Pelgrimstogte

  • 0

Dis nog skemer-vroeg die Saterdagoggend toe Bohous my wakker maak vir ons reis na Tabor. Ons is net betyds voordat die bus vanaf die dorpsplein vertrek. Gelukkig het die ander reisigers alreeds hulle sitplekke in die voorste gestoeltes ingeneem, sodat ek op die lang agterste sitplek kan uitstrek en verder slaap tot dagbreek, sodat die reeds bekende landskap, die vroegoggend ongesiens by my verbygaan.

 Teen die tyd dat ek wakker skrik, is ons reeds naby die heuwelagtige landskap waar Tabor geleë is. Dit was ’n onuitgesproke gedagte, maar ek glo ek en Bohous het albei heimlik gehoop om met hierdie terugreis na die mistieke Middeleeuse stad die towerkrag van ons eerste pelgrimstog saam hierheen te herleef.

pelgrim

 Vier jaar gelede het ons op ons eerste afspraak hierheen gereis vanaf Praag om die jaarlikse Paasdiens by te woon. Ek kon niks van die preek verstaan nie al het Bohuslav plek-plek fluisterend vir my vertaal. Ons het dus stil-stil weggeglip om die lieflike landskap te gaan verken. Hoë rotswande kontrasteer met deinende grasvelde, wat toe oortrek was met helder geel veldblomme.

 Al wandelend op die klippaadjie in die skadu van die berkehoutbome langs die hang van die berg Tabor vertel Bohous vir my grepe uit sy lewensverhaal.

 As skrander leerling in die kommunistiese era, het hy ’n beurs gekry om aan die Universiteit van Moskou te studeer. Daar trou hy met ’n Russiese vrou en later, terug in Praag sluit hy by die diplomatieke diens aan en word na Lusaka verplaas.

 Kort na sy terugkeer uit Lusaka in Augustus 1968 is Tsjeggo-Slowakye deur Sowjet-troepe ingeval. Die bitterheid en sinisme wat my geliefde soms laat deurskemer het, was waarskynlik te wyte aan hierdie daad van verraad deur die verteenwoordigers van ’n stelsel waarin hy geglo het.

 Ek het die blik in sy ysblou oë begin verstaan - die uitdrukking van kwesbaarheid onder die aanvanklike hardegat houding. Ek kon begryp waarom die lyne op sy trotse Slawiese gelaatstrekke so diep geëts was.

Met die sang van die pelgrims in die agtergrond, in die skadu van die berg, het ons omhels en ek het gevoel dat niks, nie eers die groot verskil in kultuur en agtergrond, hierdie gevoel van liefde en deernis ooit sou vernietig nie.

 Mettertyd het ek die leefwyse van sy mense hier in die hartseer hart van Europa leer ken en waardeer. Gevorm deur die veelbewoë geskiedenis van ons onderskeie lande, het ons wêreldvisies baie van mekaar verskil en dit was asof ons van mekaar kwytskelding gesoek het vir enige betrokkenheid wat ons mog gehad het by die negatiewe gevolge van die politieke dogmas van ons tyd. Tog kon ons nie bieg nie, was ons te goed gekondisioneer deur die dualisme van die vorige era om toe te gee dat ons eie siening verkeerd was.

 *****

Ons tweede reis na Tabor was toe nie so ’n goeie idee nie. Sy Ma, babicka Anna, het die kaartjies deur die plaaslike tak van die Kommunistiese Party van Boheme en Morawië waaraan sy nog behoort het, gekoop. Die aanbod was te goed om te weier, het sy beweer. Daar was selfs ’n gratis middagete en ’n geskenk by die prys van die busrit ingesluit. Ouma Anna het egter nie gesê nie dat die uitstappie ’n verpligte demonstrasie van ’n voedselverwerker by ’n dorp langs die pad sou insluit!

 Op die verhoog van die gemeenskapsaal waar ons dus op pad stilhou neem die demonstreerder besit van die groep wat hom en sy behendige hantering van die masjien met bewondering dophou. Ek kon nie verstaan nie, want my beginners-Tsjeggies het nog nie die les oor voedselverwerkers bereik nie. Met ’n verskoning dat ek badkamer toe moes gaan, vlug ek soos ’n ontsnapte misdadiger uit die bedompige saal na buite.

 Daar in die soel herfsson stap ek op die oorblyfsels van ’n ou tuinpaadjie en besef dat die grys betongebou blykbaar opgerig is in die plek waar vroeër ’n herehuis gestaan het. Daar waar ’n tuin voorheen floreer het, leef nog net die reuse ou akkerbome; onaangeraak deur die historiese gebeure wat hulle omgewing so ingrypend verander het.

 Soos die lae van die uie wat die voedselverwerker daarbinne versnipper, kring die spore van vervloë dekades om my uit.

 In die hoek van die tuin, weggesteek onder vergroeide struike, vind ek ’n engel wakend oor ’n graf. Ek gaan sit op die lang gras voor haar en ons wou net in gesprek tree oor die meer elegante era waaruit sy dateer; ek wou haar vra waarom dink sy is dit dat mense nou masjiene bo engele verkies toe babicka Anna my skril terugroep na die hede.

 Bohous en sy ma staan op die saal se trappies. Lede van die groep vergader rondom hulle vanwaar hulle afkyk na my op die gras voor die engel. Ek wil na my geliefde Tsjeg uitreik en sê: “Kom kyk, ek het ’n brokkie geskiedenis hier in die tuin ontdek; kom dan verken ons saam die skatte uit julle verlede; uit die tyd voordat julle hard gemaak is deur onwrikbare dogma.”

 Maar, omring deur sy volksgenote, is hy een van hulle; ek die buitestander wat die reëls oortree het. Babicka Anna ontferm haar effens oor my en bring vir my die geskenk wat my toekom.

 “Sem darek,” sê sy. Toe stap hulle almal na die wagtende bus om hul voorafbeplande reis na Tabor voort te sit, terwyl ek by die engel agterbly.

 Dis ’n klein plastiekradio, lig soos ’n speelding. Made in Taiwan. Niks te wagte nie, draai ek aan die knoppies en tot my verbasing word die stilte om my wonderbaarlik gevul met musiek. Dus, onder begeleiding van Dvořák se Nuwe Wêreld Simfonie, stap ek met die dorpie se hoofstraat af op soek na die stasie en ’n trein genaamd Albert Einstein wat na Praag gaan.

 Ten spyte van my seer hart herinner ek myself daaraan om, wanneer ek aanduidings van verbygangers vra na die stasie, ek duidelik en definitief die woord moet uitspreek as 'nadrazi' en nie per ongeluk 'nazdravi' nie.

 Stasie ... Nie Cheers nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top