
Foto: Canva
Pasiënt Onbekend
Goeiedag, mevrou.
Ekskuus.
Ek bedoel:
Goeiedag, mevrou-dokter.
Bou u nog ’n huisie by die see,
waar kinders speel en vakansies hou?
En die groot bosveldplaas,
hoe gaan dit daar?
Die plek waarheen dokter gehaas het
toe Jan,
my man,
alleen, met sepsis,
die dood nie langer kon keer.
Is die hospitaalsaal
nou weer veilig,
onder nuwe beheer?
Siestog.
Neem die sneesdoekie.
Hier, in die spreekkamer,
deel ons leed.
Vergewe my.
Ek het vergeet:
dankie
vir die onverwagte weduweeskleed.
Stuur groete tuis.
Veral vir dokter.
Hy ken my.
Hy sal onthou.
Ek is
Pasiënt Onbekend.

