Ou bok

  • 0

Het hom ontmoet toe my yskaste net eenvoudig nie meer wou werk nie. Aanbeveel deur mense wat weet: Hierdie man kan. Want as jy moeilikheid het dan bel jy hom. Die toets het ek gesien gebeur op 'n Kersoggend, terwyl almal met familie doenig is, het die man op sy gat kom sit en 'n koelkas kom regmaak. Op die Heilige Kersdag. 

Mens doen maar die gewone, want hy gee eers die rekening twee dae later. As die ding reg werk. So ons drink ons gewone dubbel wat later eindig by 'n tweeuur-wegstap, want hy moet darem nog die familie loop sus met 'n varknek of iets wat vinnig is op die vuur. 

Die mensdom is 'n besonderse ding. Jy herken hulle, nadat jy hulle leer ken het sommer so aan die stap. Vir Jan is dit so. Hy waggel want hy trap sy sandale altoos uit aan die een kant. Dra sy sandale soos die Duitsers dit dra: Met sokkies. Ek wou hom al vra oor die sokkies tot ek sien dat die sokkies oopgesny is.

"Dis die suiker, Oester."

Bekyk sy bene en ek sien die pers lyk nie soos die standaard kuit nie. So loop die tyd en 'n skelm ding is altoos lekker sappig en Jan stap in en vang my met die pêrel in 'n plek wat genadiglik lankal bankrot gespeel het. Ek beduie hom hy moet kom sit en hy beduie na die glas en die eik loop soos water. Hy beduie na die pêrel want jy kry nie aldag 'n Pêrel wat aan jou hang nie en sy het baie parfuum aan en nog minder kledingstukke en ons kom ooreen dat hy een dans kan kry as hy sy bek sal hou. Want hierdie pêrel het haar groentetjies geëet soos haar liewe moeder beduie het. Kurwes wat ek nou nog wonder hoe de hel dit so geskape kon wees? 

Die pêrel het my beduie dat Jan wil vatterig raak op die rondspring-dansbaan en sy issie lus vir twee skelmgoete op een aand nie. Toe moes die kroeg maar die nodige doen. Jan slingerend uit sodat ons die bekende Rooi Kombi kon aanwend waarvoor die Duitsers nooit gedink het dit bestem was nie. Jan dankbaar vir die aand het die volgende oggend op die parkeergrond nugter wakker geword genadiglik. Want hier in Oesterland sluit hulle jou weg vir lank as jy dronker as die deursnee spietkop is. 

Pêrels kry jy maar altoos in oesters en die goed kom en gaan maar. Jan is 'n yster. Hy maak reg wat stukkend is en dit was nie twee jaar later nie, op einste Kersdag toe 'n yskas kak. Jan kom maak reg en ons soop die eik en hy huil want sy huwelik is al jare net 'n vriendskap en hy beduie of ek nie nog pêrels ken nie. 

"Jirre, bra. Daardie einste pêrel het my kak hard laat val. Weet jy hoeveel maande ek moes beduie oor haar en hoe ek moes lieg want jy weet mos sy weeg meer as die deursnee Hilux? My eks glo nou nog niks van haar gewig nie en dis nou al jare later?"

Sien vir Jan later by 'n vuurmakery wat ons deesdae 'n braai noem en hy staan met 'n jong blaar wat vir hom Gin aandra asof sy hom wil dronk kry. Ek ken die blaar, want sy is bloedfamilie en Jan beduie hulle loop maar die kroeë so rond en ry mekaar raak en eindig saam iewers. Wat hulle het is iets besonders. 

Die besonders het ek besef toe die jonge blaartjie met kanker van een of ander soort gediagnoseer is. Hy het haar versorg, van staatshospitaal tot hospitaal tot in Tygerberg en uit en weer terug. Haar uitgeteerde liggaam kan nie meer nikotien vat nie maar "ek sal binnekort 'n dop kan drink". 

Ons staan net nou die dag en mymer, want Jan mymer net as hy wag vir sy rekening oor alles en hy beduie dat hy nou moeg is. 

"Kyk, ek moet sit as ek werk. As ek nie 'n handlanger het nie is ek gefok. Die suiker en die sagte vleisies het my op. Dit was goed toe ons jonk was nè?" 

"Ons is nog nie oor die muur nie my bra." 

"Ja maar nou se dae is ek soos 'n hond wat karre jaag. Weet jy, ek en my vrou was 20 jaar laas saam? Vandat 'die jong blaar' siek geword het, slaap ons weer saam. En ons is nou beter maats as ooit." 

Baie van die lang gesprek maak glad nie vir my sin nie. Is nie logies nie, maar elke liggaam het sy pyn en elke pyn het sy aspirin. 

"Jy weet mos van 'jong blaar'?" 

"Almal weet, my bra. Ek dink jou vrou was die eerste wat geweet het van haar." 

"Die kanker is besig om reg te kom. Sy tel nou al gewig op." 

"Ja, ek sien sy begin nou al beter loop met die kierie." 

"Het jy nie dalk vir my 'n skottelgoedwasser nie? My vrou kerm al vir jare oor so 'n ding en na die vloed moes ek myne scrap." 

Ek het hom 'n natnuwe AEG van vlekvrye staal, die werke, gegee vir die werk aan my lugreëlaar. Al was die ooreenkoms skeef aan sy kant. Want ek ken sy vrou en sy is een van die mees edel en geduldigste mense wat ek ooit in my lewe teëgekom het. 

oester

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top