Ou liefde kan roes (S,L,P)

  • 1

Jy weet mos maar hoe dit gaan as 'n man baie lanklaas die genietinge gesmaak het. Jy weet: Daardie goete waaroor die honde meestal oor baklei en, wel, meeste oorloë veroorsaak het. Daai deng.

So het ek maar vir Piet kom kry as 'n onwillige oujongkêrel. Die slagoffer van 'n baie lelike egskeiding wat letterlik tot in ons hoogste howe en op die voorblaaie van ons nuusblaaie weerklank gevind het. Elke sappige detail letterlik openbaar en opgeslurp deur 'n verveelde spul lesers. En toe verval hy in die vergetelheid en het hy basies slegs die stories oor wat niemand in elk geval meer glo nie. Toe kom "word hy mens" in die bosse hier langs die see. Tot die honger hom moes dwing om maar die vervelige bestaan te probeer doen wat ons maar almal moet.

Ek sien hom so skuins dat hy 'n ou Charmer is. Glad met die mond en weet hoe om presies net die regte dinge te sê op die regte tyd. Weird hoe sommige ouens gebore word met die kuns ne? Luister aandagtig na elke woord en gee bemoedigende drukkie op die regte tyd. Werk altyd, so sien ek nou. Want ons leef mos maar in die tyd waar aandag orals afgelei word en aandag afleibaarheid selfs nou ook 'n siekte is. Onder sulke omstandighede is die ou spreekwoord dan baie waar van die eenoog wat koning is onder die blindes, of siendes.

So verloop die dae en maande en Piet beginne beduie en praat van die dametjie wat hy wil invoer hierheen. Hoog gekwalifiseer met papiere die lot. Eie kar en gatvol vir die rotteresies daarbo waar die mense so jaag en nie meer kan lag nie, blykbaar. Ek is later so keelvol om van Sannie te hoor dat ek beginne dink om vir hom nog een van daai opblaaspoppe te koop by die porn winkel in die dorp. Ek beduie oor blyplek en hy beduie dat hulle eers moet insettle en ontspan voor hulle kan dink of die woonstel teen die rivier, die ene met die moerse uitsig, voldoende sal wees. Want, beduie Piet, hy dink nie daar gaan tyd wees vir die eerste maand of wat, om vir sonsondergange te kyk nie. Ek het die idee van die heuningmaand sonbrand in my kop en ek beduie dat ekke verstaan.

Piet beduie vir my van die nagte van onbeskermde passie wat hulle beleef het toe hulle nog al twee getroud was. Hy beduie vir my van die kere wat hy op pad van die dobbelhuise af die kar moes stop want die drange en dierlike instinkte het eenvoudig oorgeneem.

"Ja, maar dit was lank terug. Jy lyk sekerlik nie nou meer soos die Romeo wat jy destyds was nie."
"Wil jy my wed? Ek so ***** ek kan jou bakkie met een poging optel"
"Ja, wel, Piet, ek wou dit juis voorstel en daarna 'n yskoue stort. Dit werk hoor ekke."
"As jy haar sien sal jy weet wat ekke bedoel. Hemel, man, sy was so warm soos jou kaggel nooit kan wees nie." n weg is hy met sy selfoon innie hand. Ek vermoed hy het weereens 'n goed bedoelde boodskap gestuur watter daad uit die verre verlede herleef gaan word as sy ooit haar voetjies hier aan wal gaan sit.

Soos die dae naderkom vir die ver vergange love of Piet's life om te arriveer raak dinge obsessief en dalk kompulsief (sien hoe gooi ek die sielkundige terme) want as hy 'n brood half maak beduie hy hoe Sannie dit sou doen en as hy chips bak vir 'n klant dan beduie hy hoe anders Sannie dit sou doen. Tot vervelens toe. Die middag voor sy moes arriveer beduie Piet vir my van kerse en roosblare en ander goete wat ek laas as student gebruik het. Ek beduie vir hom dat hy 'n helse romantiese streek weg het en hy vra my of ekke jaloers is? Hy praat waar. Ek beduie vir hom die ou reël van 'n ou liefde herontmoet: jy moet van die ergste drange ontslae raak anners gaan sy nie baie tevrede wees as sy klaar geglimlag het vir die roosblare en wierokies en laventelbossies nie. Want die ou gesegde slaan hard en diep: "Foolish man buys wife grand piano. Wise man give wife upright organ." (Hulle se Confucius het dit beweer, ek weet nie).

So arriveer Sannie sonder dat iemand sout of water wis, en Piet is weg, skoonveld. Ek beduie maar vir die mense dat Piet onwel is. Kopseer en grieperig. 'n Hele week lank is die twee skoonveld. Krokodil en hinderlaag die werke.

Piet praat vanoggend die eerste keer in twee weke werklik. Hy beduie dat vroumense vol kak is en ek vra of hy gister eers gebore is. Ek vra hom hoe dan nou en hy beduie dat hy gehoop het die ou liefde die ou passie sou kon herleef. Ek beduie hom dat hy nie meer gister se kind is nie en al sien ek sy het heel waarskynlik nie baie verander die laaste dertig jaar nie, "Dude, ek wil nie jou gevoelens seermaak nie, maar die lewe het jou 'n paar harde lyne op die lyf gegee."

"Ja, maar as jy haar destyds geken het ..." en toe hou ek op luister.

Ek hoor later dat sy beduie het van hormonale wanbalanse en dergelike goeters. Sy wil hê ek moet met Dok T loop praat dat hy kan kyk. Soos ek Dok T ken gaan hy in een sien vir haar beduie wat skort met die gestel en daardie sin kan ekke nie hier herhaal nie.

"So het julle?"
"Ag, ons het so bietjie gevry. En ons slaap darem saam. Dis genoeg vir nou. Ons moet mekaar eers van vooraf leef ken."

En toe wonder ek oor hierdie ding van ou liefde. Ou liefde roes beslis. Soos 'n ou geroeste plaat moet jy dalk eers die dik roeste afkap om by die werklike roes uit te kom, en dan moet jy hom skuur en behandel en as jy hom die ns4 of iets dergeliks opsit nie gaan hy tien teen een vergaan tot ou stukke skilfers wat eens op 'n tyd goeie metaal was. Dikwels lyk die behandelde plaat heeltemal anders en vol knoppe en gate sodat jy hom glad nie meer wil he nie. Met 'n tien mm plaat kan jy dalk nog die ou roes weggrind en skuur, maar as die plaat net 2mm is kan jy maar vergeet. Dan gaan al die roeswering jou basies niks help nie.

Koop 'n nuwe. Dis goedkoper alle kante toe.

oester

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top