Ou oompie

  • 1

Dis hoe almal hom maar noem, en weereens, sy naam is mos nie regtig belangrik nie, is dit? Ek het hom die eerste keer gesien toe ek basies nog nie verstand gehad het nie. En leer ken as die bedonnerde alleenloper wat altyd met homself praat. Nooit vrou gevat nie. Heel waarskynlik nie nodig gehad om iets meer as ’n kar op sy naam te hê nie. Obsessief netjies.

Ek vra hom annerdag hoekom hy nie nou maar, op sy oudag maar die stap neem en een van die vele weduwees wat hier in die omtes is vat om vir hom te sorg nie. Hy lag weg na die deur se kant toe en beduie vir iemand anders: "Wat sal ek met haar maak? Netnou het sy my ook onner die grond in." En hy maak ’n duidelike saak uit vir die goedheid van alleenwees. Of Enkelwees as dit dan moet. Want Ou oompie is nooit regtig alleen nie. Het altyd geselskap want hy het ’n lewe van spaar en vrouloosheid agter hom. Nou staan die mense met groot glimlagte en vriendskappe en almal hoop want die gerugte doen al vir jarre die rondte dat hy miljoene sterk is.

Ek het hom maar as die eksentrieke oom in die polisie leer ken. Radiobeheer in Hillbrow toe Hillbrow nog Hillbrow was. Hardegat bliksem wat nie baie geslaan het nie want dit was blykbaar nie nodig nie. Hy het, so sê die wat weet, net beduie met sy hanne en dinge het gekalmeer. Dis die storie maar ons almal weet mos maar die storie issie altyd so maklik nie. Nietemin, Ou oompie het die Polisie as sy vrou aanvaar. Ek ken ’n hele paar sulke manne uit my ou dae daar en ekke weet van mense soos hy. die Ingelse noem hulle Career Policemen. Ken Jo'burg soos die palm van sy hand. Want hy het daai strate geloop. Met sy voet waar bitter min anner manne dit gewaag het. Ek vra hom annerdag oor daai dae en hy beduie dat hy nie veel meer kan onthou nie maar dit was lekker dae gewees daai. Hy skud sy kop terwyl hy so grond toe kyk, hand oppie mond en hy kyk op en lag verleë.

Soos ek sê, ek het vir Ou Oompie leer ken nog voor ekke verstand gehad het. Ek onthou die rustelose nagte van min slaap en luister na hom en die stories wat hy probeer verduidelik aan iemand want hy praat nie net met homself nie, hy voer ook in diepte gesprekke in sy slaap. Lank gelê en luister hoe hy homself soms in die rede val so in sy slaap. Baie jare gelede gehoor dat dit nie regtig moontlik is om jouself in die rede te val nie, maar die ou man wat "Mens in Konteks" en ander verhandelings neergepen het, het noggie ’n nag met Ou Oompie spandeer nie. Dalk was dit ontlading en wegpraat van die polisiewerk want as jy daar was sal jy soms simpatie hê met die ondankbare werk wat hulle doen.

Later uitgetree en groot pos gevat doer waar die manne petrol maak en daarvan ’n leeftyd gemaak. Hard gespaar vir eendag want daar issie klogoete om te sorg nie. Uitgetree, want sommige mense tree bloot net nooit af voor die graf nie en met sy klein bakkie kom nes skop neffens die huis waarin hy gebore is. Om te kom rustig wees, vis te trek en met sy yster dalk so af en toe ’n skulpdier of twee uit te haal vir die pot.

Maar jy weet mos hoe die lewe altoos, net sodra mens al jou planne in plek het, met skewe draaie kom. Ou Oompie kom annerdag hier in en vra of ekke iets weet vannie manne innie Kaap, want hy lees lankal nie meer koerant nie maar hy het gehoor die man het homself geskiet en die man het baie van sy geld belê en die man is nou dood en wat nou van sy geld? Ek vra hom of ons nou vannie man praat met die groot huise en duur karre en ek wys hom die koerante en ek beduie vir hom dat dit net nog ’n donnerse piramide skema was. Die man het duisende mense van biljoene beroof, en ek vra hom hoe de donner hy dan nou as oud-poliesman nie by homself kon dink nie?

Hy vat-vat so aan sy kop en sê nee, hy het maar geluister na Pietie wat hom beduie het dis ’n veilige belegging. "Maar dissie hoekom ekke hier is nie. Hoekom is ek nou weer hier? Ag hemel, tog, nou moet ek weer terug lat ek kan sien wat ek wou had."

En ek sit en wonder waarom daar hier onder ons soveel piramideskemas floreer? Is ons mense regtig so "gullible"? Ek kan my indink hoe dit moontlik is dat hier soveel mense is wat soveel onskuldiges en selfs slimmes uit hul hard gewerkte geldjies kan 'help belê'. Ek kan my indink dat daar sulke goed tussen ons rondloop, en skielik is ek bly die ene in die Kaap het homself eerder geskiet as om verantwoording te doen. Genadiglik is Ou Oompie se grootste bekommernis die "bleddie toiletpapier" wat weer op is.

oester

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    Oester, dankie vir Ou Oompie se storie. Het veral gehou van die volgende en my sorge weggelag: "Lank gelê en luister hoe hy homself soms in die rede val so in sy slaap." Ek dink selfs PG sal homself op die skouer klop met so 'n "ontdekking". Groetnis. George  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top