Panda se skakel na Dave en Sakkie se gesprek

  • 1

Ek soek nou die dag na iets op SêNet en kom op Panda se brief van 27 September 2016 af waar hy ’n skakel gee na die laaste program “Uit ’n Ander Hoek” en sterk aanbeveel dat daarna geluister moet word. Die kommentaar onderaan Panda se brief besing ook hierdie gesprek en maak dieselfde aanbeveling.

Ek het toe na die gesprek geluister en dit was voorwaar ’n uiters interessante gesprek. Ek het my verwonder aan prof Pepler se wye kennis en prof Spangenberg is ook nie ’n brood wat onder ’n volstruis uitgebroei is nie.

Maar, so interessant as wat die gesprek was, so eienaardig was dit ook. Die twee here maak ’n groot storie van hoe die aarde verniel is en hoe naby ons aan ’n ekologiese ramp sou wees en verkondig terselfdertyd ’n nuwe benadering tot die godsdiens, ’n soort benadering wat, lyk dit my, so reg in die kraal van ateïste en agnostici sal val. Dit is seker hulle reg maar die indruk word geskep dat, sou daar aan hulle aanbevelings gehoor gegee word, die aarde dan gered sal word.

Hoe so? Die twee onderwerpe is disjunk. As hulle nog gewaarsku het teen die Ou Testamentiese opdrag van “gaan heen en vul die aarde” maar dit is nooit eers genoem nie; dit sou darem ’n skakel gewees het tussen hierdie twee onderwerpe. Sakkie het dit (onder andere) teen die ‘gered word’-idee en Dave stem heeltyd saam. Weer eens, hulle het reg tot ’n eie mening maar wat het dit met ekologiese bewustheid te doen?

Ek wonder of hierdie ’n soort van debatstruuk is want Arnold Schwarzenegger het dieselfde taktiek in ’n tirade teen Trump gebruik (YouTube). Hy kla oor Trump Amerika van die Parys-akkoord onttrek het en gee dan ’n hele relaas oor besoedelde riviere en dies meer, so al asof Trump met hierdie onttrekking besoedeling sou vergoeilik.

Ek sal graag van dié (Panda, Jaco en Dirk) wil hoor hoe hierdie kloutjie by die oor pas.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan Rap,
    Die programleier het ter inleiding die stelling gemaak dat die mens besig is om ons planeet te vernietig en dat ons ’n ander soort teologie — ‘groen teologie’ noem hy dit — nodig het om die aarde te red. Die res van die bespreking het maar basies uit beide sprekers se bevestiging en ondersteuning van dié standpunt gegaan. Maar nietemin ’n interessante gesprek, soos jy tereg sê.
    Myns insiens kan geen teologie, insluitende die voorgestelde ‘groen teologie’ en helaas ook nie die wetenskap nie, die aarde of iets op die aarde red nie. Die aarde is ongelukkig te na aan ’n uiters gevaarlike atoomreaktor, die son, geleë. Die son se verwagte lewensduur is hopelik nog 5 tot 6 miljard jaar maar binne die volgende 500 000 tot 1 miljard jaar gaan die son die era van lewe op die aarde beëindig en dan dit wat van die aarde se atmosfeer oor is, wegblaas en daarna die oseane en elke druppel water wegkook voordat hy ten slotte die aarde verorber — elke atoom daarvan, die hele lot. Die beste wat gedoen kan word, is om ’n poging aan te wend om ’n dreigende ekologiese ramp effens uit te stel of om die onafwendbare te aanvaar en te emigreer na ’n ander planeet toe.
    As jy belangstel in voorstellings oor die onafwendbare dood van die son en die aarde kan jy die die volgende webwerf besoek. Daar is kort duskant 100 animasies en jy kan uitsoek — almal het maar dieselfde boodskap.
    https://video.search.yahoo.com/search/video?fr=tightropetb&p=how+the+sun+will+die#id=55&vid=fa489f4eb11a593de5516e884cd07c7c&action=view
    Terloops — jy maak die opmerking dat die nuwe benadering wat die twee here bepleit so reg in die kraal van ateïste en agnostici sal val. Natuurlik behoort elke regdenkende mens pogings te ondersteun wat ten doel het om die vernietiging teen te werk. Ek kan en wil nie namens ateïste argumenteer nie, maar ek meen geen ateïs sal met daardie oogmerk van die sg groen teologie ’n probleem hê nie. Maar ateïste glo oa nie aan gode en bonatuurlike wesens of aan die opwekking en opstanding van mense wat honderde en duisende jare al dood is nie, of aan die hemel of aan die hel nie, en as geloof hierin ook deel van die groen teologie se evangelie is, dan kan ek nie insien op grond waarvan die sg groen teologie, volgens jou, in die ateïste se kraal sal val nie.
    Groete
    Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top