PEN Afrikaans: Missie en visie

  • 0


 

Motivering:
“Wat doen PEN Afrikaans nou eintlik?” Dis ’n vraag wat gevra sal word, en die antwoord daarop moet in ’n missiestelling verwoord word. Voorts, as ’n organisasie wil weet wat hom te doen staan, moet hy ’n visie uitstippel wat deurlopend bygewerk en aangepas word. ’n Organisasie wat borggeld soek, moenie gorrel wanneer hy die vraag gevra word nie.

Ons missie:
Om ’n sentrum te vestig en in stand te hou vir Afrikaanse skrywers wêreldwyd.
Om vir Afrikaans en sy woordkunstenaars ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur  PEN International – te verwerf.
Om die belange van Afrikaans en spesifiek Afrikaanse publikasies te dien.
Om Afrikaanssprekendes orals  in die wêreld,  veral ook in Namibië, aan te moedig om deel te hê aan ons strewe.  
Om ons op waardige wyse te beywer vir ’n vaste plek vir Afrikaans in Suid-Afrika. 
Om die belange van woordkunstenaars te dien ten opsigte van wetgewing, kopiereg, en outeursregte; spesifiek om stelling in te neem teen alle vorme van sensuur.
Om geletterheid, belangstelling in die Afrikaanse boek en kreatiewe gebruik van Afrikaans op alle vlakke van die gemeenskap te bevorder.
Om mee te werk aan verwante inisiatiewe, insluitend noue samewerking en gedeelde projekte met South African PEN. 

Ons visie (soos op 20 Oktober 2012):
Om teen 15 November ’n webwerf te hê in Afrikaans en Engels; in laasgenoemde lys ons vertaalde werk en profiele van skrywers (met medewerking van Erika Terblanche en inligting oor ander [onvertaalde] titels).
Om teen 1 Januarie 2013 ’n duidelike konsepsie te hê van paslike projekwerk.
Om teen 1 Januarie 2013 ’n deeglike begroting vir 2013 te hê, met as waarskynlike totaal R250 000 (waarvan R50 000 deur PEN South Africa vir ’n spesifieke projek bygedra word).
Om teen 30 November ’n borg of borge vir R250 000 tot R300 000 te kry.
Om teen 30 Oktober ’n duidelike verstandhouding met LitNet te hê ter wille van sintese en die vermyding van oorvleueling.
Om deurentyd in noue oorleg met PEN South Africa te werk met die oog op gesamentlike asook selfstandige programme.
Om soortgelyk met ander instansies wat Afrikaans bevorder (Stigting vir bemagtinging deur Afrikaans, ATKV) teen 30 November ’n verstandhouding te hê.
Om teen 30 November geregistreer te wees as ’n nie-winsgewende en belastingvrye organisasie.
Om teen 30 November ’n bankrekening te hê.
Om in 2013 twee persone na PEN Internasionaal se kongres in Singapoer af te vaardig.
Om teen 15 Januarie 2013 ’n administrasiebeampte te hê vir deeltydse werk (2 ure per dag vir vyf dae per week, vir instandhouding van die lederegister, instandhouding van ’n argief, basiese boekhouding) teen betaling van hoogstens R4 000 per maand.
Om deurentyd noue kontak met ander (Dietse) PEN-sentrums te handhaaf (Nederlands, Vlaams, Surinaams).
Om saambinding met ander PEN-sentrums in Afrika te soek ter wille van sinergie in ons invloed by PEN Internasionaal (iets wat reeds noodsaaklik is ten opsigte van die huidige formule vir ledegeld) en ter wille van die bevordering van PEN-regte in Afrika; om spesiaal te streef na verhoudinge met ander “kleintaal”-sentrums in Afrika (Swahili) en elders (Katalaans) asook met ander taalgemeenskappe in Suid-Afrika.
Om PEN Afrikaans se ledetal op ’n gesonde vlak te hou deur diens/advies aan woordkunstenaars wat die volgende kan insluit:

  • Verhouding skrywer-uitgewer: bystand soos van ’n vakbond oor kopieregprobleme, tantiemes
  • Reklame rondom boeke
  • Skrywer en media (RSG se voorkeure)
  • Die voorgeskrewe boek; inligting oor beleid by voorskryfkomitees; doen en late by skole

Om gemeenskapsbetrokkenheid na te streef deur medium van bestaande en nuwe geletterdheidsprogramme; bevordering van skryfkuns aan skole.
Om die werklas in die bestuurskomitee te versprei deur gebruik van portefeuljes.
Om deurentyd streng en noulettende finansiële dissipline te handhaaf.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top