Ou man tussen die riete van agterdog
Sit die groente-skrapertjie eenkant, trek my voorskoot uit –
die geskilde komkommers en appels lê op die kombuistafel
en die lig weifel tussen stoel en deur. ek karteer
die nuwe pad na die melkbos, skuins agter hom aan
deur die digte fluitjiesriet om drifsels van woorde te versamel
– net ’n rukkie langer dan sien jy lig kaats naas die rand van die water –
hy sing hoog, sing laag
sing soos een wat vriende tot afskeid roep
ou man as hy dun en regop tussen rugwerwels
van die middelwater sink, verder insink
die digter met die kus van oë waarop woorde dryf
sy merk die plek en die gety – ou man tussen die riete van agterdog.

