
Foto: Canva.com
Pappa
My pa het oud geword
en klein en krom:
oor sy gesig en moeë lyf
is in diep lyne
die kronkel-storie
van ’n arbeidslewe
ru en stram geskryf.
My pa se woorde
is aan’t verdwaal:
hy bring te dikwels
sy hande by,
laat verontwaardig
sy gedagtes
– van sin ontsê –
deur stom vingers gly.
My pa se kyk
het dof geword:
hy sien deur waas
wat vae perspektief
in die skemer van
sy gesigsveld plaas.
My pa se hande
het hul vasvat verloor,
sy knobbel-vingers
bewe as hy werk;
sy voete loop
’n skuifel-spoor,
hy staan nie meer
voor in die kerk.
Maar as hy stil
sy hande vou
en by sy
Heer gaan sit:
word hy weer regop,
weergalm sy woorde,
skyn sy oë
en als in hom
word helder en wit
– soos altyd –
as Pappa bid.


Kommentaar
Pragtig, Salvia.
Damn woman. Jy laat my huil
Baie dankie Anzé. Waardeer.
Dankie vir die waardering. Ek is bly dat my woorde jou raak en waardeer jou kommentaar.
Pragtig!
Baie dankie.
Ek het hartseer geraak. Baie mooi.
Baie dankie, Jannie.