outo-historisiteit
moenie revisionisties, op verlede probeer leun,
dink daar’s g’n leuen, mite, illusie in weergawe,
fiktiwiteit wat deur superioriteitsindroom, ja,
ver-Hitler, ver-verregse, ver-Afrikaner, is
terwyl Bibault dronk op Bosch se Braak rondgestrompel’t,
vir ieder en elk, op tweerivier-eiland, sy identiteit uit t’spel,
nie bewus van hoe beroemd, bekint, sy moeder sou wees,
hoeveel ander “Africaanders”, soortgelyk, uit slawebekkens,
voortgespruit’t, lewe gesien’t, m’t slavinne as soogmoeders,
neo-Afrikaners, ingewydes in 'n onderdrukkersmaatschappij,
uit gebrek aan arbeid, uit behoefte aan vryer, lewensmaat,
ingewy as vakleerlinge, van dié neo-identiteit-konfusie,
later hul selwers, van anner slaafkjenners, af sou skei
leer nugtere aaire, indringelik oor “struktuurgeweld”,
al is’t eg onkund’-ontkennend, eeu op eeu vermy,
noggie eens’p vryheidsvegtersvergaderingsagenda,
eish, “bevryding” sou tog so UDF-lik, anners, voel
God Weet, kameraad, Mens ignoreer tog so graag,
doen waarskynlik nie altyd iets wat noodwendig,
mede-Mens, Homo Sapiens Sapiens, sou behaag,
oorskry oop-’n-bloot regulasies, Wet, Handves
probeer Self Self voorhou as “uitgeslape”,“slim”,
kanti, via “Duiwelspiek”-dissipel-Self-destruksie,
’s eie nageslag verraai, slinks in sjatanstabernakel,
Gewete-loos, as offerpand aan demoon oorgegee
Jacobus Faasen

