Partenogese vir Christendommies

  • 1

Partenogenese is ’n proses waardeur  ’n lewende organisme ontwikkel uit ’n onbevrugte eiersel. Dit is ’n manier van voortplanting veral by sekere plante, maar kom ook voor by sekere insekte, asook by akkedisse, en visse.

By soogdiere (en die mens is ’n soogdier) kom dit  glad nie natuurlik voor nie. Wetenskaplikes kan dit wel laat plaasvind deur bv twee eierselle bymekaar te bring, en die een elektries en chemies te stimuleer en geneties te manipuleer sodat dit optree asof dit ’n spermsel is. Die produk is altyd vroulik.

Sou ’n mens kon teruggaan in die evolusionêre geskiedenis van die soogdier, was dit heel waarskynlik die primitiewe manier van voortplanting, want die soogdier is basies vroulik. ’n Man hoef maar net sy hemp uit te trek, en die twee tieties is duidelik sigbaar op sy bors –  die Bybel vertel  dit andersom, nl. dat Eva van Adam se ribbebeen gemaak is. (Waarom God vir Adam volwasse geskape  het met twee tette, was nog altyd ’n raaisel. Vir wie gaan hy van moedersmelk voorsien?)

Soogdiere wat partenogeneties in die laboratorium gebore word, sterf byna onmiddellik, alhoewel wetenskaplikes al daarin geslaag het om van hulle aan die lewe te hou.  

Die Christene wat dus aan hierdie grashalmpie vasgeklou het om tog maar wetenskaplik te “bewys” dat  maagdelike geboorte kon plaasgevind het, kan maar bedaar. Toe die sogenaamde Christus  gebore is, was daar nog nie wetenskaplikes wat hierdie kennis gehad het nie; dus sou God nie op hierdie manier bonatuurlik kon ingryp nie, want hy sou ook nie die kennis gehad het nie. Hy is mos maar  ’n skepsel van die mens se verbeelding.

Dit is as gevolg van evolusionêre ontwikkeling dat die soogdier nie meer partenogeneties kan voortplant nie. Eier- en spermselle bevat dieselfde gene, maar deur aan-  en afskakeling van sekere funksies word hierdie proses teengewerk. Dit is ’n goeie voorbeeld van wat Richard Dawkins bedoel het met sy “selfish gene”. Reproduksie kan eenvoudig nie plaasvind sonder die manlike sperm nie, en so word die manlike gene van ’n toekoms verseker.  Dit is terselfdertyd ’n verdere bevestiging van die rol van natuurlike seleksie en die evolusieteorie.

Wetenskaplikes kan Partenogenese gebruik om lewende organismes te skep in die navorsing van stamselle. Moraliste kan dan mos  nie kla dat ’n die organisme  ’n mens is as daar nie bevrugting op die gewone manier plaasgevind het nie?

Wat die Bybel betref, sit die Christen met ’n yslike dilemma. Aan die eenkant moet hy alles van die wetenskap ontken, want wetenskaplike kennis vernietig Bybelse onkunde. Aan die anderkant wil hy tog so graag die Bybelse gebeure wetenskaplik juis verklaar hê. Populêre temas is o.a. Noag, die ark en die groot vloed, die tien plae van Egipte, Moses wat die Rooi see oopkloof vir die Israeliete om droogvoets deur te loop, die maagdelike geboorte van Christus. Dis waarmee die Kreasionistiese pseudowetenskap hom voltyds besig hou, en natuurlik moet evolusie eenvoudig verkeerd  bewys word.

Die wetenskap hou hom besig met nuwe ontdekkings en die toets van alles in die soeke na valshede. As Christene sê dat die Bybel nie mitologie is nie, maar ’n getroue weergawe is van werklike gebeure, dan moet hulle nie huil as dit met die wetenskaplike en ’n historiese weegskale geweeg word nie.

Onlangs was ek by ’n familiesaamtrek, wat na twee dae afgesluit is met skriflesing, die onafwendbare preek, en gebed, en hét die dominee nie te velde getrek teen die “aanvalle” op die Bybel in koerante en tydskrifte nie! Hoe dúrf iemand iets teen die Bybel sê; dis mos Gód se woord!

Christene sal moet kies: óf die Bybel is ’n mite, óf dis ’n klomp leuens.

Groete
Angus

  • 1

Kommentaar

  • Stephan Marcus

    Op geen stadium het soogdiere partenogenies voortgeplant nie. Seksule voortplanting het al ontwikkel voor die eerte wurms geëvoleer het...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top