Padwaardigheidstoets

  • 2

Vanoggend met die kraai van die vierde haan, neem ek ons woonwa vir haar * padwaardigheidstoets. Iets waarsonder haar verkoop transaksie nie voltooi kan word nie. Vir ‘n ieder mag dit na niks vreemd klink nie, behalwe natuurlik dat ek nog nooit so iets gedoen het nie! Daar was dus so ‘n mate van ‘n gemoedskonsternasie te bespeur.

Ek het seker gemaak die ligte en remme werk. Die woonwa “gehaak” en is pad-af verkeerskantoor toe. “Nee, jammer ons kalibreermasjien werk nie; u kan ‘n ander toets sentrum probeer” Op dees aarde, wat kalibreer mens aan ‘n tweewiel woonwaentjie? Hulle kan mos maar net na die ligte kyk en dis dit. Neerslagtigheid en gemoedsbekakking klim saam met my in die bakkie terug. Nou vir die lang reis en lank wag by die volgende sentrum!

Maar nou-ja. Ek vat die pad na die toetsplek. Soos ek gefrustreerd in die verkeer sit, merk ek op hoe baie voertuie se een agterlig, of die nommerplaatliggie of die een remlig ens, nie werk nie. En ek dink by myself: “ jy gaan nou daar aankom en een van die ligte – wat sopas gewerk het – gaan dood wees. Hulle gaan dit uitwys en wat dan? Wel, dan gaan ek net vir die ondersoeker sê dat dit my eerstekeer by ‘n padwaardigheidstoets is en die lig netnou nog gewerk het…..” Ek beraam nou my verweerplan, net vir ingeval ek dit sou nodig hê. Toe dink ek verder: “wat doen ek indien die ondersoeker nie my storie glo nie en ek en die woonwaentjie die toets dop? Mmmm, maklik – dan sal ek die vent net daaraan herinner dat daar hoeveel ander voertuie is wat heeltemal onpadwaardig is en dat hierdie toetsdoppery onbillik is.”

Ek besef toe dat hierdie verweerplan verseker sal misluk, om die waarheid te sê; ek het namens die ondersoeker, wie ek nog nie ontmoet nie, vir myself vies geraak! Nee, die beste plan is: “ ek sal baie vriendelik en komplimenterend wees en as daar erens ‘n raakpunt uit ons gesprek kan kom, is my kanse net soveel beter”. Jip, dit sal werk.

Nader aan die toets sentrum kom die wekroep. Ek het die afgelope jaar of wat ‘n erge renons ontwikkel in die wetteloosheid van ons land; die korrupte amptenare; die voortrekkery en dubbel standaarde. En net daar, toe die skoen aan die eie voet is, toe gryp ek na aksieplanne wat alles bevat wat ek juis probeer afsweer en beveg. Toe is ek bereid om ‘n “regverdigbare” kompromie tussen my waardes en my gedagtes te laat sluit. Binne minute. Sjoe, wat sou die twee kon aanvang indien ek hulle ‘n daglank kans gegee het?

Met dit kom die sekerheid van “ ontspan, die ligte hèt gewerk. Hierdie oomblik en dag is in Sy Vaderhande, bestuur jy net die bakkie.”

By die toets sentrum was ek heel eerste in die ry. Die mense was vriendelik en die woonwaentjie het die komplimente gekry. Sy is haar toets deur. En ek, wel… ek het myne allereers gedop. ‘n Onverdiende bonuspunt hier teen die einde van die rit, het my darem ook laat slaag.

*”haar” want enige iemand kan sien dat sy nie ‘n “hy” is nie!

Hennie Fritz

 

  • 2

Kommentaar

  • Hennie, maak soos ek maak. Ek is altyd vriendelik en komplimenterend teenoor almal, of ek iets van hulle wil hê of nie. Het my al baie gehelp in die lewe, sonder dat ek soos 'n skurk moet voel. Selfs die "ondergeskikte"  tuinwerker Saterdag kry 'n glimlag en 'n koue Coke as die son brand.

  • As iets nie melkkliere het nie is dit onsydig en die besitlike en persoonlike voornaamwoorde van onsydige goed is soos die manlike.  Selfs 'n kar wat baie lekker ry word na verwys as 'n 'hy'.

    Dis nou in Afrikaans.  In Engels is omtrent alles 'n 'sy', oorlogskip, vegvliegtuig, laaigraaf, trein, missiel, haai, alles.  Dis simpel.  Engels, hoor ek, is 'n matriargale taal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top