
Titel: Partytjies is pret 2
Outeurs: Arina du Plessis en Bernice van der Merwe
Uitgewer: Tafelberg
Aantal bladsye: 128
‘n Kinderpartytjie is daardie een-keer-‘n-jaar, wow dag wat ogies laat blink. Deesdae moet mens egter nogal kopkrap om ‘n prettige en bekostigbare okkasie te reël en is dit beslis ‘n fyn kuns om te onderskei tussen “spesiaal” en "totaal en al oorboord gaan”. Beplan, begroot, bak en (ver)brou ... dit alles kan oorweldigend wees, veral as die opgewonde verjaardagkind ‘n eksotiese tema kies of verwagtinge koester wat slegs ‘n professionele party planner se hande sal laat jeuk en heel waarskynlik jou sak gaan ruk.
Partytjies is pret 2 is ‘n welkome handleiding wat wys hoe om oulike, onvergeetlike partytjies vir dogters en seuns te reël. Sommige idees kan ook goed werk of aangepas word vir ‘n tema- of verjaarsdagpartytjie vir enige ouderdom of begroting. Dié praktiese, kleurvolle en eg Suid-Afrikaanse gids bied ‘n mengsel van eietydse en ouwêreldse idees en jy gaan (genadiglik) tevergeefs soek na inspirasie vir ‘n partytjie met Tellytubbies, Hannah Montana of Spider-Man.
Die inleiding fokus kortliks op beplanning, geldsake, veiligheid, ouderdomme en algemene wenke, waarna daar in besonderhede uitgebrei word oor 22 partytjietemas wat strek van die uitnodiging reg deur tot iets-om-saam-te-neem. Die meeste van die items is handgemaak, en sommige sal heelwat tyd en vernuf verg (en in sekere gevalle ‘n redelike begroting). Jy mag dalk sukkel om spesifieke bykomstighede in ‘n winkel naby jou op te spoor, maar dis net hier waar jou eie kreatiwiteit moet vleuels kry.
Die 22 temas se koekontwerpe is redelik gevorderd, maar daar word in vier duidelike, volledige stappe gewys hoe om dit te versier. My gunsteling-koeke is “Kyk die grootwild” se opvreetbare Kameelperdkoek (bl 16), “Bak en brou” se ouderwetse Oondkoek (bl 36) en “Ons gaan see toe” se sensasionele Sonsoekerkoek (bl 60). Die spreekwoordelike kersie op die koek is beslis “Pienk koninkryk” se asemrowende Af-eet-kasteelkoek (bl 88). Met die hoop op sulke mooi resultate is die bakpoging beslis die moeite werd! Soet en sout peuselgoed- en drankieresepte bied selfs aan die mees uitsoekerige lekkerbek ‘n bederf en hier is ware juweeltjies die vrolike visbaklemonadedrankie (bl 51), die mooiste Meringuesneeuvlokkies (bl 54) en gesonde Kamma-soesji (bl 74).
‘n Verdere afdeling bied 15 “Vinnige verjaardagkoeke” wat enige ongesoute bakster maklik sal kan baasraak, asook ses ekstra maklik-om-te-maak kolwyntjieversierplanne waarvan die fraaie vissies (bl 111) oorspronklik en treffend is. ‘n Beproefde koekresep vir diabete ontbreek ongelukkig en sou ‘n goue bonus gewees het.
Nuttige bak- en versierwenke, idees vir speletjies, patrone van motiewe wat in die temas voorkom en ‘n maklik-naslaan-register vorm die laaste gedeelte van hierdie pragboek wat nie net ‘n ereplekkie op jou kombuisrak verdien nie, maar ook ‘n oulike geskenk vir iemand kan wees.


Kommentaar
Ek is op soek na Partytjies is Pret nr 1 en 2 deur Arina du Plessis en Bernice van der Merwe. Ek het die vir seuns en dogters nr 3 en 4.
Waar kan ek dit baie dringend in die hande kry? Kan iemand my asseblief dringend kontak met die inligting.
Baie dankie
Linda
Enige tema voorstelling vir 'n verlowingspartytie in des asb.. Dankie