Pelgrimstog

  • 0

Dis nog skemervroeg die Saterdagoggend toe Bohuslav my wakker maak vir ons reis na Tabor. Hy is ’n oggendmens, ek nie. Hy moet my dus aanjaag sodat ons betyds by die bus op die dorpsplein kan wees. Gelukkig het die ander reisigers alreeds hulle sitplekke in die voorste gestoeltes ingeneem, sodat ek op die lang agterste sitplek verder kon slaap tot dagbreek.

Die verbygaande uitsig oor dorpies wat die groen landskap rooi vlek met verweerde teëldakke, dorpenaars wat haastig op pad is na die naaste woud om vars sampioene te vind, netjiese blokke goudgeel koringlande wagtend vir die oes, die blougrys berge waaragter Duitsland lê, het alles daardie vroegoggend ongesiens by my verbygegaan.

Teen die tyd dat ek wakker skrik, was ons al naby Tabor. Ek dink ek en Bohuslav het albei heimlik gehoop om met hierdie terugreis na die mistieke, Middeleeuse stad die magic van ons eerste pelgrimstogsaam te herleef.

“Tabor is gebou as ’n vesting of fort deur die Hussiete gedurende die Hervorming.  Hier het Johannes Huss en sy volgelinge vergader in hulle verset teen die Rooms-Katolieke Kerk en hiervandaan is Huss geneem na Konstanz om veroordeel te word en op die brandstapel te sterf.” Dis Bohuslav se stem langs my op die agterbank, wat my net wil herinner aan die erns van die geskiedenis van ons bestemming.

Vier jaar gelede het ek en my geliefde op ons eerste date hierheen gereis vanaf Praag om die Paasdiens by te woon. Dit was ’n kleurvolle prentjie wat my, toe nog ’n nuweling in die land, begroet het. Die vroue was in helder rooi en geel tradisionele drag; ’n doedelsakorkes het gespeel en spesiale Paas-soetkoekies is saam met beeldjies van Moeder Maria verkoop in die skadu van ou akkerbome. Daar was soveel pelgrims dat ’n wit afdak langs die kerk se groengeroeste koperkoepel as tydelike kansel moes dien. Daarvandaan kon die priester se welluidende stem die pelgrims wat in die veld om die kerk vergader het, bereik. 

“Ek het nooit tydens my gevangenskap gedink dat ek ooit ’n dag soos vandag sou kon ervaar nie,” het ons die gebroke stem van ’n voormalige politieke gevangene langs ons gehoor.

Ek het probeer om die preek in Tsjeggies te volg, met my vriend wat plek-plek fluisterend vir my probeer vertaal, maar na ’n ruk het hy my hand geneem en my met ’n wandelpad langs die heuwel opgelei.

Al wandelend, op die klippaadjie in die skadu van die berkehoutbome, het hy my sy lewensverhaal vertel.  Hy het grootgeword terwyl sy land eers oorheers is deur Duitsland en daarna deur die Sowjetunie. Hy het na skool ’n beurs gekry om aan die Universiteit van Moskou te studeer. Hoewel hy dit steeds as ’n voorreg beskou het, was dit vir my as buitestander duidelik watter hoë morele prys hy eintlik vir die doktorsgraad  betaal het.

Kort na sy terugkeer in 1968 is Tsjeggo-Slowakye deur Sowjettroepe binnegeval. Met gewapende mag is die hervormingsproses teen die hardline Sowjet-kommunisme, wat besig was om spontaan daar plaas te vind, beëindig. Die Praagse Lente, soos die hervorming genoem is, is vervang met “normalisasie”, ’n wurgende vorm van kommunisme as straf vir hierdie rebelse “kind” wat durf wegbeweeg het van die Moederland.

Die bitterheid en sinisme het soms deurgeslaan in sy stem, ten spyte van sy aksent in die vreemde “Westerse” taal wat hy met my moes praat. Ek het die blik in sy ysblou oë begin verstaan - die uitdrukking van kwesbaarheid onder die aanvanklike hardegat houding. Ek kon begryp waarom die lyne op sy trotse Slawiese gelaatstrekke so diep geëts was.

Met die sang van die kerkgangers in die verte, in die skadu van die laning, het ons mekaar omhels en ek het gevoel dat niks, nie eers die groot verskil in kultuur en agtergrond, hierdie gevoel van liefde en deernis ooit sou kon vernietig nie.

Mettertyd het ek die leefwyse van sy mense hier in die hartseer hart van Europa leer ken en waardeer. Gevorm deur die veelbewoë geskiedenis van ons onderskeie lande, het ons wêreldvisies baie van mekaar verskil en veroorsaak dat wêreldgebeure dikwels in ’n persoonlike ideologiese stryd tussen ons ontaard het. Dit was asof ons van mekaar kwytskelding gesoek het vir enige betrokkenheid wat ons mog gehad het by die negatiewe gevolge van die politieke dogmas van ons tyd. Tog kon ons nog toe nie al bieg nie – was te goed gekondisioneer deur die dualisme van die vorige eeu om toe te gee dat ons kant se siening van die Oos-Wes-gepolariseerde wêreld verkeerd was.

Intussen het ek probeer aanpas. Die minder materialistiese leefstyl en die saamleef met ou kleurvolle tradisies was vir my lekker. Maar om by hom te wees moes ek deel word van sy wêreld, en daarmee saam dele van myself prysgee. Hy het nie nodig gehad om aan te pas nie; dit was sy land en ek die vreemdeling - ’n Afrikaan in Europa.

*

Die tweede reis na Tabor was toe nie so ’n goeie idee nie. Sy ma, babicka Anna, het die kaartjies deur die plaaslike tak van die Party (die Kommunistiese Party van Boheme en Morawië), gekoop. “Die aanbod was te goed om te weier,” het sy beweer. Daar was selfs ’n gratis middagete en geskenkby die prys van die uitstappie ingesluit. Wat ouma Anna nie gesê het nie, is dat die dag byna geheel en al uit ’n verpligte demonstrasie van ’n voedselverwerker sou bestaan! Die gesegde “daar is nie iets soos n gratis lunch nie” was beslis hier van toepassing.

Op die verhoog van die gemeenskapsaal van ’n dorpie duskant Tabor het die demonstreerder besit geneem van die groep wat hom en sy behendige hantering van die ingewikkelde masjien en massa vars groente met bewondering dopgehou het. Ek het uitgehou solank ek kon, maar my kennis van Tsjeggies het nog nie die voedselverwerkingstadium bereik nie. Met ’n verskoning dat ek badkamer toe moet gaan, het ek soos ’n ontsnappende misdadiger uit die bedompige saal gevlug.

Buite in die son het ek die vars oggendlug ingeasem en begin stap op die oorblyfsels van ’n tuinpaadjie wat vroeër na ’n huis moes gelei het. Die grys betongebou waarvandaan die gewoer van die voedselverwerker luid gekom het, is blykbaar opgerig in die plek van ’n ou herehuis.

Soos die lae om die uie wat die voedselverwerker daar binne versnipper, het die spore van vervloë dekades om my uitgekring. In my ontdekkingstog het ek op die wrak van ’n grys-blou Trabant afgekom. Die karretjies, wat oral op die Tsjeggiese landskap agtergelaat is deur Oos-Duitsers wat ’n paar maande voor die val van die Berlynse muur deur Tsjeggo-Slowakye na die Weste gevlug het, het trots gedien as monumente tot die mens se verlange na vryheid.

In die hoek van die tuin, omring deur hangende eikeboomtakke, het ’n beton-engel gewaak oor ’n graf. Ek het op die klam gras voor haar gaan sit en ons wou net in gesprek tree oor die meer elegante era waaruit sy dateer, toe babicka Anna my skril terugroep na die hede. Bohuslav het langs sy ma op die saal se trappies gestaan. Die ander lede van die groep het geleidelik om hom verskyn en na my afgekyk waar ek op die onversorgde grasperk sit. Ek wou na hom uitreik en sê: “Kom kyk, ek het ’n hele wêreld hier in die tuin ontdek”, maar sy stamlede het hom omring en hy het met sy streng “kommunistiese” blik na my gekyk.

Babicka Anna het haar so effens oor my ontferm en ’n pakkie aan my kom oorhandig. “Sem darek.” (“Dis jou geskenk.” Toe het hulle almal in die bus geklim om hulle voorafbeplande reis na Tabor voort te sit.

Ek sou my onbeplande terugreis alleen moes aanpak met die geskenk as troosprys. Sonder enige verwagting begin ek draai aan die knoppies van die pienk plastiekradio’tjie. Tot my verbasing kom daar klanke uit en wonderbaarlik, onder begeleiding van Dvorak se Nuwe Wêreld-simfonie (made in Taiwan), stap ek met die onbekende dorpie se hoofstraat af, op soek na die stasie.

Ten spyte van my seer hart oor my geliefde wat my oor ’n voedselverwerker verlaat het, herinner ek myself tog geamuseerd daaraan om, wanneer ek aanwysings van verbygangers vra, definitief en duidelik te onderskei tussen die twee eendersklinkende woorde: om te vra waar is die nadrazi (stasie)en nie te laat uitglip na zdravi (cheers!) nie.

Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie.     

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top