Persverklaring: Afrikaans is ons almal s’n

  • 1

Brasse, bra’s en broeders. Sisi en suster. Staan nader, staan nader. Maak ’n plan of dala wat jy moet.

myl’paal  s.nw 1 (verouderd) Afstandspaal wat ’n afstand van een myl langs die grootpad aandui. 2 (fig.) Belangrike tydstip; gewigtige feit: ’n Mylpaal op ’n mens se lewenspad. ’n Verdere mylpaal bereik. 

Op 8 Mei 2025 word ’n groot mylpaal behaal wanneer die mooiste taal haar eeufees vier. Ja, Afrikaans as amptelike taal is volgende jaar ’n honderd jaar oud en álmal is genooi. 

Afrikaans is reeds baie ouer as ’n honderd jaar, maar dit was op 8 Mei 1925 toe Afrikaans, naas Engels, een van Suid-Afrika se twee amptelike tale geword het.

Afrikaans se voetspore lê oral – van die akademie tot die letterkunde, van die hof tot in die kerk, van vermaak tot die wetenskap. Vir een van die jongste tale in die wêreld het Afrikaans gewys dat sy ook een van die mees dinamiese tale is wat steeds groei – nie net in woordeskat nie, maar ook in die hoeveelheid mense wat dit praat.

Die Grondwet van 1909 het bepaal dat Nederlands en Engels die amptelike tale van die land sou wees, maar die nuwe Grondwet in 1925 het Afrikaans aan Nederlands gelykgestel en hiermee is dit, naas Engels, as amptelike taal erken.

Hierdie taal, wat aan die suidpunt van Afrika staanplek gekry het en soos ’n reusekremetartboom haar wortels geskiet het, het van kombuistaal gegroei na ’n taal wat vandag deur die derde meeste mense in Suid-Afrika gepraat word. Afrikaans is volgens die sensus van 2022 die derde grootste taal in die land – naas isiZulu (24,4%) en isiXhosa (16,3%) – met meer as 6,5 miljoen, oftewel 10,6% moedertaalsprekers in die land.

Afrikaans se geskiedenis is lank en kleurryk. Daar word reeds in 1671 aangeteken dat die Hollands wat in die Kaap gepraat word, nie meer soos die taal in die stamland klink nie. Die vroegste Afrikaans-Hollands wat uit die mond van die Khoi gekom het, is in die 1700’s opgeteken en die eerste geskrifte in Afrikaans was godsdiensonderrig wat slawekinders in 1807 in Arabiese letters geskryf het.

“Afrikaans is sag soos ’n vrou. Afrikaans kan ook hard wees soos ’n grondpad. Afrikaans is ons ma en ook ons kinders. Afrikaans is Hollands bruingebrand deur die Afrikason, gesnoei en vaartbelyn gemaak deur jare van sensuur en swaarkry,” het Koos Kombuis eens in ’n toespraak gesê.

Afrikaans Amptelik 100 sien hierdie veldtog as ’n geleentheid om gesprekke oop te maak tussen die verskillende taalgemeenskappe.

Dit gaan ’n inklusiewe feesjaar wees wat alle Afrikaanssprekendes gelyke geleentheid gaan bied om deel te word van die fees. Vir Afrikaans Amptelik 100 is elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans belangrik en gaan dit gevier word.

Om ’n diverse gemeenskap van mense wat lief is vir Afrikaans in al haar variëteite te verenig, haar hele verlede te erken en saam eienaarskap te neem vir haar toekoms is deel van Afrikaans Amptelik 100 se visie; versoening, verering en ’n viering vir almal wat die taal in al haar vorme praat.

Van nou tot dan is daar verskeie projekte en aksies saam met medewerkers en vennote om hierdie groot mylpaal te vier – van skolekompetisies, entrepreneursprojekte, nuwe storieboeke tot kompetisies van liedjies skryf en kosmaak. Die belangrikste van alles is dat almal se Afrikaans gevier gaan word – van Standaardafrikaans tot Kaapse Afrikaans, van Gariep-Afrikaans tot Afrikaans noord van die Oranjerivier.

Afrikaans as taal is ’n huis met baie kamers en dit is juis daardie diversiteit en kragtigheid wat gevier gaan word. Dié veldtog maak die deur wyd oop om almal welkom te laat voel en in te sluit by die groot gesin van Afrikaans.

“8 Mei 1925 sal onthou en herdenk word as een van die mylpale in die geskiedenis van die relatiewe jong Afrikataal,” sê Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en-monument. “Die vraag is egter vir wie en wat? Afrikaans se amptelike eeufeesvieringe bied dus die geleentheid en platform om die diverse oorsprong en wortels van die Afrikataal te herontdek, te vier en te herbesin oor haar verlede, hede en toekoms. Ook erkenning te gee aan die ontwikkeling van Afrikaans op ’n holistiese vlak as spreektaal en ’n dialoog te voer oor heersende vraagstukke en kwessies en die talle ongemaklike vrae. Voorts bied die vieringe ook die geleentheid vir die herposisionering van Afrikaans, as inheemse taal binne ’n vernuwende, moderne, veeltalige Afrika-konteks.”

Die span wat Afrikaans Amptelik 100 koördineer, is Giep van Zyl (nasionale koördineerder) en René Arendse (nasionale adjunk-koördineerder).

Indien jy as individu, instansie of besigheid betrokke wil raak, besoek afrikaans100.org en ondersteun ons veldtog deur die aanlyn vorm te voltooi. Of kontak ons gerus by info@afrikaans100.org

Almal is genooi. Jy, jy én jy.

Maak nie saak in watter kamer jou Afrikaans woon nie, solank jou hart vir die mooiste, wondersoetste taal klop. Volg ons op sosiale media by afrikaans100 om elke kompetisie en opwindende gemeenskapsuitreik te volg.

Awê. Dis dan dit. Net soe!

Meer inligting oor onder meer die projek as geheel, die missie en visie asook die vennote wat reeds die manifes geteken het en só hulle ondersteuning gegee het, is te kry op https://afrikaans100.org.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Jeremy Vearey

    HOE NOU BRUIN KOEI?

    Ek lees vanoggend in die Burger-koerant dat die kerk van my siel, die Moraviesekerk op Genadendal, ingekoop het tot hierdie Afrikaans Ampelik 100-feesideë. Dan het hulle, van waaronder ook al hulle uitkruip, nog die vermetelheid om die kerk se eerste druk van Afrikaanse gesangboeke met feespropaganda te verbind. En ingekoop is die juiste en gepaste woord om hierdie klas van mistasting te beskryf.

    Of moet ek liewers in my 1980’s UWKaans ‘' gelaaide vraag vra:
    Wat se klas van anakronistiese, ahistoriese, klas van kleinburgerlike presentisme is die?
    Of, in Afrikaaps — Watse klas van nou se kak isse die?

    Maar miskien is dit nie so ‘
    'n vreemde versinsel in ons land nie. Ons leef immers in tyd waar die regering, vir een of ander eiesinnige rede, met wit regse pro-Trump minderheidsgroepe onderhandel wat hulsef as ware Afrikaners wanvoorstel.

    So kaantie wies ek, julle, ons, en die groter ons dan nou?
    Wat het geword van die verruiming van die begrip Afrikaanssprekendes en Afrikaners wat so die gier was voor hierdie sikofantiese mistasting?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top