Perdekoop en kar koop

  • 0

Meeste van ons maak mos basies drie beleggingsbesluite in die lewe: Vrou/man vat, huiskoop en kar koop. Vrouvat is ook mossie meer wat dit was nie want jy kan hom/haar met ’n vinnige besoek aan ’n goeie prokureur en ’n paar duisend rand later vinnig van jou naam af kry. Huiskoop hang af van hoe goed die verbintenis met eersgenoemde is maar karkoop is iets anders. Daar’s ook dikwels net so ’n emosionele band tussen ’n man en sy kar as wat daar tussen ’n man en sy vrou is. Veral as die kar ’n VR6 met mags en getinte ruite en sondak en ’n freeflow uitlaatstelsel en ’n klankstelsel inhet wat Lady Gaga netsowel kan gebruik as sy hier kom toer en bietjie wil geld spaar.

So kom Piet hier aan ’n jaar of sewe terug en hy is naby aan trane. Ek moes verbaas uitkyk want ek het hom bloot nie gehoor nie. Want vir Piet hoor jy voor jy hom sien. Hy het beduie dat "die donner" oor ’n rooi lig of iets gery het en basies sy kosbaarste besitting tot ’n wrak gereduseer het. Hy het my die fotos gewys asof dit fotos is van jou eige antie se begrafnis. "Kyk hoe het hulle my arme kar opgefok", onthou ek hom soos gister. Dit was nie twee weke later nie toe ek die Vroemmm-vroemmm van ver af hoor en weet die VR6 is nou weer mobiel.

Piet en sy bestuursvernuf is legendaries van hier tot letterlik innie Kaap. So het ek al agtergekom as ons die pad Kaap toe moet vat en die merke langs die pad opduik: Hier het Piet sy pa se Ford gerol, hier het Piet sy met sy pa se Nissan deur die lande geploeg en hier het Piet amper ’n hele spul mense se dood veroorsaak. Mens sou dink dat Piet sou leer uit sy ervarings maar spoed is mos maar ook ’n dwelm en jy kannie oornag van ’n gewoonte ontslae raak nie. Piet het net een mens vertrou met sy VR6: vroutjie. Want vroutjie het mooi geleer hoe om die bloue hel uit daai Golf te ry. Regtig: sy trek hier weg en as sy die Pondshoogte vat dat hoor jy haar nog steeds.

Ek hoor so al met die telegramme langs dat die VR6 ’n nuwe eienaar gaan kry. Want dis mos maar so: Een of ander tyd moet jy selfs van jou kosbaarstes koebaai sê, want jy moet aanbeweeg. VW Polo toe. Piet seg hy kry 45 K vir die VR6 en die Polo gaan hom honderd en iets kos. Weird hoe mense deesdae praat van geld: Jy koop iets vir punt iets of honderd en iets. Vyf punt ses vir die huis en honderd en iets vir die kar ... Dit net terloops.

Piet doen nou aansoek vir die Polo maar die manne van die bank kan hom nie help nie. Want Piet het nie skuld nie. Dis FNB en Daai bank van me Ramos en Standard en later sommer Nedbank ook. Almal soek verwysings. Net een rekening sal blykbaar doen. Wat Piet nie het nie. Piet beduie dat mammie nou wil rustig raak en hoe moet hy nou maak? Hy wil ry en mammie wil klogoete rustig en in vrede in ’n kar met ’n kattebak skool toe vat. Want sy is moet op en af gery in haas agter ’n enjin of ’n part aan. Wil ’n slag ook soos ’n madam rondry.

Piet beduie vir my dat hy maar die banke en skuld in hul moer gaan stuur. Hy het iewers in Jobug ’n mooi Porche 911 opgetel vir ’n bargain. Blykbaar sestien duisend rand en die eienaar is ’n ou weduwee (is hulle nie altyd nie?) en sy kannie die ding gery kry nie want sy kannie meer laag genoeg buk om in te klim nie.

"Dis mos ’n goeie kar vir **** om die kinders in te karwei, is dit nie?"

Ek hoor intussen dat die Polo deal toe tog deurgedruk is want jy weet mos hoe dit werk met karre en kickbacks en kommissies. Ek vra vir Piet oor die Porche en hy is baie filosofies daaroor: As die ding ongebruik staan sal ek hom maar moet gebruik. Hy sal tog net staan en oproes.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top