Perspektiewe op ’n postkoloniale Suid-Afrika en die Afrikaanse universiteit

  • 4

Vir selfs die mees terloopse waarnemer van die nuusmedia en aktuele sake moet dit duidelik wees dat die Suid-Afrikaanse politiek en samelewing ’n nuwe, oftewel ander, fase betree het. Terwyl ons teen hierdie tyd geakklimatiseer het tot voorheen opspraakwekkende kwessies soos gewelddadige diensleweringproteste, magsvergryping en korrupsie deur politici, ’n ekonomiese groeikoers wat op die randjie van ’n resessie huiwer, en ’n permanente siklus van arbeidsonrus, het die afgelope paar maande selfs nuwer en meer kontensieuse kwessies opgelewer. Suid-Afrikaners het 2015 afgesluit te midde van onstuimighede op die land se universiteitskampusse, en 2016 begroet met ’n hernude en meer diepgaande rassespanning. En kompleet asof die eerste twee maande van die jaar nog nie vir genoeg opwinding gesorg het nie, moet daar nog landswye plaaslike verkiesings plaasvind, en sal ander sensitiewe kwessies soos grondhervorming en -onteiening, die nasionalisering van natuurlike hulpbronne, en die ANC-leierskapsopvolgstryd landsburgers se optimisme tot die uiterste beproef.

Hoe maak ’n mens sin van hierdie nuwe golf van sosiopolitiese onstabiliteit wat, klaarblyklik, na die 2014 nasionale verkiesing momentum opgetel het? Wat beteken so ’n tydsgees vir Suid-Afrikaanse universiteite in die algemeen, en Afrikaanse instellings in die besonder?

Die antwoorde op hierdie dringende vrae lê grootliks in die verskynsels van die Suid-Afrikaanse politiek se “skuif na links” en die ontwaking van ’n postkoloniale bewussyn. Die migrasie van politieke en samelewingskragte wat met hierdie begrippe veronderstel word, is direk verantwoordelik vir die opbloei van protes en hernude radikale bewussyn wat ons tans aanskou, nie net in die konvensionele politiek nie, maar ook op universiteitskampusse landswyd.

Die sosiopolitiese radikalisering van die Suid-Afrikaanse samelewing

Die bykans 22 jaar oue Suid-Afrikaanse demokrasie is sinoniem met ’n progressiewe politieke bedeling. Hierdie progressiewe agenda word vergestalt deur die ANC, as die “nasionale bevrydingsbeweging” en dominante politieke dryfkrag in die demokratiese era. Siende dat apartheid as staatsideologie as aartskonserwatief en selfs reaksionêr beskryf kan word, is dit heel natuurlik dat ’n anti-apartheid-bevrydingsbeweging die ideologiese teenpool sal beklee. Dus verseker die ANC se marxistiese ideologiese identiteit, verweef in die beweging se DNS, dat ’n progressiewe impetus ’n onontbeerlike eienskap van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing sal wees vir die voorsienbare toekoms.

Sentraal tot die identiteit van dié party staan die begrip van ’n nasionaal-demokratiese revolusie (NDR), die ideologiese hoeksteen van die regerende party. Die meeste Suid-Afrikaners het dus al kennis gemaak met die waardes van die NDR, al is dit deur middel van die geykte mantra van ’n “nierassige, nieseksistiese, verenigde en demokratiese samelewing waarin rykdom verdeel word tot voordeel van alle burgers”. Sodanige resultaat word beskryf as die nasionaal-demokratiese samelewing, en is die uitkoms van die suksesvolle revolusie wat die NDR veronderstel – asook die wesenlike teenoorgestelde samelewingsbeeld as dié van ’n apartheidsbestel.

Die praktiese uitwerking van hierdie ideologie na 1994 is te bespeur in die ongekende ontwikkeling en materiële vooruitgang van die meeste Suid-Afrikaanse burgers, wat voorheen gemarginaliseerd was as gevolg van apartheid. Toegang tot behuising, die uitbreiding van basiese dienste soos lopende water en elektrifikasie en die daarstelling van ’n omvattende welvaartstaat verteenwoordig die vrugte van die ANC se progressiewe missie, gegrond in die NDR.

Hierdie tasbare uitkomste, tesame met die legitimiteit van die ANC as bevrydingsbeweging, het genoegsame politieke momentum opgewek vir die party (en opeenvolgende regerings) om heerskappy te verseker. Inderdaad, die ANC beskou homself as die enigste gesaghebbende vertolker van progressiewe waardes in Suid-Afrika, en die NDR as die volkome bron van hierdie waardes. Dit is dus nie ’n willekeurige stelling dat die party sal “regeer tot die wederkoms” (volgens Jacob Zuma) nie.

Dit is egter ironies dat die relatiewe suksesse van die ANC na 1994 die saadjie bevat van die party se uiteindelike verlies aan politieke dominansie, en selfs politieke mag. Hierdie prognose is gegrond in ’n welbekende begrip in die politieke wetenskap, naamlik dié van eskalerende verwagtinge. Kortliks behels dit dat vlakke van ontevredenheid met sosio-ekonomiese omstandighede en politieke frustrasie ná aanvanklike behoeftebevrediging, eerder toeneem as afneem. Vir dié wat dus blootstelling gehad het aan verhoogde materiële welvaart en die uitbreiding van sosio-ekonomiese vooruitgang is die verwagtinge aangaande soortgelyke toekomstige voordele veel hoër as vir dié wat nie daaraan blootgestel is nie.

Hierdie skynbare kontradiksie word aangeraak deur Ben Turok (2012) as hy skryf:

It is possible to demonstrate that South Africa has achieved more in improving the lives of its people than many within the country admit. So why do we have the opposite impression from press reports, especially concerning service delivery protests? [The] answer accords with academic writing on revolution: people are stimulated to struggle when there seems to be a turn of the tide of misery. When the masses sense the opening of new possibilities, they gain in confidence and resort to mass action.

Hierdie wetmatigheid verklaar grotendeels hoekom landelike gebiede aansienlik minder politieke onstuimigheid beleef in vergelyking met stedelike gebiede, ten spyte daarvan dat plattelandse dienslewering en lewenskwaliteit aansienlik laer is as in die metropole.

Die ANC se politieke toekoms word ook bedreig deur die relatiewe suksesse van die onmiddellike postapartheid tydperk. ANC-ondersteuners en landsburgers wat blootgestel is aan die vrugte van progressiewe regeringsbeleid en ’n welvaartstaat eis nou vinniger en meer omvattende verandering, in teenstelling met die konvensionele wysheid dat behoeftevoldoening permanente bevrediging bring. Vandaar die toename in gewelddadige diensleweringsproteste, uitgebreide en voortslepende arbeidsonrus, asook die ontluiking van nuwe progressiewe en (toenemend) radikale politieke akteurs.

Die ontwaking van ’n nuwe radikale bewussyn in die Suid-Afrikaanse politiek is die noodwendige uitkoms van ’n politieke omgewing waar progressiewe (in plaas van sentristiese) waardes die ideologiese status quo verteenwoordig, en waar die sosio-ekonomiese verwagtinge vinniger ontstaan as wat dit bevredig kan word. Te midde van so ’n dinamiese en vlugtige politieke klimaat word politieke akteurs en partye voor ’n eenvoudige keuse geplaas: herposisioneer ideologies en beleidmatig na links, of kwyn. As gevolg van hierdie realiteit was die nasionale verkiesing in 2014 ’n waterskeiding in die Suid-Afrikaanse politiek. ’n Daadwerklike skuif na links wat in die oploop tot die verkiesing geantisipeer was, is deur die uitslae bevestig. Waar die ANC vantevore die enigste noemenswaardige rolspeler in die progressiewe en soms radikale linkervleuel van die Suid-Afrikaanse politiek was, het die DA hom ook voor die verkiesing takties beleidmatig en simbolies herposisioneer as ’n sosiaal-demokratiese beweging. Hierdie skuif is voltrek ten koste van die party se klassieke liberale karakter, wat bloot net nie dieselfde aantrekkingskrag en charisma kan opwek in die huidige politieke tydsgewrig nie. Die uitslae het dit bevestig, en die DA se stempersentasie het gegroei van 16% tot 22%. Natuurlik was die duidelikste radikale trompetgeskal van die 2014-verkiesing die debuut van die Economic Freedom Fighters, wat die verkiesingslagveld betree het met skynbaar perfekte tydsberekening, gekombineer met opportunistiese (dog hoogs doeltreffende) steekaanvalle, ’n miljoen stemme ingepalm het en sodoende die politieke landskap onherroeplik verander het. Vir die eerste keer word die ANC deur opposisiepartye doeltreffend uitgekryt as reaksionêr en ’n struikelblok tot spoedige sosio-ekonomiese verandering. Tydens die nabetragting van die 2014-verkiesing kan een duidelike gevolgtrekking gemaak word: die toekoms van die Suid-Afrikaanse politiek lê nou, meer as ooit vantevore, in die hande van die radikales.

Tog sou dit naïef wees om aan te neem dat die ANC onbewus was van hierdie getyverandering. Ingevolge die NDR word die struggle vir Suid-Afrikaanse bevryding in twee fases voltrek. Die eerste fase was die suksesvolle politieke oorname van mag in 1994 en die grondwetlike demokrasie wat daaruit voortgespruit het. Binne die verwysingsraamwerk van die NDR word hierdie oorgang (tesame met die 1996-Grondwet) beskou as ’n politieke kompromie wat aangewend is om politieke mag te bekom. Die Grondwet word beslis nie beskou as die onaantasbare hoeksteen van ’n outentieke Suid-Afrikaanse Rechtsstaat nie, en nog minder as verhewe bo die party se ideologie. Die ANC hou vol dat “the constitution and the state system provide the requisite wherewithal to implement the objectives of the NDR.” Hier val die fokus op die beheer van die sogenaamde levers of power van die staat, wat bekom word deur middel van kaderontplooiing en die vervlegting van party en staat. Dit is dus duidelik dat, soos Zuma onlangs erken het, die belange van die party altyd vooropgestel word.

Na dié eerste fase en die verowering van politieke mag volg daar ’n tweede fase wat gedryf word deur “a vision for a second transition that focuses on the social and economic transformation of South Africa over the next 30 to 50 years” en wat klem plaas op “the character and values of the ANC as a revolutionary people’s movement”. Dit is hierdie tweede, sosio-ekonomies revolusionêre fase wat die dryfkrag is agter hernude pogings tot grondhervorming, onteiening, ontneming en versnelde swart ekonomiese bemagtiging na die party se 2012 Mangaung-konferensie.

So het die Suid-Afrikaanse politieke landskap oor die afgelope vier jaar ’n tektoniese verskuiwing ondergaan met die gevolg dat dit nou, tot ’n groot mate, ’n arena van radikale wedywering verteenwoordig. Vir die arm en gemarginaliseerde massas is een ding duidelik: hulle verwagtinge is steeds onvervuld en 20 jaar na bevryding is hulle steeds arm en gemarginaliseerd.

En vir Afrikaans as akademiese en onderrigtaal pak die wolke saam.

Die ontstaan, betekenis en verstryking van die postapartheid tydperk

Terselfdertyd dat hierdie politieke migrasie na die radikale uitspeel, vind daar buite die domein van die geïnstitusionaliseerde politiek ’n ewe ingrypende verandering plaas in die psige van die Suid-Afrikaanse samelewing. Welke verskynsel op hierdie stadium die rol vervul van oorsaak of gevolg is nie duidelik nie, maar die radikalisering van die politieke bestel geskied hand aan hand met die afswering van die nosie van postapartheid en die verwerkliking van ’n postkoloniale orde. Alhoewel laasgenoemde verband hou met ’n bepaalde politieke klimaat, is dit ’n meer diepliggende en potensieel ingrypende verwikkeling wat wyer as net in die politiek neerslag sal vind.

Die postapartheid epog is vir alle doeleindes iets van die verlede. Tog is dit belangrik om die betekenis en inhoud van die begrip postapartheid te verken, veral omdat dit ’n daadwerklike invloed het op die tydperk wat daarop gaan volg.

Die betekenis van postapartheid is veel meer as bloot dít wat kronologies ná apartheid gevolg het – dit was nie (en kon nooit wees nie) die blote voortsetting van die Suid-Afrikaanse geskiedenis na die trauma van apartheid nie.

Op die vooraand van apartheid se afskaffing was daar twee deurslaggewende internasionale realiteite wat verreken moes word. Eerstens was die Koue Oorlog verby, met die kommunisme verslaan, en die drieledige liberaal-demokratiese vryemark het hoogty gevier. Tweedens was die politieke ontwikkeling en verval van postkoloniale Afrika ’n alombekende en diepbetreurde realiteit.

Vir ’n bevrydingsbeweging wat daarna gehunker het om as regerende party die land uit isolasie te bring en te midde applous weer ’n deel te word van die internasionale orde, was hierdie twee realiteite bepalend gewees. Dit het beteken dat, in teenstelling met die ANC se ideologiese beginsels, ’n vryemark en neoliberale ekonomiese houding ingeneem moes word en dat ’n nuwe regering homself sou moes toespits op versoening, eerder as vergelding. Hierdie koers was lynreg in stryd met die verwagtinge van die meer militante en radikale denkstrome binne die party. Gevolglik was die voorhoedeparty van sy revolusie ontneem, en so ook die bevrydingsvegters wat die materiële en simboliese infrastruktuur van wit bevoorregting wou vernietig om ’n gesuiwerde, nuwe orde in te lyf.

In ruil vir hierdie teleurstelling was daar die WVK, ’n onderhandelde grondwet en ’n nuwe, burgerlike nasionalisme gebaseer op versoening en vergifnis – nie ’n trotse, radikale en militante Afrika-nasionalisme nie, maar ’n glanstydskrif-reënboognasionalisme – een wat Jeremy Cronin (1999) destyds beskryf het as “a candy-coated myth of peace”. Dit is na hierdie diskontinu dat Achille Mbembe (2015) verwys as hy skryf: “[South Africa] is the only country on earth in which a revolution took place which resulted in not one single former oppressor losing anything.”

Met verloop van tyd het dit duidelik geword dat hierdie versoeningsgesindheid in stryd was met die ware karakter en ideologie van die ANC. Gevolglik word daar vandag erken dat die versoeningsgerigtheid van die party en regering in die onmiddellike postapartheidsjare grootliks te danke was aan die invloed van Nelson Mandela en sy oorweldigende persoonlike en politieke statuur.

Vir die ANC was dit tydens die struggle-jare deurgaans belangrik om die stryd teen apartheid te vereenselwig met die antikoloniale winde van verandering wat die res van die Afrika-kontinent beleef het. Vandaar die deftige konseptualisering van apartheid as “colonialism of a special type”. Met die kwyn van Mandela se wesenlike invloed in die party teen die laat 1990’s het die ANC begin terugkeer na ’n ortodokse Afrika- nasionalistiese beskouing wat meer belyn was met die progressiewe sosialistiese karakter van die party se kernideologie. Die aggressiewe (maar dikwels ondoeltreffende) implementering van beleide soos swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, en ’n beheptheid met die nabootsing van rassedemografie op soveel terreine as moontlik, was indikatief van die verskuiwing vanaf versoening en burgerlike nasionalisme na ’n nouer-gedefinieerde etniese Afrikanisering.

Vir die politieke elite wat hierdie agenda gedryf het, het hierdie periode ’n versnelling van die moontlikhede tot selfverryking verteenwoordig. Dit is heel moontlik tydens hierdie tydperk in die vroeë 2000’s dat herhaalde politieke skandale en korrupsie tot so ’n mate toegeneem het dat ons vandag grootliks vir politieke knoeiery en vergrype gedesensiteer is. Dit was ook tydens hierdie tydsgewrig dat die eerste saadjies van ’n egte postkoloniale Suid-Afrika ontkiem het.

Dus verteenwoordig die werklike postapartheid tydperk nie net dít wat ná apartheid gevolg het nie, maar inderdaad die antitese van apartheid. Waar apartheid gefundeer was op beginsels van uitsluiting, segregasie en diskriminasie, was die postapartheid etos gebou op waardes van inklusiwiteit, integrasie en versoening – dit het, met ander woorde, gepoog om ’n “nuwe Suid-Afrika” te vergestalt wat die wesenlike teenoorgestelde was van die verlede.

Vandag is dit duidelik dat so ’n postapartheid bedeling nooit werklik gekonsolideer was nie en dat die unieke gees wat dit veronderstel het, ook nie blywend kon wees nie. Veral in radikale en studentegeledere word die begrip postapartheid afgemaak as ’n mislukking en ’n onreg op sigself. Die mees kragdadige uitdrukking van hierdie gevoel brandmerk selfs vir Nelson Mandela as ’n verraaier van progressiewe swart belange – ’n voorheen ondenkbare laster van die struggle se heiligste ikoon.

Die ontluiking van ’n postkoloniale realiteit

Met die verstryking van die postapartheid era is Suid-Afrika besig om ’n postkoloniale toekoms te betree. Die afgelope dekade getuig van ’n sosiopolitiese omgewing wat al meer die bekende postkoloniale realiteit van ander state in Afrika weerspieël. Politieke konflik is alomteenwoordig, omdat gekompromitteerde politieke instellings nie kan (of wil) bemiddel tussen politieke behoeftes en aansprake nie. Ondoeltreffende leiers word lamgelê tussen die oorweldigende uitdagings van die staat en samelewing, en ’n nimmereindigende kringloop om partylojaliteit te konsolideer. Staatsinstellings se kapasiteit word uitgehol om die guns en samewerking van ’n nuwe klas gekonnekteerde politieke bourgeoisie te verower. Intussen groei die geledere van die armes en verontregtes en word gewelddadige protes die nuwe modus van politieke deelname.

Dit weerspieël kompleet Huntington se pretoriaanse samelewing, waar “the wealthy bribe; students riot; workers strike; mobs demonstrate; and the military coup”.

Sodanige frustrasie vind egter nie net in gewelddadige protes ’n uitlaatklep nie, maar ook in die identifisering van ’n “ander” waarop blaam geplaas kan word vir onvervulde verwagtinge en terugslae. Gevolglik word buitelanders van ander Afrikastate geteiken in xenofobiese aanvalle, terwyl rassespanning en die toewys van blaam onder Suid-Afrikaners toeneem. Die versoeningsgees van die postapartheid tydperk is weliswaar verby. Die interlude wat Suid-Afrika uitgesonder het as ’n “wonderwerk”, het verstryk, en die kenmerkende sosiopolitiese patrone en tendense van die postkolonie tree al sterker na vore.

Net soos postapartheid, beteken ook postkoloniale veel meer as bloot dít wat outomaties na kolonialisme ontstaan. Postkoloniale het ook ’n doelbewuste, krities-konsepsuele inhoud wat iets veel meer omvangryks behels as die blote verloop van tyd. Ter illustrasie hiervan verskaf die politieke wetenskaplike Ali Mazrui (1996) ’n insiggewende perspektief wat ek breedvoerig hier deel:

We used to think that decolonization consisted of the nationalist struggle against colonialism, the granting of independence, and the replacing of colonial symbols of authority with national flags and national anthems. Decolonization was complete, we thought, when colonially educated members of the African elite, the author included, came to the fore, and when some of us […] inherited the reins of the colonial state from our colonial masters. The question that has arisen lately, however, is whether real decolonization is not the winning of formal independence, not the changing of the guard on independence day, the raising of new flags, or the singing of new national anthems, but the collapse of the colonial state itself, the cruel and bloody disintegration of colonial structures. Liberation and decolonization can no longer be equated.

Waaroor Mazrui dus hier bespiegel (in ooreenstemming met denkers soos Franz Fanon) is of die toksiese nalatenskap en “strukture van dominasie” van kolonialisme enigsins verwyder kan word alvorens dit nie “gesuiwer” word nie – deur bloed, indien nodig. Derhalwe kan ’n egte en outentieke postkoloniale samelewing net verrys uit die puin van ’n verwoeste kolonialisme, soos ’n spreekwoordelike feniks uit die as. Vir die voornemende erfgenaam van hierdie bedeling lê daar dus ’n plig om die simboliese, geestelike en materiële manifestasies van koloniale instellings te vernietig, en in sy/haar eie gelykenis te herskep. Dit beteken, tot ’n mindere of meerdere mate, die afswering van “die Weste” (immers die oorsprong van kolonialisme) en die voltrekking van verinheemsing en Afrikanisering, asook die verwerping van “witheid” en die herontdekking van swart bewussyn.

Waarlik, die tyd vir hierdie ontwaking in Suid-Afrika is ryp. In 2014 het die sogenaamde vrygeborenes vir die eerste keer in ’n nasionale verkiesing gestem. Van hierdie generasie moet daar die volgende verreken word: hulle het geen belewenis van die einde van apartheid, die demokratiese oorgang en die postapartheid versoeningsgees nie; die meeste van hulle het, ten spyte daarvan dat hulle vry gebore is, in armoede grootgeword; hulle beskou die voortslepende sosio-ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika as ’n mislukking van postapartheid politiek; en hulle is oud genoeg om outonoom aanspraak te maak op die bevrediging van hulle politieke behoeftes. Hierdie realiteit is ver verwyder van die hoop wat gekoester is van ’n jeug wat onder ’n demokratiese bestel gebore is en wat deur middel van gerieflike geheueverlies en/of histories-kulturele dissonansie verlos sal wees van die nagevolge van apartheid.

Soos Ferial Haffajee (2015) opgemerk het: “We have a lot of South Africans, I think more than we would care to acknowledge or admit, who really believe that the Mandela-era, the rainbow nation, the transition from apartheid to democracy hasn’t really meant anything.”

Vir hierdie generasie moet die geskiedenis wat hulle voorafgegaan het, opnuut krities ondervraag word en van sin gemaak word.

Tendense vervleg: radikale politiek, postkolonialisme en die aanslag op die verlede

Tot dusver is daar klem geplaas op twee afsonderlike maar verwante tendense, naamlik die radikalisering van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing en die aanvang van wat beskryf kan word as ’n postkoloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse samelewing. Tans aanskou ons hoe die onderskeie dinamika van die politieke en samelewingsdomeine vervleg, asook hoe die twee strominge mekaar beïnvloed, motiveer en hervitaliseer op verskeie ander terreine – insluitend universiteitskampusse.

Hierdie tendens is duidelik op ’n simboliese vlak te siene. Met die noodsaak vir versoening gegrond in die postapartheid verlede, word die oorblyfsels van koloniale en apartheidsimboliek opnuut in die visier gestel. In die proses van postkoloniale herskepping, hoekom is dit dan nodig om enigsins die letsels van die verlede te verduur?

Dit is hoekom die #RhodesMustFall-inisiatief so vinnig momentum gegenereer het, en die gees van studenteprotes so effektief op ander universiteite en kampusse nageboots is. Terselfdertyd is ander standbeelde regoor die land weens koloniale of apartheidsassosiasies beskadig. Hier, vir die eerste keer na apartheid, word die koloniale erfenis daadwerklik afgebreek en verwoes – nie verdra deur vergifnis en versoening nie.

Tog strek hierdie beweging veel verder as net die simboliese. Ook op die terrein van die politiek kan mens verwag dat die radikale impuls sal versnel en verdiep. Nuwe politieke akteurs sal opportunisties inspeel op die eise van ’n vervreemde jong generasie, terwyl die ANC sy tweede fase met meer dringendheid sal aanpak in die hoop om steun te behou. Sake wat direk en meedoënloos onder die politieke vergrootglas geplaas gaan word, sluit in grondhervorming, voortdurende ekonomiese ongelykheid, rassespanning en die plek en rol van minderhede. Daar sal gepoog word om meer radikale antwoorde op hierdie vraagstukke te vind, en daar sal gewys word op die mislukking van inkrementalisme en onderhandeling tydens die afgelope twee dekades.

Die Afrikaanse universiteit in ’n postkoloniale Suid-Afrika

Terugskouend is dit nie verbasend dat die eerste salvo van ’n ontluikende postkoloniale bedeling op universiteitskampusse afgevuur is nie. Dit het nie noodwendig gebeur as gevolg daarvan dat universiteite broeikaste is vir nuwe en dikwels radikale idees en die bevraagtekening van die status quo nie. Alhoewel dit so mag wees, was dit nie die rede agter die revolusionêre gety van #FeesMustFall nie. Universiteite was om demografiese en sosio-ekonomiese redes by verstek bestem om die lokus van hierdie ingrypende ontwrigting te wees.

Die eerste van hierdie redes is dat die postkoloniale generasie bloot aanspraak maak op dit wat voorheen belowe is: “the doors of learning and culture shall be opened!” (aldus die Freedom Charter). Hierdie belofte word nie deur hulle geïnterpreteer met ’n klousule van onderhandeling of met voorwaardes nie.

’n Tweede rede hou verband met die inherente karakter van universiteite as elite-instellings. Aansoekers word gekeur en op grond van meriete word die beste kandidate aanvaar. Volgens ’n klassieke universiteitsbeskouing is universiteite kweekhuise van intellektuele uitnemendheid, tot stand gebring in die strewe na geldige en betroubare kennis. So ’n beskouing is ook, per definisie, eksklusief en beteken dat veel minder individue sal slaag in die voltooiing van tersiêre opleiding as wat daar aspirante is. Te midde van ’n radikale en postkoloniale tydsgees waarin die status van die elite en die oorgedraagde voorregte van die verlede bevraagteken word, is dit moeilik om die eksklusiewe karakter van ’n universiteit te verdedig.

Derdens beskik die meeste Suid-Afrikaanse universiteite (en beslis die mees gesogte van dié instellings) oor ’n noodwendige Westerse institusionele etos, met dominante taal-kultuur-komplekse wat óf ’n wit Engelse óf ’n wit Afrikaanse erfenis weerspieël. Vanuit ’n postkoloniale paradigma is sulke universiteite institusionele monumente wat die taal en kultuur van die kolonialis en die onderdrukker verheerlik.

Vierdens is universiteite openbare instellings wat afhanklik is van staatsbefondsing. Vanuit ’n progressiewe beskouing is hierdie realiteit moeilik versoenbaar met ’n instelling wat as sosiaal, ekonomies, talig en kultureel eksklusief beskou word.

Kortom vergestalt universiteite die mees ooglopende teikens vir ’n jong generasie wat streef na die radikale hervorming van ’n ongelyke samelewing en smag na die bemagtiging wat met tersiêre opvoeding gepaard gaan. Derhalwe, as universiteite bydra tot die voortsetting van koloniale patrone van bevoorregting en die marginalisering van arm, jong en swart Suid-Afrikaners, moet dit op revolusionêre wyse herskep word – hindernisse ten opsigte van toegang moet verwyder word; klasgelde moet geskrap word; institusionele kultuur moet verinheems word; kurrikula moet gedekoloniseer word en ver-Afrikaniseer; universiteite moet instrumente word van maatskaplike ontwikkeling en die akademie moet haarself aktivisties beywer vir sosiale geregtigheid.

Die vraag ontstaan dus of daar binne hierdie klimaat plek is vir ’n postkoloniale, Afrikaanse universiteit.

’n Postkoloniale (Suid-) Afrikaanse universiteitswese?

Oor die afgelope paar maande is die plek en rol van Afrikaans as onderrigtaal by universiteite opnuut onder die vergrootglas geplaas. Ek gaan nie hier inweeg op die diskoers rondom die taalkwessie spesifiek nie, maar eerder lig probeer werp op die besondere tydsgees wat nou heers en wat dit vir die Afrikaanse universiteitswese beteken. Die grootste algemene perspektief wat ek in hierdie verband wil oordra, is reeds in hierdie essay bespreek, naamlik die versnelde radikalisering van die politiek en die opkoms van ’n postkoloniale tydperk in Suid-Afrika. Daar is egter ’n paar meer spesifieke punte waaraan aandag geskenk moet word.

Eerstens word die Afrikaanse taal in sekere geledere beskou as ’n koloniale oorblyfsel. Al is dit nie die taal van Rhodes en imperiale kolonialisme nie, is dit steeds dié van ’n “colonialism of a special type”. Hierdie persepsie het Afrikaans toenemend onder skoot begin plaas, veral in die openbare domein. By universiteite word die bona fides van die bestaan van Afrikaans nie erken nie. Die argument dat Afrikaans ’n rol het as ’n hoërfunksietaal van wetenskap en onderrig word bestry met oordrewe politieke standpunte. Volgens die meer gematigde van die hierdie standpunte dien Afrikaans hoofsaaklik as ’n middel tot die preservering van elitistiese wit bevoorregting, terwyl ander meen dat enige konsentrasie van Afrikaanssprekendes ’n “apartheidsenklawe” vergestalt, aldus Blade Nzimande.

Tweedens word sulke rasbehepte standpunte gewoonlik in gerieflike stereotipes gefundeer. Dus is ’n Afrikaanse universiteit outomaties ’n Afrikaner-universiteit, wat eksklusiewe Afrikaner-belange dien. So ’n perspektief misken die feit dat die meeste Afrikaanssprekendes bruin is, en dat die bruin gemeenskap ook aanspraak maak op onderrig in Afrikaans.

Derdens, en in aansluiting by bogenoemde, word die ruimtes wat deur minderhede gedefinieer word in die openbare domein, toenemend gesmoor. Omdat openbare instellings deur die staat befonds word, moet sodanige besteding staatsprioriteite weerspieël. In die konteks van die ANC-regime behels dit die ideologiese voorvereistes van die NDR, en in besonder die konsep van demografiese verteenwoordigendheid. Gevolglik moet die demografiese samestelling van openbare instellings (waaronder ook universiteite tel) gemanipuleer word om ’n voorafbepaalde verhouding te weerspieël – dit is die NDR se interpretasie van die begrip nierassigheid. In die praktyk beteken dit dat minderheidsgroepe nêrens in die domein van openbare instellings ’n kultuur- of taalgedefinieerde meerderheid mag vorm nie. Dit sluit natuurlik die moontlikheid tot institusionele differensiasie ook uit, waarvolgens aangewese universiteite na die behoeftes van “nismarkte” kan omsien. Demografiese verteenwoordigendheid is al oor die afgelope twee dekades in die meeste staatsinstellings voltrek, met die uitsondering van universiteite. Enersyds is dit as gevolg van die inherent elitistiese karakter van tersiêre onderrig, maar ook andersyds as gevolg van die hoë kwalifikasiedrumpel waaraan akademiese personeel moet voldoen. Die noodwendig stadiger pas van transformasie van veral die personeelkorps weens die unieke aard en vereistes van die universiteitswese word gevolglik opgestel as ’n politieke teiken, en aangeval as ’n poging tot die behoud van wit bevoorregting en rassisme in die openbare domein.

Vierdens: die amalgamasie van ’n radikale politieke momentum en ontluikende postkolonialisme beteken dat daar in hoër onderwys toenemend klem geplaas word op die verinheemsing en ver-Afrikanisering van die universiteit se kennisfunksie. Die intensie agter sogenaamde dekolonisering van die kurrikulum is om vakinhoud wat gegrond is in ’n Westerse verwysing, meer toeganklik te maak vir die student in die inheemse, Afrika-konteks. Die doel is dus om die geleefde samelewing, kultuur en waardes van die Suid-Afrikaanse student te versoen met die akademiese vakinhoud en daardeur die student te bemagtig tot beter intellektuele deelname. Alhoewel hierdie beginsel gegrond is op goeie voornemens, bly die besondere praktiese inwerkingstelling van so ’n hervormde kurrikulum onduidelik. Terwyl ’n verinheemsde paradigma moontlik in die geesteswetenskappe kan ontwikkel, waar normatiewe veranderlikes ’n beduidende rol speel, is dit moeilik om ’n soortgelyke projek in die natuurwetenskappe in te sien. Verder, selfs al kan ’n verinheemsde geestes- of sosiale wetenskappe tot stand gebring word, sal dit gedurig moet stry teen die provinsialistiese tendense en intellektuele bysiendheid wat inherent is aan ’n etnies- of kultureel-gefundeerde wetenskapsbeskouing.

Vyfdens moet die impak van radikale organisatoriese, institusionele en akademiese verandering verreken word in die konteks van internasionale mededingendheid. Sal Suid-Afrikaanse universiteite hul vermoë om in die internasionale kennisdomein te kompeteer kan behou of uitbou indien die akademie en institusionele kultuur in hoër onderwys toenemend insulêr ontwikkel en verinheems?

Ten laaste noodsaak die bogenoemde faktore ’n heroorweging van ’n Suid-Afrikaanse universiteitsbeskouing. Gegewe die agtergrond wat reeds geskets is, blyk dit dat die konvensionele universiteitsbeskouing van ’n elite-, meritokratiese instelling met wetenskaplike uitnemendheid as ononderhandelbare doelstelling, toenemend as polities uitgedien beskou word. Dit is reeds duidelik dat ’n postkoloniale universiteit ’n meer ontwikkelingsgerigte en aktivistiese karakter sal vergestalt. So ’n universiteit sal dien as ’n instrument van sosio-ekonomiese opheffing, bemagtiging en sosiale geregtigheid, en waarskynlik ook in diens staan van ’n bepaalde staatsbeskouing of ideologie. Terwyl daar geen twyfel moet wees dat universiteite ’n ontwikkelingsrol in die samelewing kan vervul nie (inderdaad, talle universiteite doen dit reeds), kan hierdie funksie nie die primêre bestaansrede van ’n universiteit wees nie. Die akademie en universiteitswese is oor eeue heen evolusionêr geïnstitusionaliseer om ’n hoogs gespesialiseerde kennisfunksie te vervul, terwyl daar ’n menigte ander instellings bestaan wat ontwikkelings- en opheffingsrolle speel – waarvan die staat die mees bekwame versameling van sodanige organisasies is.

Rakende die kwessie van ’n veranderende, postkoloniale universiteitsbeskouing wil ek selfs verder gaan en voorstel dat die verstaan van die Suid-Afrikaanse universiteit gepaard moet gaan met ’n alternatiewe universiteitsbeskouing. Gegewe politieke radikalisering en die militante instink wat intrinsiek is tot die postkoloniale jeug (en deeglik gedemonstreer is tydens die #FeesMustFall-veldtog), voorsien ek dat universiteite ten minste gedeeltelik ’n metamorfose sal ondergaan vanaf akademiese instellings tot politiese instellings. Hiermee bedoel ek nie “polities” in terme van ’n ruimte waar robuuste maar verantwoordelike diskoers en debat plaasvind nie. Ek verwys ook nie na ’n instelling waar teenstrydige intellektuele strominge die degens kruis oor dringende kwessies, op soek na oplossings nie. Ek voorsien eerder dat die universiteit nog ’n domein gaan word vir die kontestering van mag. Akademiese vryheid, universitêre waardes en die kennisfunksie self sal ondergeskik wees aan magspolitiek. Ras- en kultuuressensialisme sal verdraagsaamheid en intellektuele pluraliteit vervang, en moontlik met geweld afgedwing word. As die sukses van #FeesMustFall enige les inhou vir die intellektuele tradisie van die universiteitswese, is dit die steurende besef dat die fetisj van “swart pyn” alle middele veroorloof in die bereiking van politieke doelwitte.

Achille Mbembe (2015) beskryf die gevolge van hierdie verafgoding van die narratief van swart pyn en lyding soos volg:

Personal feelings now suffice. There is no need to mount a proper argument. Not only wounds and injuries can’t be shared, their interpretation cannot be challenged by any known rational discourse. Why? Because, it is alleged, black experience transcends human vocabulary to the point where it cannot be named.

Die ingrypende anti-intellektuele en irrasionele nagevolge van so ’n kultuur van outomatiese en onkritiese kwytskelding is bykans ondenkbaar in die konteks van ’n universiteit. Tog is dit juis by universiteite waar die slagspreuke “Fuck whites” en “Kill all whites” aangetref word, en vanuit dieselfde universiteite waar hierdie stellings verdedig en regverdig word as “an appropriate expression of black pain”.

Aan die hand van hierdie perspektiewe is daar vir die Afrikaanse universiteitswese baie om oor te besin.

Die toekoms van die Afrikaanse universiteit

Uit die voorgaande ontleding blyk dit duidelik dat Afrikaanse universiteite as ’n lewensgroot antagonis beskou word binne die omvang van ’n radikale en postkoloniale paradigma. Wat is dan die strategiese opsies vir Afrikaans in Suid-Afrikaanse hoër onderwys?

Ten spyte van die polarisasie en verharding wat gepaardgaan met die huidige politieke onstabiliteit, is dit dringend nodig dat die Afrikaanse universiteit haarself wend tot introspeksie. Dit is ongetwyfeld so dat ’n groot deel van die heersende onstuimigheid rondom Suid-Afrikaanse (en veral Afrikaanse) universiteite toe te skryf is aan opportunistiese magspolitiek en nie spreek tot die werklike doel van ’n universiteit in die samelewing nie. Tog is die kritiek van die gemarginaliseerde jeug nie sonder gronde nie. Weens die feit dat universiteite wesenlik bygedra het tot die ontwikkeling van die Afrikaanse taal en die Afrikanerkultuur (en ook omgekeerd), bestaan daar in sekere geledere ’n gees van besitlikheid by Afrikaanse universiteite. Hierdie sentiment word dikwels implisiet uitgedruk in ’n idioom van “ons” universiteit en “ons” taal wat deur “hulle” bedreig word. So ’n siening is begryplik vanuit die perspektief van Afrikaanssprekendes wat oor die afgelope twee dekades aanskou het hoe hul moedertaal in die openbare domein uitgerangeer is. Dit kan egter nie tot so ’n mate uitgeleef word dat dit die behoud van die taal by universiteite inkrimineer nie – want dit is juis die instinktiewe en reaksionêre “ons vs hulle”-beskouing wat gebruik word om die taal as instrument tot uitsluiting uit te beeld.

Afrikaans het nie meer die luuksheid om dogmaties te funksioneer in openbare instellings nie, en die fokus moet veel eerder val op ’n pragmatiese publieke ingesteldheid wat gekomplementeer word deur vernuwende inisiatiewe in die privaat domein. Met “pragmaties” word daar bedoel dat Afrikaans by universiteite slim bestuur moet word en daar gestry moet word teen boelietaktieke vanuit politieke geledere. Dit beteken dat Afrikaanse akademici en personeel universiteitsbestuurders moet aanspreeklik hou vir die strategiese besluite wat hulle neem, veral ten opsigte van taalbeleid en die uitlatings wat daarmee gepaardgaan. Terselfdertyd is dit ook nodig om realisties te wees oor die vooruitsigte van die taal in openbare universiteite. Dat daar ’n herlewing van die taal by voorheen Afrikaanse instellings soos UJ, UP en UV gaan wees, is hoogs onwaarskynlik, en die druk wat tans uitgeoefen word by die NWU en US rondom die taalkwessie, is alombekend. Weens die feit dat die voortbestaan van Afrikaans ten nouste saamhang met demografiese patrone, is dit noodsaaklik dat daar alternatiewe vir Afrikaans in die breër hoëronderwyssektor verken word, onafhanklik van tradisionele openbare universiteite.  

Gevolglik sal dit in die mark van privaat hoër onderwys wees waar Afrikaans se standhouding en vooruitgang verseker sal kan word. In vergelyking met die internasionale hoëronderwyssektor is daar maar ’n geringe aanbod van “privaat universiteite” in Suid-Afrika. Die verruimde outonomie waaroor ’n onafhanklike universiteit sal beskik, is ’n pasgemaakte oplossing vir die politieke druk wat op universiteite uitgeoefen word weens hul befondsing vanuit staatskoffers. Sodanige outonomie sal ’n instelling bemagtig om ’n nuwe, onbesmette institusionele kultuur te vestig, asook om ’n onafhanklike taalbeleid te formuleer en implementeer. In hierdie verband is instellings soos Aros en Akademia opwindende en bemoedigende inisiatiewe, wat reeds vordering gemaak het in die herposisionering van Afrikaans in hoër onderwys. Net die tyd sal leer of hierdie instellings sal ontwikkel tot die profiel van konvensionele navorsingsgedrewe universiteite en gesiene sentra van kennisontwikkeling.

Daar is egter ook sekere risiko’s wat vermy moet word in die totstandbring van ’n private Afrikaanse universiteitswese. Dit is byvoorbeeld van kernbelang dat sodanige inisiatiewe gefundeer is op progressiewe en nie reaksionêre waardes nie. Die herbelyning van Afrikaanse onderrig kan nie volbring word in die strewe om bloot ’n herryste, eksklusiewe taal-kultuur-projek te vergestalt nie. Die Afrikaanse privaat universiteit moet ’n inklusiewe projek wees wat enige Suid-Afrikaner die geleentheid gee om in Afrikaans te studeer en kennis te ontwikkel, om sodoende uiting gee aan die taal- en minderheidsregte wat in die Grondwet verskans word. Ons kan nie bekostig dat ’n private Afrikaanse universiteit ’n aparte Afrikaner-universiteit word nie. Verder, in teenstelling met wat ’n postkoloniale beskouing dikteer, moet die akademiese en organisatoriese beskouing van so ’n privaat universiteit doelbewus ekstrovert wees. Die instink om in ’n vyandige omgewing laer te trek in inwaarts te kyk moet teen elke prys vermy word. Die hoof moet veel eerder omhoog gehou word, op soek na samewerking met plaaslike en uiteenlopende vennote, asook die internasionalisering van kernbesigheid. Ek het vroeër die stelling gemaak dat Afrikaans nie meer die luuksheid het om dogmaties te funksioneer in openbare instellings nie – in dieselfde asem het die ontluikende private Afrikaanse hoër onderwys ook nie die luuksheid om met ’n “business as usual”-benadering te werk nie.

 

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Ek sou meer vertroue hê in wat hier oor die Afrikaanse universiteit geskryf is as die outeur sy lojaliteit teenoor Afrikaans bevestig het deur sy doktorale proefskrif in Afrikaans te skryf.

  • Avatar
    Eleanor Butler

    'n Baie deeglike studie. In my beskeie opinie, in leketaal, sou ek graag die opstandigheid toeskryf aan 'n sosiale toestand wat die opkomende gekleurde jongmens nie na wense vind nie. Die feit dat dit nie slegs oor taal gaan nie, maar dat beelde geteiken word, taal waar dit hulle pas en selfs werkers se diensvoorwaardes insluit, is dit duidelik dat die opstandige student sy posisie as belangrike rolspeler wil vestig en nie as steeds 'n mindere wat op aalmoese en bejammering moet teer nie. Die werkers is heel waarskynlik baie se ouers en in klas die wit student se ouers se mindere. Hierdie sosiale klasse verskil is die diepgewortelde frustrasie wat die student minderwaardig laat teenoor die ander beter af wit student met sy selfvertroue en tweetalige taalvaardigheid en meer welaf ouer. Hierdie is seker effens Lomp gestel, maar wel my waarneming.

  • Avatar
    Johanita Kirsten

    Met die stelling: "Verder, selfs al kan ’n verinheemsde geestes- of sosiale wetenskappe tot stand gebring word, sal dit gedurig moet stry teen die provinsialistiese tendense en intellektuele bysiendheid wat inherent is aan ’n etnies- of kultureel-gefundeerde wetenskapsbeskouing" impliseer die outeur dat die huidige wetenskapsbeskouing in die akademie nié etnies- of kultureel-gefundeerd is nie, maar waardevry en universeel is. Dit is gewoon onwaar – net omdat die Weste se idees vir so lank as vanselfsprekend voorgehou is, beteken dit nie dat dit werklik universeel en neutraal is nie. Dit is juis deel van waaroor die dekolonisering van die akademie gaan – afbreek van die aanname dat die status quo neutraal, universeel en onproblematies is.

    • Johanita, dankie dat jy die stuk gelees het en besluit het om kommentaar te lewer. Die veronderstelling wat jy namens my maak dat ek die huidige dominante wetenskapsbeskouing as ‘waardevry’ en ‘universeel’ beskou is vals. Soos ek in die stuk meld, glo ek dat die intensies rondom die dekolonisasie van die kurrikulum lofwaardig is. Dit is egter onbetwisbaar dat ʼn eng of verinheemsde wetenskapsbeskouing ʼn universiteit sal knielhalter (of dalk by verstek diskwalifiseer) om deel te neem en kompeterend te wees in die huidige globale kennisekonomie (ek gebruik laasgenoemde term doelbewus). Of mens ‘saamstem’ met hierdie realiteit of nie is grootliks irrelevant – die punt is dat dit tans die speelveld verteenwoordig waarin suksesvolle universiteite moet meeding. Terwyl ons gewetes en die beginsel van akademiese vryheid ons die reg toeëien om ʼn intellektuele projek van dekolonisasie te bedryf, moet ons nie verbaas of verontwaardig wees as dit blyk dat die akademiese hoofstroom dit grotendeels verontagsaam nie (tesame met die universiteite waar dit bedryf word).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top