Opgevoede Afrikaners

  • 6

Beste Pieter,

Uit drie gewaardeerde belangstellendes wat wel my gepik lees is jy nog altyd die een wat die kloutjie beter as ek in my eie bydraes by die oor bring.

Dankie daarvoor.

Jy tik: Rugby, braaivleis edm is vermaak en nie kultuur of opvoeding nie. Miskien sal die Afrikaner eenvoudig meegesleur word in die algemene Anglo-Amerikaanse "wêreldkultuur" van konsumering, winkelsentrums, en Hollywood-films.

Pieter, dis waar; geen geld kan 'n behoorlike opvoeding koop nie - nes geen geleerdheid dit ook nie kan waarborg nie.

Soos altyd ken die fundamentaliste in hul eksklusiwiteit hul taal die minste en kan ongelukkig nie eens tussen opvoeding, geleerdheid en materiële welvaart of aansien onderskei nie. In volgorde van belang glo ek elkeen se hart in hul persoonlike verhouding met ons Skepper kom eerste. Daarna volg 'n opvoeding, dan geleerdheid en laastens materiële welvaart.

Daar is kulture soos byvoorbeeld die Parsi waar geboortereg  die enigste aanspraak in hul kultuur is. In meeste ander word 'n mens 'n Jood, Zoeloe, Oosters, Italianer, ensovoorts deur opvoeding. Om Westers te wil wees kyk 'n mens net TV en glo als wat van Sondag tot Sondag "gesport" word, of oor die radio as vermaak en "lekker" gedweep word.

Dis egter nie moontlik om bloot op grond van 'n begeestering of op anderhaat as 'n kultuur waardeer te word nie. En dis die probleem met die Afrikaner hier aan die Suidpunt van Afrika; ons Protestante erfenis en bewusteloosheid gebreinspoel deur die media.

Ongelukkig en jeens meeste voorsate se vervolging in Europa het die Afrikaner 'n byna ingebore vyandigheid teenoor ander buite hul groep. Hierdie anderhaat vernietig die Afrikaner van binne soos kanker. Selfs Afrikaner-helde soos professor Christiaan Barnard is in sy vrugbare lewe met agterdog bejeën deur hierdie sogenaamde ware Afrikaners. Dieselfde soort ware Afrikaners misken in hul anderhaat ook helde soos advokaat Abram Louis Fischer, sy edele doktor Andries Treurnicht en doktor Van Zyl Frederik Slabbert se bydraes tot ons Afrikanerkultuur.

Uit my jeug het ek steeds 'n volledige stel Kinders van die wêreld, Die skatkis, Gustav Preller se hele reeks Voortrekkermense  (wat om een of ander duistere rede nie meer op die Staatsbiblioteek in Pretoria se rak is nie), omtrent elke woord wat Neelsie Langenhoven, Totius, Eugéne Marais, Jan Celliers, Chris Barnard, en baie ander geskryf het; onder meer Emsie Schoeman se Goeie maniere asook elke film wat Katinka Heyns op die doek geskyn het. Hierdie versameling maak geeneen 'n beter of slegter Afrikaner nie; dit was gewoon die standaard destyds. Elke Afrikaner het die fabel van Racheltjie de Beer tot by die biografieë van ons politieke leiers geken. 'n Afrikaner was ook iemand met goeie veldkennis en gasvry teenoor almal.

Vandag weet niemand eens meer wie Hans Dons de Lange was nie. Min Afrikaners ken die geskiedenis van ons onafhanklike Boere Republieke voor 1910. Wie weet nog hoe die Ingelse  en Amerikaners die Boere se onafhanklikheid in 'n Unie gedwing het om 'n Afrikanerwerkvolk vir hul myne te skep en waarop die wêreld vandag so neersien? Wie maak nog seker dat daar minstens 'n derde vreemdes op enige fees onthaal word?

Die punt bly egter dat daar 'n standaard opvoeding in elke kultuur op aarde is. Die twis oor wie 'n Afrikaner is en wie nie is daarom gewoon barbaars. Nes die Zoeloes se inisiasie het ons kinders 'n opvoeding nodig waarin hul Afrikaner-erfenis in 'n deelsaamheid met respek tot ander kulture buite godsdiens-ideologieë gedenk word. Ek nooi enigeen om vir my te dui waar daar vandag so 'n standaard vir ons Afrikanerkindertjies geleer word.

Besorgde Boeregroete,

Cornelius Henn

  • 6

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Cornelius,

    Baie dankie vir jou mooi brief en vir die belangstelling, en soos jy weet het ek nog altyd ’n "soft spot" vir jou gekoester, en nou weet ek deels ook waarop dit berus: al jou prioriteite is korrek en kerngesond, en ek sien dat jy ’n persoon is met ’n goeie opvoeding.

    Sonder om persoonlik te raak, hoop ek met my hele hart dat jy nou teen hierdié tyd die trauma van jou ondervindinge in die bosoorlog kon verwerk, en reeds daaroor gekom het. Onthou dat jy ’n jong slagoffer was van ’n beleid wat deur die res van die wêreld as barbaars beskou is, en slegs ’n pion in die hande van politici was wat agter lessenaars gesit het, en n beleid van aggressie geformuleer het. Die kanonvoer was dan die jongmans van Suid-Afrika.

    Laat dit goed gaan met jou en jou familie.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Thys Human (PTA)

    Cornelius jou siening van ’n "ingebore vyandigheid jeens andere" by die Afrikaner wat jy ook "anderhaat" noem,  is so ver van die merk af en so vol van haat in jouself teenoor die Afrikaner, dat dit eintlik lagwekkend kon gewees het as dit nie so mislik was nie. Afrikaners onder wie ek beweeg haat nie vir Abraham Fischer nie – hulle vind dit net vreemd dat iemand wat dan glo uit hulle geledere gekom het, hulle so kon verraai. Dieselfde geld onder baie van my vriende vir mense soos Beyers Naudé, Pik Botha, FW en sy "onderhandelaars – om net enkeles te noem.  Dit gaan nie oor die mense self nie, maar oor wat hulle gedoen of nie gedoen het nie.

    En ek het in ’n Afrikaner huis grootgeword in die moeilike 30 en 40er jare van die Afrikaner se oorlewing, maar haat teen ander groepe was daar nooit – eerder respek vir die bruin en die swartmense met wie ons te doen gehad het.  Ek het as jongeling ’n paar warm klappe op my boud gekry omdat ek ’n bejaarde swartman nie eerbiedig genoeg as "outa" aangespreek het nie.

    Ek wonder waar kom jy aan hierdie idees? Ek dink jy het dalk ernstige emosionele probleme.

  • CorneliusHenn

    Thys, jou poging om my te probeer neerhaal met "dalk ernstige emosionele probleme" is al ’n ietwat geykte aanslag hier op LitNet sodra ’n opponent in jou vlak rede baljaar.

    Soos elke ander bydrae op die werf wat ek lees doen ek dit aandagtig en opreg om te leer en te verstaan.  

    Daarom is ek eerlik van mening dat jy Boer en Afrikaner met mekaar in jou konserwatiewe naïwiteit verwar.  

    Goed so vir jou ouderdom en die moeilike grootwordjare wat jy ervaar het.  

    Ek sou egter verwag dat jy as tegnies gesproke die eerste Afrikaner generasie in die Ingelse en Amerikaanse saamgeflanste Unie, dalk sou verstaan het hoeveel jy vandag in gemeen het met Afrikaners soos Jaco wat op ons reënboog oor Mzansi wil speel en gly.  

    My oupas kom ’n bietjie voor jou tyd. Een van hulle was ’n Boer tot in sy graf. Hy het net so min van die Unie se Afrikaners gedink as wat jy vandag van Nuwe Suid-Afrikaners dink.  

    Ek dink dat as jy werklik sinvol rede oor die Afrikaner wil voer, jy dalk net ’n bietjie meer moeite moet doen en die Boere Republieke se geskiedenis en hul burgers se ideologiese aspirasie in jou naaste biblioteek gaan opsoek.  

    As jy dalk ’n paar verwysings nodig oor die onderwerp, help ek met graagte. 

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • Thys Human (PTA)

    Jy het nie goeie verduidelikings gegee vir jou vroëre bewerings dat die Afrikaner "’n ingebore vyandigheid" teenoor ander groeperinge het nie. Ek het jou spesifiek daaroor aangevat en al wat jy kan doen is om ’n onsinnige getjommel oor Boer en Afrikaner op te rakel.

    Ek wil weet waar kom jy aan hierdie totaal skewe, ongegronde, oningeligte sieninge – en ek het jou daarop gewys dat dit nie is hoe ek groot geword het nie. Uit hierdie siening van jou wat baie duidelik om een of ander rede by jou bestaan en uit jou vorige insette waar jy baie duidelik êrens langs die pad ervarings of vermeende ervarings gehad het wat jou baie sterk beinvloed in jou oordeel en ontleding, wil dit vir my voorkom of daar ernstige emosionele probleme langs die pad was – en dalk nog is.

    Jy kan my niks leer oor die Engelse Oorlog nie – dis eintlik hoe ons Afrikaners verwys na daai oorlog wat later die ABO genoem is – vermoedelik weer om polities korrek te wees!  Het jy ooit Die Eeu van Onreg gelees?  Ek het – reeds in matriek.

  • CorneliusHenn

    Thys, jy mag miskien vir jouself die spil wees waarom als draai, maar in my bydrae hierbo noem ek nie eens jou naam nie. As die jakkals tjank, nou ja, dan was dit sekerlik raak. Pas die skoen soos die oumense geseg het, maar ek het werklik min saak met jou persoonlike liefde en haat in die lewe. Die feit dat jy jouself so as teiken ag dui op ’n veel ernstiger toestand van vervolgingswaan en patologiese narsisme. Jou onverdraagsaamheid teenoor my beskouing is op sigself ’n genoegsame aanduiding en ’n bewys van jou anderhaat. Boeregroete, Cornelius Henn.  

  • CorneliusHenn

    En o ja Thys, die geskiedenis rondom die tot stand kom van die Boere Republieke en die ABO of Ingelse oorlog staan afsonderlik van mekaar. Die Boere Republieke was lank voor die  ABO. Die hart, lief en leed waarin al die onderskeie Boere Republieke tot stand gekom het, kon dalk ’n aanduiding vir jou en andere wees oor hoe wyd die Boer en die Unie se Afrikaner (of te wel Anglikaners soos Hans tereg na hulle verwys) verskil. Hans Dons de Lange se lewe en dood is byna ’n absolute sinnebeeld daarvan. Ook Boere leiers soos Adam Kok III vertel ’n heel ander verhaal as wat die Anglikaners dink hulle ken. Boeregroete, Cornelius Henn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top