met trots Ma skryf Matriek aanbied, ’n opwindende gemeenskapsteaterproduksie wat ’n hoogtepunt op die plaaslike vermaaklikheidskalender gaan wees.

Geskryf deur die talentvolle Louis de Villiers, word die stuk vanjaar op die planke gebring onder die meesterlike leiding van die legendariese Marlene Thomasse-Pieterse. Ma skryf Matriek bied ’n unieke en komiese kykie in die chaotiese, maar bekoorlike, wêreld van die Taljaardt-gesin, hul kleurvolle en nuuskierige buurvrou en die sjarmante Doktor Smal, kom kyk wat gebeur as die matriarg van ’n gesin besluit om matriek in dieselfde jaar as haar jongste te skryf. Die produksie beloof om gehore weg te voer na die al te bekende warrelwind van die alledaagse gesinslewe, aangebied met ’n humoristiese kinkel en ’n deernis waarby almal sal aanklank vind.

Om by te dra tot die opwinding, is die produksie verheug om die bekende akteur Ruan Wessels op die verhoog te verwelkom. Wessels, bekend vir sy rolle in televisie- en filmproduksies soos Hoofmeisie, Kampterrein, Binnelanders en Wyfie is gereed om as matriekseun, Neelsie, ’n ekstra vonk na hierdie reeds prettige produksie te bring. Hy sal saam met ’n talentvolle plaaslike rolverdeling speel wat Emercia de Lange (as Bella Taljaardt), Daneel Strydom (Doktor Coert Smal), Melandri Koekemoer (Annatjie Taljaardt), Cobus Lombard (Sias Taljaardt), Mariné Botha (Lily Liebenberg) en Riaan Erasmus (Johan Erasmus), insluit.

“Ons is ongelooflik opgewonde om Ma skryf Matriek na die Oos-Kaapse gemeenskap te bring,” sê Emercia de Lange, voorsitter van ATKV-tak PEAAT. “Louis de Villiers se draaiboek is wonderlike woordmusiek, en Marlene Thomasse-Pieterse se regie het die Taljaardt-gesin werklik lewe laat kry op die verhoog op ’n manier wat beide snaaks en hartverblydend is. Met die toevoeging van Ruan Wessels glo ons dat hierdie produksie ’n onvergeetlike ervaring vir almal sal wees.”

Besonderhede oor die produksie:

  • Ma skryf Matriek speel van Dinsdag 15 Julie tot Saterdag 19 Julie 2025 by die Savoy-teater in Perridgevale, Gqeberha.
  • Aandvertonings: Alle aandvertonings begin om 19:30 met die uitsluiting van Saterdag, 19 Julie.
  • Matinee-opvoering: ’n Spesiale matinee-vertoning vind plaas op Saterdag 19 Julie om 15:00.
  • Finale vertoning: Die laaste vertoning is op Saterdag 19 Julie om 19:00.
  • Kaartjies kos R130 en is beskikbaar vir aankoop via Quicket of deur 082 632 4858 te kontak.

Moenie hierdie fantastiese geleentheid vir  ’n onvergeetlike aand van uit jou maag uit lag misloop nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top