Opvolg

  • 0

Die eerste wat jy hoor, is die "whoe, whoe, whoe" van die chopper se lemme van die rotor wat net bokant die boomtoppe vlieg om die moontlikheid van ’n RPG-missiel te neutraliseer. Die chopper land en ek tel my ou maat op, dra hom alleen na die landingstrook. Vlieë pak op die droë bloed op sy liggaam en ek kan nie deur my oë sien nie. Miskien die sweet of dalk trane, want twee of drie aande gelede het ek en hy nog oor ’n paar biere in die basis gepraat oor ons geliefdes.

Hy was getroud en ek verlief. Ons altwee het een gemene deler gehad: om lewend uit hierdie oorlog te kom en terug te gaan na ons geliefdes- "huis toe te gaan". Die gewonde troep en die terr word ook ingelaai, die gewonde gryp my aan my arm en skreeu iets, maar ek kan niks hoor nie, want die chopper se turbines lawaai te veel. Ek draai om, gaan terug, verder weg van die rumoer van die chopper en die stof wat die rotors opjaag, dan styg die chopper op en ek wonder wie gaan vir sy vrou die tyding van sy dood oordra. Het hy dalk in ’n laaste brief aan sy geliefde vrou sy versugtinge uitgespreek?

Ek weet nie. Nooit weer gehoor van hom of die lieutenant nie, ook nie weer ons lieutenant gesien nie. Die oorlog hou nie op nie, ons moet aangaan. Die buffels kom later aangejaag, ek het altyd gewonder waarom hulle so jaag. Vars peleton spring af en die peleton van my staan nader om op te klim. Wanneer ’n groep eie magte aangeval word, sal die groep wat aangeval was terugkeer na die basis en die nuwe groep sal ’n opvolgaksie begin. Ek waai vir my mense terwyl van die buffels begin terugvertrek na die basis, terwyl die laaste groepie op die buffels klim.

"Waar gaan jy?" vra die kaptein my.

"Ek gaan saam met julle, Kaptein."

"Nee, jy moet teruggaan."

"Waarnatoe,  Kaptein? Om wat in die basis te doen?"

Die kaptein is ’n beroepssoldaat, staandemag, en ek ’n lid van ’n burgermageenheid. Geen wrywing nie, net ’n op-die-plek-verstaan van twee soldate. Hulle is uitstekende soldate, ware spoorsnyers – en die opvolgaksie begin dadelik die spore loop, noord oor Oom Willie se pad verder noord. Ons kom af op ’n kraal waar ’n huwelikseremonie aan die gang is. Die boesmanspoorsnyers het bebloede lappe gevind. Die kraal word omsingel met die spoorsnyers wat soek vir spore wat uitgaan uit die kraal, maar daar was geen.

Die kaptein stuur ’n sitrap aan die HK en vra toestemming om die kraalkompleks, veral die hutte, te deursoek. Die antwoord: nee, ons sal die PBS antagoniseer omdat daar ’n huwelikseromonie aan die gang is. Ons opdrag? Handhaaf julle posisie. Die kaptein vra my wat ek dink.

My antwoord was: "Kaptein, ons moet die hutte deursoek want die terrs gaan deur die nag wegglip."

Hy het omgedraai en ek hoor net hoe hy oor die radio probeer toestemming kry om die deursoekaksie te loods die antwoord was: "Negatief, herhaal, negatief."

Boer in Beton, 9913

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top