Ou bloed is uiters boeiend en suksesvol

  • 0

Titel: Ou bloed
Skrywer: Peet Venter
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799361292

Koop Ou bloed by Kalahari.com.

Thys Krige se ondersoekmetodes is, om die minste te sê, redelik onortodoks. Hy steur hom nie veel aan opdragte nie en pas sy metodes aan by die vereistes van elke saak. Die getal mense wat in só ’n ondersoek gewelddadig sterf, laat hom nie te veel wroeg nie. Dit gaan volgens hom om eie behoud. Met die opening van Ou bloed is daar ’n interne verhoor na Krige se optrede tydens die Rossouw-saak (wat die spilpunt van Dieper as die bloed, Peet Venter se vorige Krige-roman, is). “Die gevoel van vervreemding wat reeds tydens die Rossouw-ondersoek in Krige posgevat het, skuif ’n paar kerwe hoër.” Hy weet dat hy dit nie onderdruk sal kry nie. “Die wortels daarvan lê te diep in die groeiende besef dat hy hom in ’n sisteem bevind waarin die onderstroom van wantroue, jaloesie, vrees, rassespanning deur die jare al sterker begin vloei het. Dit raak hom des te meer omdat hy agter sy rug bekend staan as die ryk polisieman, die seun van ’n vermoorde gangstersakeman” (13). Dit is juis die moord op sy pa wat hom by die polisie laat aansluit het. Maar nou, vyftien jaar later, het hy steeds nie die moordenaar opgespoor nie. Ten spyte daarvan dat hy baie suksesvol sindikate oopvlek en reeksmoordenaars vastrek.
        
Wanneer ’n regter en baie bekende prediker grusaam vermoor word, besef Krige dat hy moontlik ’n vennoot in die soektog na sy pa se moordenaar het van wie hy nie geweet het nie. Want regter Maas se moordenaar kontak vooraf Krige se joernalis-vriend Boonzaier, wys uit dat Maas vermoor gaan word, en laat die boodskap aan Krige dat hy “dieper as die bloed” moet kyk – dieselfde boodskap wat hy gekry het die aand toe sy pa vermoor is. Natuurlik, gegewe Krige se gevoel oor die polisiestelsel, lig hy nie sy bevelvoerder, kolonel Dreyer, van laasgenoemde in nie. Op die oog af ondersoek hy die moorde van twee baie prominente leiers in die samelewing wat albei pedofiele was. Maar agteraf probeer hy die skakel met sy pa se moord uitpluis.

Soos sy soektog vorder, besef Krige dat dit hier oor veel meer as pedofilie gaan. Die jong joernalis Robyn Arendse, wat hom aan ’n duikertjie herinner en vele dagdrome laat droom, betrek hom by haar poging om die pa van ’n ontvoerde elfjarige dogtertjie te help en plant só die saadjie: pedofilie is slegs die puntjie van ’n massiewe ysberg, want kinderhandel is hier te sprake. En die moordenaar wat Krige moet vastrek, voorsien hom van leidrade, waaronder ’n foto van Karen, ’n meisie wat kort voor die moord op Krige se pa verdwyn het.

Vanaf die opening van Ou bloed, waar die vreemde oggendrituele van ’n rekenaarfoendi (ook die moordenaar, soos die leser spoedig besef) beskryf word, boei hierdie verhaal. Vir speurder Thys Krige het die leser reeds in die vorige boek, Dieper as die bloed, leer ken. En vir dié wat Venter vir die eerste keer lees, word die essensie van hierdie speurder binne die eerste hoofstuk vasgevat. Hy is slim, genadeloos en meedoënloos. Hy werk sistematies en word gedryf deur sy obsessie met sy pa se moordenaar. En hy is uiteindelik ’n tree nader aan die oplossing daarvan, danksy die moordenaar van sy huidige sake. Die moordenaar is op sy beurt uiters intelligent, sensitief, gesofistikeerd en vermoor boonop slegs pedofiele. Volgens hom is hy eintlik ’n “kuberspeurder”; “(d)ie doodmakery is net ’n stokperdjie” (113). En pedofiele, veral dié wat gesagsposisies soos dié in die kerk misbruik, verdien sekerlik die doodstraf, of hoe? Iemand moet immers iets doen in ’n samelewing waar “hofsale die speelveld van egosentriese advokate en onbevoegde aanklaers geword het”. In hierdie stelsel is hy bloot een van die mense wat “moeg geword het vir bloot skouers ophaal, en iets gedoen het” (34). Sulke uitlatings onderstreep dat hier van vroeg af vernuftig met die leser se idee van reg en geregtigheid, moraliteit en etiek gespeel word. En die onsekerhede daaroor het soveel meer impak juis omdat ons hier met kinders te doen het.

Navorsing het getoon dat wanneer dit by kinders en kwessies soos pedofilie en kinderhandel kom, daar ’n lyn binne die spanningsgenre is wat nie oorgesteek kan word nie. Venter balanseer op hierdie hoëspanningsdraad. Moenie hier ’n gelukkige Walt Disney-einde vir die slagoffers verwag nie. Die feite is brutaal en word nie vir die leser weggesteek nie. Hy beskryf nie grafies en in besonderhede nie, maar genoeg om jou te skok.  Indien jy ’n sensitiewe leser is, sal die lot van sy slagoffers jou lank bybly. Venter was, volgens ’n onderhoud self bewus van die sensitiwiteit rondom kinders en fokus daarom op die invloed van sulke ontvoerings op die naasbestaandes. Die feit dat die leser nie net die lot van hierdie kinders nie, maar ook die wroeging van hulle gesinne deurmaak, versterk die leser se simpatie met die moordenaar. En so word die spanning vernuftig versterk en op breekpunt gehou tot by die ontknoping van die roman. Dit herinner ’n bietjie aan die baie gewilde TV-reeks Dexter. Want ons hou van die moordenaar. En dit laat jou onseker oor die basiese beginsel van straf. Aan die einde, “wanneer die groot maalsteen sy maal gemaal het, almal hul sê gehad het, bly die slagoffers die slagoffers” (115). En moord bly moord.

Ou bloed val binne die Amerikaanse tradisie van misdaadromans, waar die pas vinniger, en daar meer grudade, bloed en derms is. Venter skep ’n donker wêreld van dwelms, pedofilie en kinderhandel. Hy spreek temas aan soos rassisme, regstellende aksie, die publiek se indruk van onbevoegdheid binne die regs- en polisiestelsel, asook die vergrype van die kerk om homself te verryk.

Ek het by tye Krige se goeie verhouding met sy bevelvoerder, kolonel Dreyer, bevraagteken. Sou ’n bevelvoerder wat keer op keer moet skerm vir iemand wat sy eie kop volg en opdragte verontagsaam, steeds so gewillig en byna onderdanig wees wanneer daardie persoon eise stel? ’n Mens sou sweer dat Krige die een in die magsposisie is. Dit is egter nie genoeg kritiek om die leser se leesgenot te ondermyn nie.

Ou bloed is ’n uiters boeiende en vermaaklike misdaadroman. Die sensitiewe tema mag jou met ’n naar kol op die maag laat, maar die verligting (en ontvlugting) lê daarin dat geregtigheid in dié fiktiewe wêreld seëvier. Hier kán ’n reeksmoordenaar namens die leser vergelding neem en die leser mag maar simpatie met hom hê. Boonop laat Krige se uiteindelike besluit en sy ongemak rondom sy optrede tydens hierdie saak net genoeg vrae en verwagtings by die leser om te verseker dat jy nou al begin uitkyk vir die opvolg van Ou bloed. En dít onderstreep die sukses van hierdie misdaadroman.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top