Ouma kan nou maar die geskirte Ingelse vergewe

  • 0

Somer in Julie, vyfuur op 'n Saterdagmiddag in Thurso voel vir 'n Gautenger soos winter in die Kaap waar dit natter as tandeklap is. In die Skotse Hooglande skyn die son helder. Raak eers by tienuur se kant donker. Opgetof in 'n goudkleurige aandrok is ek op pad na my dogter se troue toe. Die seremonie word in 'n houthut in die woud gehou. Soos 'n bosnimf kom Sussa stralend gedrapeer in sjiffon en blomme in die hare tussen dennebome aangesweef. By die hut haak sy by haar aanstaande in. 'n Humanistiese amptenaar, 'n anderste soort dominee verbind hulle in die eg.

Na die gedoente beweeg ons na 'n ou kasteel op die rand van die Noordsee waar die bruilof gehou word. Ek en my jongste spruit staan in die foyer. Ons wag. Ek wieg van die een voet na die ander.   As jy koud kry kan jy mos nie stilstaan nie. Die geborduurde stola oor my skouers help ook niks nie, die koue trek dwarsdeur my lyf. Dit vreet aan die murg. Ek sluk onbeskaamd die een sjerrie na die ander vir 'n bietjie warmte in die binneste. Na die vierde een maan my jongste, Anna: “Stadig Ma . . . daar is nog wyn by die onthaal."

“Ja, oukei . . . Kastig vertel dis somer. Vir my voel dit soos winter op die Hoëveld,” mompel ek.

Die kelner sien my penarie. Hy bring 'n wolkombersie en hang dit om my skouers. Asof ek 'n Basotho is. Dis beter! Voor my staan 'n vrou sjiek in 'n blink moulose ontwerpersgewaad.   Haar oë frons, praat van: "Four seasons in one day." Nog nooit beleef nie. Verlang sommer na die soel someraande van Gauteng.

Oorkant ons staan twee mans uitgedos in hulle kilts, sporrans en paraphernalia van een of ander Skotse regiment. Gefassineerd staar ek na die dress uniforms. Dat die ver verlede nou voor my kom staan. Meteens sit ek weer aan my ouma se voete terwyl sy stories uit 'n vervloë tyd van die Boere-oorlog en die Ingelse met hulle skirts vertel. Hoe hulle met die skirts wat so op en af wip oor die werf aangemarsjeer kom. Hoe hulle die plaashuis afgebrand en die diere doodgeskiet het. Die hoenders is sommer nek-om gedraai. Hulle is op 'n wa geboender en in 'n kamp afgelaai. Dan het Pa, Bybels en edelmoedig, haar daaraan herinner dat die oorlog lááánkal verby is.

“Ma sê Ma is 'n Christen, kan Ma dan nie vergewe nie?” het hy vir die soveelste keer gevra.

“Dink jy ek sal vergeet hoe my ma vrou-alleen die pad begraafplaas toe platgetrap het om kind na kind toe te spit? Afrikanerbloed verniet gegiet,” het sy altyd met dieselfde refrein teruggekap.

Dié dat ek vanaand dink sy draai in haar graf om as sy haar agterkleinkind met 'n geskirte Ingelsman sien trou. Die gekweel van 'n doedelsak bring my gedagtes terug. Ek bekyk die geskirte manne verder af. Die skoene is blink gepoets. Rooi en groen lintjies hang onder die kouse se boordjies uit. Bo in die een kous is 'n dolk gesteek, pure lawwigheid. Daar is mos nie meer oorlog nie. Ek verkyk my aan die manne se tartan rokkies wat tot in die middel van die knieë hang. Met daai verrimpelde knieknoppe skat ek hulle so om en by sestig-sewentig jaar.

Anna tik my op die skouer: “Hou op om Ma so aan die ou ooms te vergaap.”

“Reken maar net hoe oud hulle is," maak ek verskoning.

“Is Ma laf?” wil sy vererg weet.

Ek lag saggies: “Nee, ek wonder maar net wat sal gebeur as die wind skielik daai skirts opwaai. Ek het iewers gelees dat 'n ware man dra nie 'n . . . jy-weet-wat onder daai skirt nie.”

“Haai Ma . . . wat pla dit Ma of hulle 'n dinges aan het of nie?”

“Daar is nie 'n wet wat sê ek mag nie wonder nie,” sê ek half omgeëllie.

Ons troppie staan daar in afwagting vir die bruidspaar. Dis sewe uur en die verrigtinge in die saal gaan begin. Die hoofkelner beduie vir die familie om buite toe te gaan. Ek gooi die kombers af en pluk aan my rok.

“Sit dit reg?” Anna knik en jaag my aan.

Ons loop na buite. Hierdie winde sal my nog mal maak. My hare is eintlik slierterig van die misreën. Vanoggend was dit so mooi gedoen. Die temperatuur voel vir my vlak bo vriespunt. Met 'n tikkie verbeelding en 'n jare lange huwelik met vele winters agter die blad is die Adamsgeslag se anatomie aan my goed bekend. Nou kan ek net dink, terwyl my tande opmekaar klap, wat koue aan 'n man kan doen.

“Is die bruidegom met of sonder . . .?”

“Ma!” roep Anna verontwaardig uit, “Los dit nou!”

Buite die deur staan die doedelsakspeler reg vir aksie. Agter hom is bruid en bruidegom gereed om binne toe te stap. Ons vorm 'n kolonne agter hulle. Die houtdeure swaai oop. In gelid stap ons in die paadjie af. Uiteindelik gaan sit ons.

My Skotse skoonseun verwelkom die gaste hartlik: “Welkom, dumêla, willkommen, accueil, welcome, fáilte . . .” En wêrelde, duisende kilometers van mekaar verwyder word saam gesnoer. Toe besef ek dat my ou Afrikaanse wêreldjie besig is om verby te gaan. Ek aanskou 'n nuwe samelewing waar dit nie saak maak of jy Griek, Jood of anderstalige is nie.

Middernag speel die orkes Auld Lang Syne. Ken van. Neurie saam. Die Skotte is toe niks vreemder as lede van my eie familie nie. Maar die nuwe aarddorp, dié sou ek vir geen geld in die wêreld wou mis nie. Terselfdertyd reik my gedagtes agtertoe. Versigtig om nie op Ouma se graf te trap nie, dink ek: "Ouma kan nou maar die geskirte Ingelse vergewe, of hoe?"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top