Paolo en Francesca se liefdesvlam

  • 3

Skildery van Dante deur Sandro Botticelli (bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Dante_Alighieri#/media/File:Portrait_de_Dante.jpg)

Hierdie artikel is ’n bydrae tot die herdenking van Dante Alighieri se 700ste sterfjaar. Die herdenking word feestelik in Florence en Ravenna gevier. Onthou tog net die maskers en die veilige afstand!

Die mees bekende deel in Dante se Inferno, canto V, is sekerlik die ontmoeting met Francesca en Paolo in die na-lewe.

Hierdie verhaal het wyd aanklank gevind. Om vier voorbeelde uit die kunswêreld te noem: In 1889 het Rodin sy Francesca da Rimini geskep (later is dit herdoop tot Le baiser en onderskei van die komposisie La porte de l’enfer). Frank Dicksee het in 1894 ’n olieverfskildery, Paolo and Francesca, gemaak. In 1914 is ’n opera, Francesca da Rimini, van die Italiaanse komponis Riccardo Zandonai (1865–1944), op hierdie canto gebaseer, vir die eerste keer uitgevoer. ’n Film, Paolo e Francesca, is in 1950 deur Raffaello Matarazzo vervaardig.

In canto V van die Inferno kom Dante se retoriese en komposisievermoë duidelik na vore. Hy lig die Franse Middeleeuse romantiese verhaal van Lancelot en Guinevere se buite-egtelike verhouding meesterlik in die vertelling van Francesca en Paolo toe. Dante, die digter, word diep deur die tragiese en menslike liefde van Francesca en Paolo gewond, al kan hy die liefdesontrou nie verbloem nie.

Die episode van Paolo Malatesta en Francesca da Polenta begin by reël 73. Dante verwys waarskynlik na die ware verhaal van die aristokratiese Francesca da Polenta en Paolo Malatesta. Hulle het in Dante se jeug in ’n opspraakwekkende moord hulle lewens verloor. Francesca is in ongeveer 1275 om politieke redes (die versoening van hulle families) met Gianciotto Malatesta, die prins van Rimini, getroud. Hy was ook as “die Kreupele” bekend. Sy raak betrokke in ’n liefdesverhouding met sy jonger broer Paolo. Haar man vind dit uit en vermoor albei in die familiekasteel, Gradara, ongeveer 30 km van Rimini af (Lansing 2000:409–14). In die hel word Francesca nie meer toegelaat om te bid nie. Dante se verwysing na die ligte reis op die wind (reël 79) wys daarop dat hy selfs onder sy haglike omstandighede nog van die bekoorlikheid en aantrekkingskrag van die romantiese liefde bewus bly.

Hierdie verhaal is waarskynlik een van die ontroerendste van die hele Commedia. Dante se karakters is wesens van vlees en bloed, mense wat deur die krag van die liefde meegevoer word. Dante, wat self die pyn van die liefde ervaar, word diep geraak deur die tragiek van Francesca en Paolo se liefdesgeskiedenis. Hy is ook intens bewus dat die pad van die liefde na afdraaipaadjies kan lei. Hoe sal hy ooit vir Beatrice vergeet?

In hierdie hartroerende verhaal word die teenstrydighede van die liefde blootgelê. Francesca hunker na die goeie tyd saam met Paolo, maar haar wrewel teen hom kom ook aan die lig. As aristokratiese dame praat sy verfynd, en Dante, die pelgrim, swig daarvoor. Maar Dante, die nugter digter, suggereer haar bitterheid, ydelheid, selfsug en selfverontskuldiging. In die gees van haar tyd stel sy die liefde as ’n onweerstaanbare mag voor. Sy aanvaar nie haar verantwoordelikheid en skuld nie. En tog koester die leser die liefdeswaansin van Francesca. Dante spreek die verliefdes nie vry nie, maar sy oordeel is getemper deur die liefde. Die liefde dra en verdra byna alles. Drie keer word “Amor” aan die begin van ’n reël geplaas (100, 103 en 106). Hiermee word Dante se komposisievernuf bevestig. Beatrice bly steeds die koningin van sy hart.

Ten einde my vertaling te begryp, gee ek toeligting oor die vertaling. Die digter met wie Dante in reël 73 ’n gesprek voer, is sy gids Vergilius. In reëls 100–101 varieer Dante ’n liefdesreël van Guido Guinizelli (1235–1276). “Foco d’amor in gentil cor s’apprende”: In u edel hart ontvlam die liefdesvuur. In ’n kommentaar oor Guinizelli se canzone word klem gelê op die teenstelling tussen edel en onedel (dus nie-aristokraties), en dat dit kenmerkend is van die edele hart dat liefde daar sal ontvlam. (Dit is dus waarskynlik ’n stelling van Dante dat in ’n edel hart dié liefdesvuur ontvlam, met verwysing na Francesca.)

Die naam Kaina in reël 107 verwys na Gianciotto Malatesta wat sy vrou en broer vermoor het. Daarom word sy siel na die eerste afdeling van die onderste sirkel van die hel gestuur, waar diegene wat hulle familie verraai, gestraf word. Hierdie afdeling dra die naam van Abel se moordenaar. Dante het geen simpatie met die verontregte eggenoot wat hom gewreek het op die owerspel van sy vrou en broer nie.

Die Romeinse filosoof Boëthius (ongeveer 480–524), skrywer van De consolatione philosophiae, kon Dante se woorde wat Francesca gebruik, geïnspireer het. Boëthius skryf: “… want van alle verdriet, wat die teenslae van Fortuna ons berokken, is smart die swaarste: om eenmaal gelukkig te gewees het!” (reëls 121–123). Die woorde “… jou leermeester weet van die suur asyn” (reël 123) herinner aan Aeneas se gevleuelde woorde aan Dido, in Aeneïs II, 3: “U laat my, koningin, onsegbare leed beleef.”

Dante lewer in reël 137 kritiek op die ridderromans van sy tyd, eintlik op die amoreuse dele daarvan. In die Franse roman, Lancelot du Lac, of ’n verwerking daarvan, lees Paolo en Francesca van die avonture van die Middeleeuse ridder Lancelot (Kennedy en Corley 2008). Dáár word vertel van die buite-egtelike liefdesverhouding tussen die ridder Lancelot en Guinevere, koning Arthur se vrou. Die soen wat sy op Lancelot afdruk, laat die liefde onblusbaar vlam. Die boek wat Paolo en Francesca lees, vermoedelik die dertiende-eeuse Franse weergawe, word aangedui as ’n Galeotto (galeislaaf, tronkvoël, skelm jakkals, tussenganger). Die woord tussenganger is heel geskik vir die boek en die skrywer wat Lancelot en Guinevere na mekaar gebring het en haar aangemoedig het om Lancelot te soen.

Die beroemde reël 138, “Daardie dag het ons twee die boek laat rus”, kan beteken dat dit nie by een soen gebly het nie, of dat Paolo en Francesca op heterdaad betrap is en doodgemaak is.

Teen hierdie agtergrond kan my vertaling van canto V, reëls 73–142, verstaan word.

73  “Digter, ek sou graag aan dié twee iets wou vra,”
      het ek begin. “Hulle wat hul aan mekaar toewy,
      lyk of die vlerke van die wind hulle saamdra.” 

76  Hy sê vir my: “Jy sal hulle sien wanneer hulle nader
      aan ons is; jy hoef hulle net te vra in die naam
      van die liefde wat hulle lei, en hulle sal by ons vergader.”

79   Die wind het hulle na ons kant toe gebied,
       ek het uitgeroep: “O vermoeide geeste, kom praat
       met ons –  tensy ’n Ander julle op die weg verbied.”

82   Net soos duiwe, deur een innige begeerte se behae,
       met uitgespreide vlerke en stil op pad na die soet nes
       luglangs vlieg, deur begeerte geroep, deur instink gedra, 

85    só het hul die skare waar Dido was, vaarwel toegeroep,
        en deur die bose lug gretig na ons toe gekom,
        só sterk aangespoor en gedra deur my liefdevolle roep.

88    “O lewende wese, so beleef en vriendelik,
        wat deur die purper lug na ons toe gekom het,
        bloedbevlek het ons die aarde laat misluk.

100  Liefde wat snel in die sagte hart die oorhand kry,
        het daardie een vanweë my skoonheid aangegryp.
        Hy is van my weggeruk; die wyse waarop – dit bedroef my.

103  Liefde waarmee die beminde innig bemin,
        het my soveel plesier aan hom laat gee;
        dit is nog net so kragtig soos aan die begin.

106  Liefde het vir  ons ’n requiem voorberei;
         Kaina wag vir die een wat die liefde geblus het.”
         Ná al die woorde het Francesca stilgebly.

109   En ná die aanhoor van haar liefdesklagtes,
         het ek my kop laat sak en dit lank só gehou,
         totdat die digter my vra oor my somber gedagtes.

112   Toe ek woorde bymekaar kon kry, het ek bely:
         “Ag, dat sulke soet gedagtes, so ’n groot begeerte
         hulle op die pad van hul smartlike lyding kon lei!”

115   Ek het daarna na hulle toe gedraai en begin praat:
         “Francesca, jou beproewinge beweeg my tot trane
         van innige verdriet en diep jammerte sonder maat.

118   Maar vertel my hoe die liefde in die tyd
         van julle soet versugtinge dit reggekry het
         dat twyfelagtige begeertes jou oorval het, tot jou spyt?”

121  En sy het geantwoord: “Daar is geen groter pyn
        as om in ’n tyd van ellende aan dae van vergange geluk
        terug te dink nie; jou leermeester weet van die suur asyn.

124  Maar as jy so gretig is om die liefde se towerspel
        te leer ken en wil weet hoe liefde ons twee oorrompel het,
        sal ek tussen my trane deur met jou praat en jou vertel.

127  Ons het op ’n dag sommer vir tydverdryf gelees
        hoe die liefde Lancelot se knieë laat knak het.
        Ons was saam in die bootjie, sonder enige vrees.

130  Meermale het die lees van daardie verhaal
        ons oë na mekaar laat draai en laat bloos;
        maar één passasie was genoeg om ons oor te haal.

133  Toe ons lees hoe haar begeerlike lippe versag
         en deur so ’n minnaar liefdevol gekus word,
         het die een onskeibaar van my, my bedag

136  op my mond gesoen, bewend en belus.
        Die skrywer van die boek was ons Galahad.
        Daardie dag het ons twee die boek laat rus.”

139  Terwyl die een gees dit so aan ons weergee,
        het die ander een so onbedaarlik gehuil dat ek
        uit diep jammerte wegkrimp, asof ek die gees gee.

142  En soos ’n dooie liggaam slaan ek neer, op die plek.

Wat ’n menslike liefdesramp en -tragedie. Die liefdesverhaal van Paolo en Francesca is tydloos.

Dankwoord

Met soveel dank aan en waardering vir prof Ernst Kotzé se noukeurige en skitterende versorging van die vertaling uit Italiaans.

Grondteks

Gazzoni, Andrea. 2020. Mapping Dante. A study of places in the Commedia. Rome: Biblioteca Apostolica. (Italiaans)

Bronne geraadpleeg

Brouwer, Rob. 2000. Dante Alighieri. De goddelijke komedie. Deel I: Inferno. Leiden: Primavera Pers.

Cialona, Ike en Verstegen, Peter. 2013. Dante Alighieri. De goddelijke komedie. Amsterdam: Athenaeum – Polak & Van Gennep.

Ciardi, John. 1954. The Inferno. Vertaling deur John Ciardi. Historiese inleiding deur AT MacAllister. New Brunswick, New Jersey: Rutgers University Press.

Durling, Robert M en Martinez, Ronald S. 1996. The Divine Comedy of Dante Alighieri. Inferno. New York: Oxford University Press.

Du Toit, Delamaine. 1990. Die Hel. Italiaanse teks met Afrikaanse vertaling en kommentaar. Houtbaai: Zebra Publikasies.

Hollander, Robert en Jean. 2000. Dante Alighieri. Inferno. New York: Doubleday.

Kennedy, Elspeth. 2008. Lancelot of the Lake. Inleiding deur Corin Corley. Vertaling en aantekeninge deur Elspeth Kennedy. Oxford: Oxford University Press.

Lansing, R. 2000. Francesca da Rimini, in The Dante Encyclopedia. New York en Londen: Garland Publishing, 409­–14.

Musa, Mark. 1984. Inferno. Vertaal, met inleiding, notas en kommentaar deur Mark Musa. Harmondsworth, New York: Penguin Books.

Musa, Mark. 1995. Dante’s Inferno. The Indiana critical edition. Vertaal en saamgestel deur Mark Musa. Indianapolis: Indiana University Press.

Norton, Charles Eliot. 1891. The Divine Comedy of Dante Alighieri, Vol I. Boston en New York: Houghton Mifflin and Company. 

Pinsky, Robert. 1994. The Inferno of Dante. A new verse translation. Met notas deur Nicole Pinsky en voorwoord deur John Freccero. New York: Farrar Straus & Giroux.

Sinclair, John. 1939. The Divine Comedy of Dante Alighieri, Vertaal, met kommentaar deur Sinclair, John D. Inferno. New York: Oxford University Press.

Singleton, Charles S. 1970. The Divine Comedy. Inferno. Vertaal, met kommentaar deur Charles S Singleton. Princeton: Princeton University Press.

  • 3

Kommentaar

  • Cas: so dankie vir die blootstelling aan die digter Dante, en die vlam van liefde wat hy en ander in woorde gevang het!

  • Fanie Swanepoel

    Pragtige beligting van 'n komplekse liedesverhouding. Jou beskrywing van Dante se werk is 'n kunswerk. Dankie vir hierdie meesterlike vertaling.

  • Dit is wonderlik dat Dante se 700ste sterfjaar in Afrikaans herdenk kan word. Dit is 'n uitmuntende artikel wat die onbekende so toeganklik maak. Die Afrikaanse vertaling van Cas Vos is skitterend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top