Paaiboelie deur Chanette Paul: ’n resensie

  • 0

Titel: Paaiboelie
Outeur: Chanette Paul
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780799385397

Jojo Richter is terug! En soos gewoonlik is dié privaat ondersoeker gepantser met ’n bont kaftan en gewapen met ’n glasie Southern Comfort. Chanette Paul-aanhangers het Jojo reeds in Siende blind (2013), Raaiselspieël (2014) en Ewebeeld (2014) leer ken as ’n navorser wat haar intuïsie vertrou en nie vir die duiwel stuit nie. In Ewebeeld is sy gereeld as fokalisator ingespan en in Paul se jongste spanningsroman, Paaiboelie, word sy uitgebou tot ’n volronde karakter.

Jojo word gehuur om uit te pluis wat regtig sewe jaar gelede ten tye van Eduard Swiegelaar se moord gebeur het. Sy doen haar voor as ’n barmhartige Samaritaan wat Zaan Mentz, oftewel Lezanne Swiegelaar, Eduard se weduwee, help om haar intrek te neem in haar nuwe huis op die Crystal Crags-landgoed by Duiwel-se-snoet. Hier maak sy ook kennis met die ander inwoners, soos Lalie Laslap, Morbid Megan die Gothic Ghostbuster, Tertia die Tert, Douw die Donnerwetter, en die baas van die plaas, Estian die Black Knight. Dan is daar ook Tessa, Vister en die ander Roose. En natuurlik die paaiboelie: ’n haaslipseuntjie wat op ’n stormnag verdrink het en nou aan ’n mens verskyn net voordat jy die tydige met die ewige verwissel.

Die verskyning van die paaiboelie is nie die enigste Gotiese element in dié riller van ’n roman nie. Die onheilspellende atmosfeer wat op Crystal Crags heers, die raaiselagtige verdwynings, die sin(ne)begogelende Crystal Manor met sy trompe l'oeil-muurkuns en die begroeide grondvroue in die tuin wat lyk asof hulle hulle “probeer losworstel uit die aarde” sorg vir naelkouspanning. Die Duiwelsdriehoek se bose geheime word oopgevlek en kwessies soos verbode seksuele drange en die sondes van die vaders word blootgelê.

Te midde van al hierdie grusaamhede sorg Jojo vir ’n paar ligter giggeloomblikke en lyk dit ook asof daar uiteindelik weer liefde in haar rigting wink. Dis Joachim, oftewel “Vader Krismis gone wrong” soos sy hom aanvanklik takseer, wat haar oortuig dat ’n droë rosé darem nie soos “Kalahari-stof op die tong” is nie en amper nét so lekker soos haar geliefde Comfortjie smaak. Later sien ’n mens hoe haar gevoelens teenoor haar eksman begin taan en hoe Joachim mettertyd haar hart laat vermurwe, al gee sy hom elke nou en dan nog ’n kyk wat “’n braambos aan die brand kan laat slaan”.

Paul slaag skynbaar moeiteloos daarin om ’n oortuigende stem aan elke karakter te gee, twee verhaallyne deeglik te verweef sodat ’n mens male sonder tal kopkrap, en ’n ontknoping neer te pen wat jou mond behoorlik sal laat oophang.

Die feit dat karaktername nogal ooreenstem (Estian en Eduan; Tessa en Tertia) kan moontlik bydra tot die misterie, maar is tog verwarrend – veral as ’n mens vinnig wil lees om te sien wat op die volgende bladsy gebeur. Die leser word ook plek-plek met inligting gebombardeer, en al noop dit jou om aandagtig te lees, is daar hier en daar dele waar die dialoog langdradig is.

Paaiboelie sal nogtans soos soetkoek deur spanningsvrate verslind word. En Jojo Richter-aanhangers sal hoop dat sy in die volgende Paul-roman weer met haar “kwikstappie” aangestoom sal kom.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top