Pamela Jooste se armmansdogter in Afrikaans

  • 0

Titel: Dans met 'n armmansdogter
Skrywer: Pamela Jooste
Uitgewer: Umuzi
Formaat: Slapband
ISBN: 978 1 4152 00 57 5
Aantal bladsye: 351

 

 

Pamela Jooste se bekroonde roman Dance with a poor man's daughter, wat in 1998 verskyn het, is ook nou in Afrikaans beskikbaar; vertaal deur Linda Rode.

Hierdie verhaal word vertel vanuit die perspektief van die twaalfjarige Lily Daniels en soos dit gewoonlik die geval is met romans wat deur die oë van 'n jong kind aangebied word, is sy 'n klein wysneus en neem sy besonder nou waar wat om haar gebeur - sonder om mens noodwendig, soos dit dikwels die geval is met sulke kindervertellers, eindeloos te irriteer met haar slimheid.

Vrouekarakters en die lotgevalle van die vrou staan sentraal in hierdie teks en hierdie roman kan met vrug gelees word aan die hand van feministiese teorie, byvoorbeeld die karaktertekening van vroue, vroue se rol as versetstryders, vrouetaal, en die taal van die vrou as skrywende instansie. In die teks is daar die sterk ouma-matriargfiguur (in haar jeug is sy as ? tierwyfie bestempel); Gloria, die femme fatale; Stella, die sorgsame dienende Martha; Evie, die nydige, onvergenoegde vrou; Issy, die slagoffer van huislike geweld; Katie van Breda, die wit rykmansdogter met haar betrokkenheid by die Black Sash - om maar enkeles te noem. Voorts word Gladness, die swartbediende-karakter, ook ingebring om die ganse spektrum van vroue te dek. Of daar is Mathilda, die arm meisie van Upington wat as prostituut opeindig en in die kloue van die uitbuiter Philander beland - haar rol in sy sjebien kan mens natuurlik vergelyk met Gloria se soortgelyke rol in Johannesburg, maar met laasgenoemde wat 'n baie sterker karakter is en nie so gedienstig aan die man nie.

Tekenend van die feministiese verset deur vroue in die roman is Gloria se opmars teen die gedwonge verskuiwing vanuit Distrik Ses, of haar eenvroubetoging voor die tronk in Roelandstraat. (Terloops, hier het ek 'n vraag: Was die polisie werklik in daardie dae so tegemoetkomend, veral teenoor 'n bruin vrou wat teen die landswette in opstand kom?)

In kontras tot die matriarg en haar gesin, wat godsdienstig leef en nie enigsins protesteer teen die Groepsgebiedewet nie, is die karakter Gloria. Sy is Lily se ma en aan die begin van die teks leer ons dat sy net weggegaan het "om te try vir white" (22) elders in die land. Wanneer sy eendag wel terugkom, ontwrig sy die gemoedelike bestaan van die res van die gesin en kom sy byvoorbeeld in opstand teen gebed (116) en word sy later as "'n vrou wat haar eie kop ken" (119) beskrywe, omdat sy haar nie laat inperk deur die sosiale regulering van die bestaan nie. Sy is byvoorbeeld die enigste een wat vir Mathilda opkom as dié deur Philander aangerand word, en sy is ook die een wat probeer om haar moeder se huis van die stootskrapers te red. Dis ironies dat dié huis juis een van die min huise is wat jare later steeds staan - maar nou in wit besit.

Die mans in die familie word óf gekarakteriseer as gay (oom Erroll in Engeland wat saam met sy lover woon), óf hulle eindig op as gangsters, soos dit die geval is met Royston/Domingo. By monde van Gloria word soos volg oor die mans in haar familie en in die buurt gepraat: "Dis wat my ma vir die vrouens van die Valley sê. Sy sê as hulle vir hulle mansmense wag om iets te doen, sal hulle baie lank wag en daar's nie 'n wet wat sê dat vrouens nie vir hulleself kan opstaan nie" (236).

Die mans word veral geassosieer met huislike geweld jeens hulle vroue, want soos die ouma dit stel, "met die agterkant van die hand" (237) oefen mans beheer uit oor hulle vroue. Dit gebeur egter in alle strata van die samelewing, want Issy se geleerde wit man takel haar ook wanneer sy as lid van die Black Sash betoog (280).

Hierteenoor is James, wat met behulp van Gloria daarin kon slaag om in Engeland te gaan studeer (153) en met wie sy altyd 'n besonderse band behou. Dit is ook hy wat Gloria aanpor om dieselfde vir Lily te doen en haar weg te stuur na Engeland, want sy moet nie deel wees van die struggle en ly onder foute wat ander mense in hulle onnoselheid gemaak het nie (310).

Die gebeure in die roman sentreer rondom die destydse verskuiwing weens die Groepsgebiedewet en sny etlike belangrike sosiopolitieke kwessies aan, soos die rol van die vrou, die wit-bruin-swart-verhoudings in die land, ekonomiese ongelykhede, ontwrigting van die gesinslewe en die werklikheid van ballingskap, die rol wat die eie kultuur speel ten opsigte van ontvlugting aan die werklikheid (byvoorbeeld Klopse) of die rol wat dans speel (soos reeds in die titel gesuggereer), asook die betrokkenheid by die onreg in die land.

Ten spyte van al hierdie gewigtige kwessies, is die roman steeds leesbaar en word daar met deernis geskryf oor die onderskeie karakters en hulle lotgevalle.

Maar daar is ook heelwat humor in die roman. Vergelyk byvoorbeeld die beskrywing van Portia / Jack Hoxie se uitset wanneer sy die mans met die stootskrapers takel: "Sy't ? tiervelrok van satyn aan en rooi slangvelskoene met dik hoë hakke wat gevaarlik wiekel onder haar. Daar's lang stringe rooi en geel en pers krale om haar nek, en sy skree so hard en swaai haar lyf so kwaai rond dat die krale wild om haar vlieg en jy kan glad nie naby haar kom nie" (224).

Ek moet erken ek was maar bra skepties toe ek die lang aanhaling uit die werk van die wroegende Gordimer voorin sien, maar het gou besef dat hier 'n storie is wat mens kan lees. Dit word nie net nog 'n liberale traktaat oor die lot van die Ander vanuit die perspektief van die bevoorregte wit skrywer nie. Goed, mens sou tog kon vraagtekens plaas by die outentisiteit van die stemgewing aan die Bruin Ander of die mitologisering van Katie van Breda.

Ten slotte, die matriarg in hierdie roman word deel van 'n galery van sterk vrouefigure wat in die Afrikaanse prosa voorkom en dra by tot die intertekstuele gesprek oor die rol en posisie van die vrou in die apartheidsjare; vroue wat moes veg vir die behoud van hul gesinne onder die ergste omstandighede denkbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top