Pelgrimspsalms: Opskud, die pad is steil en ver

  • 3

Opsomming

In die artikel word daar noukeurig aandag gegee aan die pelgrimspsalms (Psalm 120–34). Die pelgrimspsalms berig oor ’n reis van Meseg en Kedar na Jerusalem. Meseg en Kedar verteenwoordig chaos, wanhoop en onleefbaarheid. Die reis is onbekend en gevaarlik. Meseg en Kedar het ook ’n aktualiteit vir mense in ons dag. Op die reis is daar berge. Die berge het verskillende interpretasiemoontlikhede. Een van die interpretasies is dat die berge na die Sionsberge verwys. Die beskerming wat die Here bied, word in Psalm 121 noukeurig ontleed. Die lewensbedreigende magte het nie die laaste sê nie, maar die Here van wie die reisiger se hulp kom. Die Here versorg en dra die reisiger soos ’n ma haar kind. Die struktuur van Psalm 131 word ontleed. Voordat die reisigers na hulle stede en dorpe vertrek, vra hulle die priesters en Leviete om die Here in ’n naglied te seën. Ons word vandag ook opgeroep om die Here te seën. Wat dit beteken, word in Psalm 134 toegelig. Die Psalm bereik ’n hoogtepunt in vers 3a. Daar word die seën van die Here aan die reisigers toegesê. Hulle moet die seën ook aan ander mense toedeel.

Trefwoorde

Psalm 120–4, pelgrimspsalms, Meseg en Kedar, chaos en wanhoop, in Psalm 121 het berge verskillende betekenismoontlikhede, hulp van die Here, Beskermer, son en maan, Psalm 131, versorging en rus, Psalm 134, seën van die Here, die Here se seën, reis en leef in vrede.

Psalm 120–34 was oorspronklik ’n onafhanklike versameling van die Psalter. Dit is die rede waarom die versameling as “pelgrimsliedere” beskryf word (Schuman 2008:125). Dit kan aanvaar word dat die psalms in die 4de eeu vC deur die priesters in Jerusalem saamgestel is. Dit is bedoel as pelgrimspsalms vir reisigers op reis na Sion (Vos 2005:251).

Die pelgrimspsalms vertel ons van die onbekende en gevaarlike, maar ook opwindende pad. Ons weet hoe opwindend ’n reis kan wees. Jy voel die fladdering in jou maag en jy sien uit na die onverwagte draaie en kinkels op die pad. Die pelgrimspsalms verwys na ’n geestelike beweging wat die 15 liedere saambind – die tog na Sion as pelgrimsvaart na ’n nuwe toekoms (Zenger 2008a:434; Schuman 2008:130).

In Psalm 120 vers 5 roep iemand uit: “Hoe ellendig was dit toe ek in Meseg as vreemdeling gewoon het [...].” Meseg en Kedar kan geografies aangedui word. Meseg dui op ’n stam by die Kaspiese see, ’n gebied in die noorde (Zenger 2004:1184). Kedar verwys na ’n stam in die Siries-Arabiese woestyn (Zenger 2008a:419). Dit gaan hier egter nie om ’n geografiese aanduiding nie, maar om die donker ervarings van die bidder en waarom hy vir die nabyheid van die Here smeek (Zenger 2008a:419). Meseg en Kedar staan vir onherbergsaamheid, ja, vir onleefbaarheid, ballingskap, politieke verknegting en vervreemding. In Meseg en Kedar is alles op sy slegste. Die lewe knou mense af. Kommer, twyfel, wanhoop, stryd en dood stapel op. O, hoe bitter suur kan Meseg en Kedar tog nie wees nie.

In ons dag dui Meseg en Kedar op chaos, wanhoop, kommer, waansin, magteloosheid en korrupsie. Oor die nuus word berig van die verwoestende brand in Johannesburg en van vlamme wat hout in Richardsbaai vernietig. Die dodetal van die verwoestende oorstromings in Libië se kusdorp Derna kan tot ’n geraamde 6 000 styg. Minstens 23 000 mense is dood en duisende word nog vermis (Google). Op 7 Oktober 2023 het die Palestynse Hamas ’n lewensvernietigende aanval op Israel geloods (Netwerk24).

Die flenterbootjies wat van die Oekraïne na ’n ander heenkome waggel, gee aan ons ’n vae idee van magtelose pogings om aan verknegting en wanhoop te probeer ontvlug.

In ons land is daar soveel mense wat magteloos verkneg is. Mense sonder hoop en uitkoms, sonder dak en kos, sonder werk en inkomste, sonder geluk en voorspoed.

In ’n gedig word die mens se donker tye verbeeld.

Die mens se donker tye oorspoel met slyk
en modder was uit oorloopsytakke gespoeg.
Bome langs riviere was kromrug en verlate.
Winde het opgesteek met weerlig en voëls
het met hulle sange oor die skepping
na ander rusoorde gaan soek, tevergeefs.
Hulle het aangevoel hoe die geskapenheid
in rou gedompel is deur pestilensies.
Hulle het in bome geskuil en gewaar
hoe mense doodverskrik struikel,
benoud vir die onverwagse skaduval.

Twyfel en vrees het die mens oorrompel.
Boosheid het op die mens beslag gelê:
Skaamte, waarheid en vertroue neem die wyk.
Dit word vervang deur bedrog, agterbaksheid,
misleiding, geweld en misdadige hebsug.
Armsaliges is gestroop van hoop (Vos 2023).

Ons kan nie, ons durf nie langer in Meseg en Kedar bly nie. Ons moet die donker stroom aandurf. Maar hoe? Kyk ’n bietjie rond. Kyk boontoe, kyk vorentoe. Blaai Psalm 121 oop. En kyk na die berge. Berge is ’n beeld met talle interpretasiemoontlikhede. In die berge het die leeglêers, die kwaadsoekers en die rowers rondgelê. Daar het hulle op die donker gewag om op hulpelose en weerlose reisigers toe te slaan. Die reisigers word bedreig en angs oorval hulle op hulle reis (Seybold 2003:215; Zenger 2004:1184).

Dit is een moontlikheid om die berge te verstaan. ’n Ander moontlikheid is om dit soos in die destydse wêreld as die bly- en skuilplek van die gode te beskou wat stomme mense verlei, soos klei in hulle hande vorm en na hulle beeld gemaak het (Prinsloo 1991:110; Ravasi, Gianfranco 2002:981; Vos 2005:255–6).

In ons dag is daar ook gewillige volgelinge en slagoffers van die gode. Die seksgod het groot aanhang verwerf. Die suksesgod kon self nie al die aanhangers tevrede stel nie. Die gesondheidsgod het sy hande vol met Vigs, demensie en Alzheimersiekte. Die kubergod moes uithaal om by al die mens se tegnologiese prestasies kers vas te hou. Die gode is moeg. Hulle wil graag doodgaan, maar hulle werwingstogte hou hulle onvermoeid besig.

Hierdie verklarings is geldig. Maar die sinvolste verklaring is dat die berge in die Psalm die Sionsberge verteenwoordig (Zenger 2008a:436–7). In Psalm 46 en 125 lees ons van die onwankelbaarheid en standvastigheid van Sion. Psalm 76 besing die vrugtelose stormloop van volkere en leërs teen die stad van God. Op die reis na Sion toe, straal Sion die seën van die Ewige uit (Psalm 133–4). Daarom kan die reisigers hulle toevlug in die stad van God soek (Schuman 2008:111).

Vir die mens in nood is daar net een uitweg. “My hulp kom van die een wat in Sion troon.” Die Here. Wie is Hy? Hy is die Maker van die hemel en die aarde. Die gansheid is Syne. In Psalm 120–34 kom herhaling as stylfiguur (anadiplose) dikwels voor. In Psalm 121:1–4 kom ’n woord aan die einde van ’n vers weer in die volgende vers voor. Hiermee word ’n klimaks bereik (Vos 2005:253; Schuman 2008:125). “Vanwaar sal my hulp kom?” (vers 1). “My hulp kom van die Here” (vers 2). “[...] sluimer nie, jou Beskermer” (vers 3). “[...] sluimer nie, die Beskermer” (vers 4). Die woord “beskerm” kom nog drie maal in vers 7 tot 8 voor. Hiermee word die belangrikheid van die woorde “hulp”, “sluimer nie” en “Beskermer” aangedui.

Die reisiger kan op die Here as Bewaarder wat nie sluimer nie, se beskerming reken. Hy sal die reisiger teen bedreigings en gevare beskerm. Die son en die maan wat by die ander godsdienste dikwels as goddelike magte beklee is, word ontmitologiseer en van hulle magte ontneem (Prinsloo 1984:111; Zenger 2008b:443–6). Die gode is nie teen Hom opgewasse nie. Die songod wat allerlei ellendes, sonsteek en uitputting veroorsaak en die maan wat malaria, melaatsheid, koorse, oogsiektes en ander peste gebring het, is tot onmag gedoem (Prinsloo 1984:111; Vos 2005:257). Die Here sal die begin en voltooiing van die reis waarborg.

Die reis is nie sonder gevare nie. Gevare doem soos die donker op (Vos 2016:55). Benewens Ebola, het die volgende siektes dringend aandag nodig: die Nipah-virus, skeurvalleikoors, Corona, Delta, Aappokke, voëlgriep, polio en masels. En dan is daar mense wat lewenslank aan siektes soos hartkwale, nierversaking en diabetes ly. Siekte, kommer, pyn kan ons onverhoeds oorval.

Wat beteken “my hulp kom van die Here” as skrikwekkende ervarings ons oorspoel? As siekte ons knak, as ’n operasie al uitweg is? Al gebeur dit, is die lewende Here by ons in nood en gevare. Al lê ons op ons rug het al die lewensbedreigende magte nie die laaste sê nie. Hou aan die Here vas. Hy sal jou vashou en deur die onherbergsame land tot by jou bestemming, in sy teenwoordigheid, dra.

Waarheen lei ons reis? Psalm 122:1–2 gee hierop ’n antwoord. “Ek was bly toe hulle vir my gesê het: ‘Kom ons gaan na die huis van die Here toe.’ En nou is ons binne-in jou, Jerusalem.” Van Meseg en Kedar tot Jerusalem. In Jerusalem vier ons reisigers se tuiskoms. Maar dáár is ons nie meer alleen nie. Dáár is ons in die geselskap van die feesvierende skare. Ons voete sleep soos some oor die tempel se drumpel. Reken net: uit Meseg en Kedar oor die slingerende en gevaarlike pad na die stad van vrede, na Jerusalem toe. Uiteindelik, Jerusalem! Dáár is ons in God se heilige teenwoordigheid.

Die Here sal jou versorg en dra soos ’n ma haar kind (Jüngling 2001:983). Dít vertel Psalm 131 ons. Hierdie Psalm kon net sowel deur ’n vrou geskryf gewees het (Zenger 2008b:602). ’n Sagte hand beweeg oor die Psalm. Dalk het een van die reisigers dit in die aandure gedig. Kittel (1922:403) noem die Psalm ’n relletjie in die Psalmboek. Dit skitter in die maanlig tussen al die ander psalms. Die Psalm is noukeurig saamgestel en die digter benut verskillende stylvorme. Psalm 131 het ’n fyn geweefde struktuur (Zenger 2008b:603).

I Kontras tussen twee lewenskonsepte
1 Ontkenning (negatiewe berigte)
2ab Versekering (positiewe vasstelling)
II Erkenning van verborgenheid by die Here
2cd Dubbele vergelyking van die siel tot die Here
III Oproep aan Israel om op die Here te hoop
3a Aanspreek van Israel
3b Liturgiese formule           

Dit is opvallend dat die eerstepersoon-enkelvoud (1b) in die vorm van ’n gebedsaanroep begin: “O Here [...].” Hierdie gebed kom eers in 2b tot ’n einde. In vers 3 is daar ’n opdrag: “Wag op die Here [...].” Hiermee word dit duidelik dat dit om die Here se teenwoordigheid tydens die reis gaan.

Die versreëls in 1b–c staan ook in ’n hegte verhouding tot mekaar. Die anafoor bind vers 1b–c aanmekaar. ’n Anafoor is die stylmiddel wat bestaan in die herhaling van dieselfde woord of woorde aan die begin van twee of meer opeenvolgende sinne of versreëls (Vos 2005:35). Albei die halwe versreëls (vers 1b–c) word ingelei deur welo (en nie). Die “en nie”-deel van vers 1c is langer en meer uitgebreid as die voorafgaande twee en is die klimaks waartoe die twee versreëls opbou (Prinsloo 1991:84).

In vers 1b verklaar die digter hoe hy nie is nie. Die digter sê sy “hart is nie hoogmoedig nie”. Die metaforiese hart is die sentrale orgaan van die mens waarin sy verstand, sy gees, sy denke gesetel is. Met sy hart kan die mens hom bo ander verhef. Verder verklaar die digter “sy oë is nie vol trots nie”. Uit die oë kom selfverheffing en hoogmoed die duidelikste na vore. Daarmee sien iemand op ’n ander neer. Die “hart” en die “oë” is ’n digterlike strategie, die pars pro toto waarmee aangedui word dat dele van die liggaam die hele mens voorstel (Vos 2005:35; Frevel 2006:2).

In vers 1c word die hoogtepunt bereik wanneer die digter verklaar dat hy hom nie besorg maak oor dinge wat bo sy vermoë is nie. “[D]inge wat bo my vermoë is” dui gewoonlik op die groot en wonderlike heilsdade van God. By die digter is daar geen selfverheffing voor die Here nie. Hy ken sy plek en dit is nederigheid (Zenger 2008c:603–4). Die Here is die Gans Andere (Karl Barth) en die mens sy dienaar.

Vers 2a–b is aan mekaar verbind deurdat dié reëls met dieselfde Hebreeuse woorde vir “my siel” eindig, naamlik “ek het my siel na kalmte gelei” (2a) en “my siel het tot rus gekom” (2b) (Zenger 2008c:601). Hierdie stylfiguur staan as ’n epifoor bekend (Beyerlin 1982:53). Die herhaling van die slotwoord bring ook klankrym tussen die twee versreëls tot stand. In vers 2a word ’n stelling gemaak, naamlik dat die digter geluksaligheid gevind het, en in vers 2b word die stelling deur ’n beeld toegelig (Zenger 2008c:606). Die herhaling van vers 2a–b is ’n stylmiddel wat die leser se aandag boei. Hierdie herhaling bied sekerheid en uitsig aan die reisiger.

Vers 2a word in Hebreeus met “im-lô” ingelei. Watter funksie het die uitdrukking in die konteks? Dit is moontlik om dit as ’n soort eedformule te verstaan (“ja”, “voorwaar” of “inderdaad”). Dit kan egter as ’n kragtige ontkenning verstaan word (“maar” of “inteendeel”). ’n Sterker “nee” is ’n nog beter keuse (Prinsloo 1991:84–5).

Die “nee, inteendeel” onderstreep die teenstelling tussen vers 1b–c en 2a–b. Vers 1b–c is negatief geformuleer, terwyl vers 2a–b positief onder woorde gebring is. Vers 1b–c beskryf die digter se lewenshouding op ’n negatiewe wyse, terwyl vers 2a–b dit op ’n positiewe manier doen. Vers 1b–c verklaar hoe die digter nie optree nie en vers 2a–b hoe hy wel optree. In dié versreëls gaan dit om dieselfde saak, maar vanuit twee oogpunte.

Die digter beskryf sy rus en vrede met ’n aangrypende beeld. “Soos ’n kindjie by sy moeder, soos ’n kindjie, is my siel in my” (2b). Hy is soos ’n kindjie in sy ma se arms – vol salige rus en vrede. In die Here se arms vind ’n vermoeide en onrustige mens rus en kalmte. Die rus en kalmte van die siel is die grond van ’n nuwe en diep Godservaring.

Op die oog af staan vers 3 los van die voorafgaande. Teenoor vers 1b–2b wat as gebed tot die Here gerig is, is vers 3 ’n appèl van die digter wat tot die versamelde volk gerig is. Die gedagte om op die Here te wag (vers 3) is ’n verdere uitbouing van dieselfde tema wat reeds in vers 2a–b voorkom – die toestand van kalmte en aanvaarding wat die digter beleef. By die Here is daar rus en kalmte vir elke reisiger.

Die opskrif ’n “Pelgrimslied” is nie ’n aanduiding van die Gattung (soort) van die Psalm nie. Daar kom verskillende Gattungen by die pelgrimsliedere voor. Prinsloo (1991:85) reken dat die opskrif van Psalm 131 eerder ’n liturgiese aanduiding as ’n beskrywing van die Gattung is. Dit mag so wees, maar die funksie van die Psalm binne die komposisie van die pelgrimsliedere moet nie buite rekening gelaat word nie (Vos 2016:59). Ek stem met Prinsloo (1991:85–6) saam dat ons hier met ’n vertrouensgebed te doen het. Die hele komposisie van die Psalm spreek ten gunste hiervan. Ons kan in die Psalm ook duidelike wysheidstrekke onderskei (Spreuke 6:16, 17, 24:4a en 30:13). Die eerste deel van vers 1b (“[...] My hart is nie hoogmoedig nie”) herinner aan Spreuke 16:5, 18, 18:12 en 21:4. Die laaste deel, vers 1c (“[...] dinge wat bo my vermoë is”), toon ’n ooreenkoms met Job 42:1–6. Hierdie intertekstualiteit van die Psalm wys op die wysheid se invloed daarop (Vos 2016:59).

Die invloed van die wysheidsliteratuur, veral die jonger wysheidsliteratuur, dui op ’n na-eksiliese ontstaanstyd van die Psalm. Die opskrif “vir of oor Dawid” verwys na ’n psalm wat oor Dawid handel of aan hom opgedra is. Op dié wyse word die Psalm binne die Dawidstradisie geplaas wat ook moontlik ’n kultiese konteks aandui waarbinne die Psalm gefunksioneer het (Zenger 2008c:654–5).

Die intertekstualiteit van die Psalm binne die raam van die reispsalms ken daaraan die plek en funksie van ’n reispsalm toe. Dit sluit nie die kultiese blik op Sion uit nie. Met die oog op Sion, waar God woon, gee dit juis vertroue en bemoediging.

Die gedig bly nie net beperk tot die enkeling nie. Die enkeling is deel van ’n gemeenskap, ’n gemeente. Juis daarom groei die gedig uit tot die gemeente en kry dit later ’n vaste plek in die kultus (Zenger 2008c:654–5).

Die nag het toegesak. Die tyd van afskeid ná die godsdienstige fees. Maar voordat die pelgrims hulle nagrus opsoek, om dan vroeg môre die terugreis na hulle dorpe en stede aan te pak, gee hulle ’n opdrag aan die diensdoende priesters en Leviete. Hulle vra die priesters en Leviete om die Here in ’n naglied te seën. Om die Here se seën te vra, is ’n Beraka, ’n lofspreuk. Dit beteken om die seënende krag van die Here lofsingend te erken (Zenger 2008c:655–6).

Wat maak ons as reisigers in die Here se teenwoordigheid? Ons kom saam om die Here te seën en Hom te loof. Ons wag ook soos die aarde op reën, op sy seën. Om die Here te seën, beteken onder meer om sy seënende krag lofprysend te erken. Daarom kan ons in navolging van Psalm 98 ’n nuwe lied sing. Die some van lof moet oor die drumpel van God se ontmoetingsplek sleep. Ons het alle rede om ’n nuwe lied te sing. Want die Here het “wonders gedoen” (Psalm 98:1). Hy het sy verlossing bekend gemaak (Psalm 98:3a).

Psalm 134:3a mag egter nie buite rekening gelaat word nie. “Mag die Here jou seën uit Sion” (Zenger 1997:365). Psalm 132–4 sluit die reis wat in Psalm 120–2 begin het, af. Psalm 133 en 134 verwoord in sewe verse die seën wat van Sion uitgaan by die vertrek van die reisiger na sy alledaagse lewe (Ravasi, Gianfranco 2002:984; Schuman 2008:139).

Dit is die antwoord van die priester (Zenger 1997:366). Dit is ook die begin van die Aäronitiese seën (vgl Numeri 6:24–6). Die Here se lewensbeskerming en hulp word uit Sion toegesê. Die seker wete van die nabyheid van die Skeppergod sal die reisigers na hulle alledaagse lewe begelei. Die Here se seën is sy geskenk aan hulle.           

Ons mag die Here se seën nie net vir onsself en ons groep bewaar nie. Dit behoort aan God se hele wêreld en ons skuld dit aan hulle. Deur die Here se seën aan ander te gee en te gun, nooi ons hulle uit om God se koningskap te besing.

Uit die mond van die Nuwe Testament hoor ons ook ’n seëngebed. “Die genade van die Here Jesus bly met julle!” (1 Korinthiërs 16:23). Dit is die duur genade waarvoor Hy ter wille van ons met sy lewe geboet het sodat ons kan lewe, ewig kan lewe. Ons moet sy liefde en guns aan ons vier. Hy wil sy liefde soos vlerke oor ons oopvou. Dit is sy liefde wat ons oor steiltes en kronkelpaaie dra. Ons moet die liefde ook aan mekaar uitdeel.

Geseëndes gaan huis toe. In vrede. En onthou: Die reis is nog nie voltooi nie. Die nuwe hemel en die nuwe aarde is nog in aantog.

Bronnelys

Beyerlin, W. 1982. Wider die Hybris des Geistes Studien zum 131. Psalm. Stuttgart: Verlag Katholisches Bibelwerk.

Frevel, C. 2006. Anthropologie. In A. Berlejung en C. Frevel (reds.). Handbuch theologischer Grundbegriffe zum Alten und Neuen Testament. Darmstadt: WBG. 

Google, 5 Oktober 2023.

Jüngling, H-W. 2001. Psalmen. In E. Eynikel, E. Noort, T. Baarda en A. Denaux. Internationaal Commentaar op de Bijbel. Kampen: Uitgeverij Kok. 

Netwerk24, 7 Oktober 2023.

Prinsloo, W.S. 1984. Van kateder tot kansel. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

—. 1991. Die Psalms leef! Halfway House: NG Kerkboekhandel. 

Schuman, N.A. 2008. Drama van crisis en hoop. Zoetermeer: Meinema. 

Seybold, K. 2003. Poetik der Psalmen. Stuttgart: Verlag Kohlhammer.

Vos, C.J.A. 2005. Theopoetry of the Psalms. Londen en New York: T&T Clark.

—. 2016. God die groot Digter. Lynnwoodrif: Cordis Trust Publikasies.

—. 2023. Ongepubliseerde gedig.

Zenger, E. 1997. Die Nacht wird leuchten wie der Tag: Psalmenauslegung. Freiburg: Herder. 

—. 2004. Stuttgarter Altes Testament. Stuttgart: Katolischer Bibelanstalt.

—. 2008. Psalm 120. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.

—. 2008a. Psalm 121. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101–150. Freiburg: Herder.

—.2008b. Psalm 131. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101150. Freiburg: Herder.

—.2008c. Psalm 134. In F-L. Hossfeld en E. Zenger. Psalmen 101150. Freiburg: Herder.

  • 3

Kommentaar

  • Susan Vorster

    Wat 'n plesier om die artikel te lees. As dit ten doel gehad het om die leser uit te daag om dadelik na die Pelgrimspsalms te gryp, het dit uitstekend geslaag. Die diepte van die bespreking is beslis vir die student van waarde. Dit is 'n aansporing om self dieper te delf in hierdie Psalms. Die titel "Opskud, die pad is steil en ver" 'n uitdaging op sigself! Geluk Cas, 'n besondere stuk werk.

  • Stem heelhartig saam met Susan Vorster. Dit spoor die leser aan om self die pelgrimsreis van die Psalms aan te pak, met al die hedendaagse rotse wat mens op hierdie reis uit die weg moet ruim. Dankie vir hierdie aansporing, Cas Vos!

  • Dankie Cas, dat jy my en ander lesers wat gemeen het ons 'ken' die Bybel, attent maak op die Pelgrimspsalms. Op ons pelgrimstog vanaf die problematiese Meseg en Kedar met die probleme van hierdie ondermaanse maak jy ons oë oop sodat ons ons oë kan opslaan na die berge vanwaar ons hulp sal kom.

    Jy maak die Pelgrimspsalms, wat terugdateer na 400 vC, relevant tot die huidige problematiese toestande van oorloë in Oekraine en Gasa, oorstromings, aardbewings en die herinnering aan ons prekere bestaan op hierdie planeet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top