Vonnisbespreking: Openbare figuur – Laster, belediging en identiteitskending

  • 0

Openbare figuur: laster, belediging en identiteitskending

Cele v Avusa Media Limited [2013] 2 All SA 412 (GSJ)

Johann Neethling, Departement Privaatreg, Universiteit van die Vrystaat

LitNet Akademies Jaargang 11(2)
ISSN 1995-5928

 
Klik hier om die artikel in PDF-formaat af te laai..

Abstract

Public figure: defamation, insult and infringement of identity

In casu the plaintiff, a former commissioner of police and a controversial public figure, sued the defendant for damages for defamation arising from the publication of two articles and a digitally altered photograph of the plaintiff which were published by the Sowetan, and in the alternative for infringement of his dignity (insult) based solely on the altered photo image. He also claimed damages for the unlawful publication of his image. The photograph complained of was linked to the articles about the plaintiff’s advocating the use of deadly force in the fight against crime and was in essence a caricature of the plaintiff, portraying him as a crime-fighting agent. The defendant denied that the articles were defamatory of the plaintiff or harmful to his dignity.

Kathree-Setiloane J confirmed and correctly applied the relevant traditional principles regarding the law of defamation, and especially that public figures, including politicians, are required to withstand greater scrutiny and criticism. Fortunately she refrained from referring to the controversial new test for wrongfulness, namely the reasonableness of holding a defendant liable, which was introduced to the law of defamation by Brand AJ in Le Roux v Dey 2011 3 274 (CC) 315.

After scrutinising the articles and photo image, the court found that they were not defamatory of the plaintiff. A reasonable reader would have understood them to mean that the plaintiff was taking a tough stance against violent crime and that he was strongly advocating the use of deadly force by the police against criminals. There was no suggestion in the article that the plaintiff advocated indiscriminate use of force against members of the public by the police. Reasonable readers would not “think less” of the plaintiff for encouraging the police to take a tough stance against criminals.

The judge similarly correctly applied the relevant principles relating to infringement of dignity or insult. To be regarded as a wrongful infringement of dignity, the conduct complained of must not only infringe the plaintiff’s subjective feelings of dignity, but must also be objectively unreasonable or contra bonos mores. Having examined the evidence, the judge came to the conclusion that since the plaintiff had not been insulted by the photo image, and that it was in any case also not objectively unreasonable, since a reasonable person in his position would not have felt insulted, his claim based on the infringement of dignity also fell to be dismissed.

Finally the court also rejected the plaintiff’s claim that his image was published without his permission and actionable under the actio iniuriarum. The mere unauthorised publication of the plaintiff’s image or likeness in the circumstances under consideration, that is where a politician’s image has been used to create a caricature for purposes of commenting on his or her public statements on issues that are in the public interest, and not for commercial purposes (such as advertising), would not be considered wrongful. In this regard Kathree-Setiloane J could have identified the personality interest involved as the plaintiff’s identity.

Keywords: actio iniuriarum; boni mores; caricature; defamation; dignity; good name; identity; insult; mass media; personality rights; public figure; stare decisis; wrongfulness.

Trefwoorde: actio iniuriarum; belediging; boni mores; eer; goeie naam; identiteit; karikatuur; laster; massamedia; onregmatigheid; openbare figuur; persoonlikheidsregte; stare decisis.

 

1. Inleiding

Openbare figure kan beskryf word as persone wat op sodanige wyse reeds in die openbaar bekend geraak het vanweë hulle status, amp, beroep, doen, late en misdade dat hulle openbare belangstelling gaande maak sonder dat hulle noodwendig aan ’n nuuswaardige gebeurtenis gekoppel is – hierdie persone is dus op sigself nuuswaardig (sien Neethling e.a.2005:246 vn. 238; Neethling 2014b:113–4). Die kwessie van die beskerming van die persoonlikheidsregte van openbare figure het in die onlangse verlede dikwels die aandag van die howe geniet.1 In Cele het die skending van ’n openbare figuur se persoonlikheidsregte op die goeie naam of reputasie, eer of waardigheid en identiteit ter sprake gekom, wat vervolgens onder die loep geneem word.

 

2. Feite

Hier het die eiser, ’n voormalige kommissaris van polisie, die verweerder aangespreek vir vergoeding van ’n bedrag van R200 000 weens laster wat na bewering jeens hom kwytgeraak is in twee artikels en ’n digitaal-veranderde foto van hom wat in die Sowetan verskyn het; as alternatief eis hy weens die skending van sy eer wat slegs op die veranderde fotobeeld gebaseer is; en laastens eis hy bloot op grond van die onregmatige publikasie van sy gestaltebeeld, oftewel identiteitskending. Die gewraakte foto het verband gehou met die artikels wat gehandel het oor die eiser se propagering van die aanwending van dodelike geweld in die bekamping van misdaad en die foto was wesenlik ’n karikatuur van die eiser wat hom as ’n misdaadbestrydingsagent (“sheriff from the Wild West”) uitgebeeld het. In die eerste artikel is onder andere te kenne gegee dat die eiser in ’n openbare toespraak die polisie aangemoedig het om wanneer hulle met misdadigers te kampe het, “[to] aim for the head", "use deadly force" en "shoot to kill". Die opvolgartikel het gegaan oor agt persone wat binne tien dae na die eiser se opruiende toespraak deur die polisie doodgeskiet is. Die verweerder ontken dat die artikels en foto lasterlik of beledigend jeens die eiser is, maar selfs al sou dit die geval wees, word aangevoer dat die publikasie daarvan deur die verwere van billike kommentaar en redelike publikasie geregverdig word.

 

3. Beslissing

3.1 Laster

Regter Kathree-Setiloane (par. 9 e.v.) bevestig die volgende beginsels van ons lasterreg (sien ook Neethling e.a. 2005:129–30, 131, 135, 143–4, 156; Neethling en Potgieter 2010:350, 352–4; Le Roux v Dey 2011 3 274 (KH) 304–7; Neethling en Potgieter 2011:721 e.v.; Neethling 2002:700–8): daar moet ’n balans gehandhaaf word tussen die reg op die goeie naam (wat deel vorm van die reg op menswaardigheid) en die reg op vryheid van uitdrukking (sien ook Khumalo v Holomisa 2002 5 SA 401 (KH) 419; Neethling 2002:705); die elemente van ’n lasteraksie is die onregmatige en opsetlike publikasie van ’n lasterlike bewering aangaande die eiser; die publikasie van ’n lasterlike bewering laat twee vermoedens ontstaan, naamlik dat die publikasie sowel onregmatig as opsetlik geskied het, welke vermoedens deur die verweerder weerlê kan word; die weerleggingslas is ’n volle bewyslas; om te bepaal of ’n bewering (of karikatuur) lasterlik is, moet die hof eers die betekenis van die woorde (of beeld) objektief deur die lens van die gewone leser van die betrokke publikasie vasstel, en daarna, ook objektief, bepaal of daardie betekenis lasterlik van die eiser is deur te beoordeel of die woorde volgens die opvatting van die redelike persoon met normale intelligensie en ontwikkeling redelikerwys ’n betekenis het wat die neiging het om die aansien van die eiser in die oë van die gemeenskap te laat daal; die samehang of konteks waarin die laster geuiter word, is van kardinale belang by die beoordeling of die publikasie lasterlik is; en vir huidige doeleindes baie belangrik, daar word van openbare figure, politici inbegrepe, verwag om noukeuriger ondersoeke en kritiek oor hulle te duld.

Enkele opmerkings oor hierdie uiteensetting van die lasterreg is gepas. Eerstens: alhoewel opset of animus iniuriandi in die algemeen steeds ’n vereiste vir ’n suksesvolle lasteraksie is (sien Neethling 2010:702–14), word dit sedert die beslissing in National Media Ltd v Bogoshi 1998 4 SA 1196 (HHA) 1210–1 nie meer vir aanspreeklikheid van die massamedia vir laster vereis nie – nalatigheid is hiervoor voldoende (sien ook bv. Khumalo 415–6; Mthembi-Mahanyele v Mail & Guardian Ltd 2004 6 SA 329 (HHA) 349–50; Neethling e.a. 2005:167; Neethling en Potgieter 2010:361). Dit geld dus ook die Cele-saak. Weens beleids-, praktyk- en billikheidsoorwegings rus die bewyslas op die media om aan te toon dat hulle nie nalatig was nie (Bogoshi 1215; sien Neethling e.a. 2005:167 vn. 396). Die massapublikasie van ’n lasterlike bewering skep dus ’n vermoede van nalatigheid.

Tweedens: regter Kathree-Setiloane (par. 26), met verwysing na Le Roux (KH) 305–6, verklaar tereg dat aangesien die toets vir lasterlikheid objektief is, “it is irrelevant how the plaintiff subjectively viewed the altered image or how people, who spoke to him, viewed it subjectively”. Hieruit blyk duidelik, soos voorheen opgemerk (Neethling e.a.2005:136), dat die vraag na ’n feitelike persoonlikheidskrenking – dit wil sê of die betrokkene se goeie naam inderdaad gekrenk is – in die onregmatigheidsbeoordeling by laster negeer word. Hierbenewens word slegs vereis dat die woorde of gedrag bereken moet wees of die neiging of strekking moet hê om te belaster, en nie dat belastering in werklikheid moet realiseer nie. Kortom, dit gaan eerder om waarskynlikheid van benadeling as om werklike benadeling (sien ook Harms AP in Le Roux v Dey 2010 4 SA 210 (HHA) 213–4). Soos voorheen uitgewys (sien Neethling en Potgieter 2011:722), is regter Brand se kritiek in Le Roux (KH) 306–7 teen hierdie siening, as sou Neethling, Potgieter en Visser (2005:136) te kenne gee dat die neiging of strekking om te belaster in hierdie verband voldoende is, geensins houdbaar nie, aangesien hulle dit duidelik maak, soos blyk uit die gekursiveerde woorde hier bo, dat dit om die waarskynlikheid van die neiging of strekking om te belaster gaan.

Derdens: in Le Roux (KH) 315 maak regter Brand die volgende stelling in verband met deliktuele onregmatigheid:

In the more recent past our courts have come to recognise, however, that in the context of the law of delict: (a) the criterion of wrongfulness ultimately depends on a judicial determination of whether – assuming all the other elements of delictual liability to be present – it would be reasonable to impose liability on a defendant for the damages flowing from specific conduct; and (b) that the judicial determination of that reasonableness would in turn depend on considerations of public and legal policy in accordance with constitutional norms. Incidentally, to avoid confusion it should be borne in mind that, what is meant by reasonableness in the context of wrongfulness has nothing to do with the reasonableness of the defendant’s conduct, but it concerns the reasonableness of imposing liability on the defendant for the harm resulting from that conduct.

Hierdie formulering van onregmatigheid haal hy weer aan in onder andere Roux v Hattingh m2012 6 SA 428 (HHA) 439, Cape Empowerment Trust v Fisher Hoffman Sitole 2013 5 SA 183 (HHA) 193 en Country Cloud Trading CC v MEC, Department of Infrastructure Development 2014 2 SA 214 (HHA) 223 (sien ook Imvula Quality Protection (Pty) Ltd v Loureiro 2013 3 SA 407 (HHA) 424). Nieteenstaande herhaling moet weer eens gewys word op die omstredenheid en bygevolg onaanvaarbaarheid nie alleen van die beskrywing van die toets vir onregmatigheid as die redelikheid om die dader aanspreeklik te stel nie, maar ook van die beskouing dat onregmatigheid niks met die redelikheid van die dader se optrede te make het nie (sien Neethling en Potgieter 2010:83–6; Neethling 2014:36–7;Millard 2012:383; Neethling en Potgieter 2014:116 e.v.; contra Brand 2013:57 e.v.). Soos voorheen uitgewys (sien Neethling en Potgieter 2011:724–5), is dit jammer dat die hof in Le Roux (KH) hierdie omstrede standpunte by die lasterreg ingevoer het. Ons lasterreg het oor ’n lang tydperk ontwikkel en daar bestaan ’n groot mate van sekerheid oor die betekenis en toepassing daarvan, in die besonder ook wat die toets vir onregmatigheid betref. Juis daarom is dat moeilik begryplik waarom regter Brand dit nodig vind om die omstrede nuwe variasie van die toets vir onregmatigheid binne die sfeer van die lasterreg te berde te bring, te meer omdat daar geen teken te bespeur is dat hy self die nuwe toets in Le Roux toepas om onregmatigheid te bepaal nie (sien Neethling en Potgieter 2011:724–5). Hierbenewens skep die nuwe toets ’n mynveld van onsekerheid vir die lasterreg sonder dat die invoer daarvan na behore deurdink en gemotiveer is. In Media 24 Ltd v SA Taxi Securitisation and amici curiae 2011 5 SA 329 (HHA) 341 verklaar appèlregter Brand immers dat die hoogste hof van appèl – en ’n mens kan seker aanneem ook die konstitusionele hof – die beginsel van stare decisis aanhang wat gerig is op sekerheid, voorspelbaarheid, gelykheid, eenvormigheid en gerief in ons regstelsel; dié hof is daarom gebonde aan sy vorige uitsprake tensy hy tevrede is dat dit duidelik verkeerd is. Hy (341) vervolg dat

when this court has taken a policy decision, we cannot change it just because we would have decided the matter differently. We must live with that policy decision, bearing in mind that litigants and legal practitioners have arranged their affairs in accordance with that decision. Unless we are therefore satisfied that there are good reasons for change, we should confirm the status a quo.

Ongelukkig het regter Brand die toepassing van die stare decisis-beginsel in Le Roux (KH) versaak. Dit moet regter Kathree-Setiloane ter ere nagegee word dat sy haar, nieteenstaande haar uitgebreide verwysings na Le Roux (KH), gelukkig daarvan weerhou het om die nuwe variasie van die onregmatigheidstoets te vermeld, en met sukses net die tradisionele beginsels van die lasterreg toegepas het.

Laastens is dit gepas om in meer besonderhede te wys op die posisie van openbare figure in die lasterreg. Soos gesê, word daar van openbare figure verwag om noukeuriger ondersoeke en kritiek oor hulle te verduur. Dit geld veral waar die betrokke openbare figuur omstrede is en boonop by die publiek vir aandag vlerksleep. Volgens die hof in Cele (par. 23) kan ’n openbare figuur nie op regsbeskerming aanspraak maak in ’n geval waar hy

courted public attention and controversy as consistently as the plaintiff did on an important public interest issue such as violent crime, and what the police’s appropriate response should be. The law requires of such public figures, politicians and public officers (by virtue of their chosen professions) to be robust and thick-skinned in relation to comments made against them.

In ’n ander saak waar ’n omstrede openbare figuur, Julius Malema, betrokke was, stel regter Lamont (Malema 634–5) dit soos volg:

The applicant has a right not to be defamed. I however must take into account also the right of the public to receive information. The applicant in the present matter is a high profile public figure. He has made controversial statements at times. At present there is a discussion in the press concerning whether or not his income justifies his expenses. The question of the income of the applicant is topical and is relevant to that issue … The public is entitled in general terms to have full disclosures concerning persons who stand in a public position and who are high profile personalities, who invite comment about themselves.

(Sien vir soortgelyke uitsprake bv. Delange v Costa 1989 2 SA 857 (A) 861–2; Argus Printing and Publishing Co Ltd v Inkatha Freedom Party 1992 3 SA 579 (A) 588; Crawford v Albu 1917 AD 102, 105; Cele par. 24.)

Soos reeds uit die pas aangehaalde diktum blyk, beteken dit nie dat openbare figure, veral politici, geen persoonlikheidsbeskerming geniet nie. Burchell (1998:229; sien ook Mthembi Mahanyele 357; Cele par. 24; Neethling e.a. 2005:141) verklaar dat “[p]oliticians or public figures do not simply have to endure every infringement of their personality rights as a price for entering the political or public arena, although they do have to be more resilient to slings and arrows than non-political, private mortals”, en dat “although politicians may, in one sense, be fair game for criticism, it is not completely open season in the political veld”. Die grense van sodanige kritiek of kommentaar word bepaal deur die redelikheid al dan nie van die kritiek of kommentaar, en hier byvoorbeeld sal lasterlike bewerings wat deur ’n onbehoorlike motief of “malice” aangevuur word, onregmatig wees (vgl. Mthembi Mahanyele 357).

Na ’n deurtastende ondersoek van die artikels en die karikatuur van die eiser, bevind regter Kathree-Setiloane (parr. 31 e.v.) dat hulle nie lasterlik van die eiser is nie. Wat die eerste artikel betref, sou die redelike leser volgens die hof gedink het dat die eiser ’n sterk standpunt teen geweldsmisdaad inneem en dat hy die gebruik van dodelike geweld deur die polisie teen misdadigers kragtig voorstaan. Daar was geen suggestie in die artikel dat die eiser die willekeurige gebruik van geweld deur die polisie teen lede van die publiek propageer nie. Redelike lesers sou dus nie minder van die eiser gedink het omdat hy die polisie aanmoedig om ’n onversetlike houding teen misdadigers in te neem nie.

Ook wat die tweede artikel betref, is die regter van mening dat die gewone lesers van die Sowetan nie ’n laer dunk van die eiser sou gehad het nie, selfs al sou hulle aanvaar het dat die eiser se opruiende kommentaar gelei het tot die sterftes wat in die artikel genoem word, of minstens daartoe bygedra het. Daar mag verskil van mening wees of die eiser se oproep tot die polisie om dodelike geweld te gebruik, manmoedig en ’n noodsaaklike standpuntinname teen misdaad was, en of dit ’n onbesonne posisie was om in te neem. Volgens die hof is albei hierdie standpunte ewe waarskynlik. Die artikel het dus ’n dubbelsinnige betekenis: die een lasterlik en die ander nielasterlik. In hierdie verband sit regter Brand in Le Roux (KH) 307 die posisie soos volg uiteen:

If it is found that the statement is ambiguous in the sense that it can bear one meaning which is defamatory and others which are not, the courts apply the normal standard of proof in civil cases, that is, a preponderance of probabilities. If the defamatory meaning is more probable than the other, the defamatory nature of the statement has been established as a fact. If, on the other hand, the non-defamatory meaning is more probable, or where the probabilities are even, the plaintiff has failed to rebut the onus which he or she bears. Consequently it is accepted as a fact that the statement is not defamatory.

In die lig daarvan dat die twee betekenisse in die tweede artikel in Cele ewe waarskynlik is, beslis regter Kathree-Setiloane dat die nielasterlike betekenis dan die deurslag gee.

3.2 Belediging

Wat die eis vir die aantasting van die eiser se reg op die eer of waardigheid (“dignity”) weens die publikasie van die veranderde fotobeeld of karikatuur van hom betref, bevestig die hof (parr. 41 e.v.) die bestaande regsposisie soos volg (sien ook Neethling e.a. 2005:191 e.v.; Neethling en Potgieter 2010:365–6): ’n Persoon se eer omvat sy subjektiewe eergevoel of selfrespek. Krenking van sy eergevoel bestaan dienooreenkomstig in die belediging (“insult”) van daardie persoon. Hier gaan dit om die eie gevoelswaarde en nie om die dunk van andere soos by laster nie. (Ter wille van begripshelderheid moet “eergevoel” ook noukeurig van dignitas en grondwetlike menswaardigheid onderskei word. Dignitas dien as versamelnaam vir alle persoonlikheidsregte (ook dié op die eergevoel) uitgesonderd die regte op die liggaamlike integriteit en die goeie naam; menswaardigheid in grondwetlike sin, weer, is die erkenning van die intrinsieke waarde van die mens wat alle aspekte van die menslike persoonlikheid omvat, dus ook sy corpus en fama, en uiteraard ook sy gevoel van selfrespek – dit is gevolglik wyer as dignitas; sien Neethling 2006:85 e.v.; Neethling en Potgieter 2010:19 vn. 147.) Om as onregmatig of ’n skending van die reg op die eer aangemerk te word, moet die gewraakte optrede egter nie alleen die subjektiewe eergevoel krenk nie, maar tegelykertyd ook onredelik of in stryd met die regsoortuigings van die gemeenskap (contra bonos mores) wees (sien bv. Delange v Costa1989 2 SA 857 (A) 862). In laasgenoemde verband is die “notional understanding and reaction of a person of ordinary intelligence and sensibilities” (Jackson v NICRO 1976 3 SA 1 (A) 10) van deurslaggewende betekenis. Bewys die benadeelde dat hy beledig voel in omstandighede waarin die redelike persoon ook beledig sou gevoel het (sien bv. Minister of Police v Mbilini 1983 3 SA 705 (A) 716; De Lange 861–2; Dendy v University of Witwatersrand 2007 5 SA 382 (HHA) 388–9; Burchell 1998:328–9), ontstaan daar ’n vermoede van onregmatigheid wat die verweerder kan weerlê deur die bestaan van ’n regverdigingsgrond vir sy optrede aan te toon.

Bogenoemde beginsels toegepas op die feite, beslis die hof (par. 49) dat die publikasie van die karikatuur van die eiser nie onregmatig was nie en dat sy eis op grond van eerskending ook van die hand gewys moet word. Regter Kathree-Setiloane (par. 46) is glad nie oortuig dat die eiser, “a seasoned public figure and politician, who was trained as a MK soldier and plainly of strong character”, werklik as gevolg van die veranderde fotobeeld subjektief beledig gevoel het nie. Maar selfs al sou dit die geval wees, is die volgende vraag of “a reasonable politician with many years of experience and a long history of involvement in law enforcement”, ook as gevolg van die karikatuur beledig sou gevoel het, en die regter (ibid.) is van mening dat dit nie die geval sou wees nie.

3.3 Identiteitskending

Alhoewel die hof (parr. 50 e.v.) dit nie as sodanig identifiseer nie, is dit op die keper beskou identiteitskending wat ter sprake kom by die na bewering “unlawful publication of the plaintiff's image”. Identiteit as beskermde persoonlikheidsgoed is daardie uniekheid wat ’n persoon as ’n bepaalde individu identifiseer en hom sodoende van andere onderskei, en wat sigself manifesteer in verskeie eienskappe waaraan ’n persoon herken kan word, soos sy naam of ewebeeld (sien Grütter v Lombard 2007 4 SA89 (HHA) 93). Identiteit word geskend deur die vervalsing of wanvoorstelling van ’n persoon se persoonlikheidsbeeld, of deur die misbruik van identiteitskenmerke vir kommersiële doeleindes, alhoewel oorvleueling tussen hierdie twee wyses van skending ook kan voorkom (sien Grütter 88, 95–6; sien ook Cornelius 2008:645 e.v.; Cornelius 2011:196; Neethling 2011:63–4; Neethling en Potgieter 2010:370).

Vir huidige doeleindes is die misbruik van ’n identiteitskenmerk vir kommersiële doeleindes van belang, aangesien die eiser hom oor die onregmatige publikasie van sy beeld (die digitaal veranderde foto van hom) sonder sy toestemming bekla het, en wat na sy mening gedingsvatbaar ingevolge die actio iniuriarum is. Die eiser beroep hom op O'Keeffe v Argus Printing and Publishing Co Ltd 1954 3 SA 244 (K), waar die foto van ’n dame ongemagtig as deel van ’n advertensie van vuurwapens en ammunisie gepubliseer is, en Wells v Atoll Media (Pty) Ltd [2010] 4 All SA 548 (WKK), waar ’n prikkelpopfoto van ’n 12-jarige meisie sonder haar toestemming in ’n branderryertydskrif geplaas is ten einde die tydskrif op te kikker. Albei sake het dus oor die kommersiële uitbuiting van die betrokke eiseres se beeld gegaan en was daarom gedingsvatbaar (sien Cele parr. 52–3). Dit geld ook openbare figure wie se naam of beeld nie sonder hul toestemming vir byvoorbeeld advertensiedoeleindes gebruik mag word nie (sien Kumalo (GSJ) par. 22, waar die foto van ’n beroemde openbare figuur wat ’n suksesvolle loopbaan as ’n model, televisie-aanbieder, tydskrifredaktrise en besigheidsvrou opgebou het, ongemagtig as deel van advertensies van ’n fietswinkel gepubliseer is; sien ook Neethling e.a. 2005:37, 255 e.v.; Neethling 2012:352). Uit al hierdie gevalle blyk duidelik dat die ongemagtigde toe-eiening van ’n persoon se naam of beeld vir kommersiële voordeel of gewin die persoon se identiteit onregmatig aantas (sien Cornelius 2011:196).

Dit was egter nie die geval in Cele nie. Regter Kathree-Setiloane (par. 51) maak dit baie duidelik dat

the mere unauthorised publication of plaintiff’s image or likeness in the circumstances under consideration, i.e. where a politician's image has been used to create a caricature for purposes of commenting on his or her public statements on issues that are in the public interest, and not for commercial purposes, would not be considered wrongful. Having regard to the importance of striking the correct balance between the right to freedom of expression and the right to dignity [identity], public policy dictates that in these circumstances the defendant should not be held liable for publishing the photographic image (albeit altered) of the plaintiff.

’n Mens sou dus as algemene reël kon formuleer dat die publikasie van ’n persoon se naam of beeld, hetsy ewebeeld of karikatuur, ten einde die openbare belang (sien Neethling 2014b:109–10 vir ’n omskrywing van hierdie begrip) te dien, nie onregmatig is nie, ongeag of ’n openbare figuur betrokke is al dan nie, en ongeag die feit dat die media immers op wins ingestel is en dus in elk geval ’n kommersiële voordeel probeer behaal. Is die oogmerk egter om die eiebelang van winsbejag voorop te stel en geensins die openbare belang te dien nie (soos in Wells par. 49; sien Neethling 2012:354), behoort die publikasie van die naam of beeld nie deur die reg geduld te word nie.

 

4. Gevolgtrekking

Die tradisionele regsbeginsels aangaande laster en belediging is klaarblyklik goed deur die howe ontwikkel en word korrek en voortreflik in die Cele-saak deur regter Kathree-Setiloane toegepas. Dit geld veral die gevestigde toetse vir onregmatigheid waar die invoer van die omstrede nuwe toets, as synde die redelikheid om die verweerder aanspreeklik te stel, die beginsel van stare decisis versaak, net verwarring in die hand werk en sodoende ’n geleibuis vir regsonsekerheid skep. Daarom behoort dit in die besonder wat die iniuria-reg betref, laat vaar te word en is dit verblydend dat die hof in Cele glad nie daarna verwys of dit nodig vind om dit toe te pas nie. Alhoewel die regter se standpunt oor die beskerming van die ewebeeld of karikatuur van ’n persoon ook instemming verdien, is dit tog jammer dat sy, nieteenstaande die uitdruklike erkenning deur die hoogste hof van appèl van identiteit as selfstandige persoonlikheidsgoed, nie die ter sake regsgoed in casu as sodanig identifiseer nie.

 

Bibliografie

Brand, F.D.J. 2013. The contribution of Louis Harms in the sphere of Aquilian liability for pure economic loss. In Lewis (red.) 2013.

Burchell, J.M. 1998. Personality rights and freedom of expression. The modern actio iniuriarum. Kenwyn: Juta.

—. 1985. The law of defamation in South Africa. Kenwyn: Juta.

Cornelius, S.J. 2011. Commercial appropriation of a person’s image. Potchefstroom Electronic Law Journal, 14(2):182–226.

—. 2008. Die reg op identiteit en die kommersiële ontginning van die individu se openbare beeld. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:645–8.

Gowar, C. en C.J. Visser. 2012. Distinguishing between dignity, identity and privacy: is it really necessary? Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 75(1):154–62.

Lewis, C. (red.). 2013. Essays in honour of Louis Harms.Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 76(1):57–69.

Loubser, M. en J.R. Midgley (reds.). 2012. The law of delict in South Africa. Kaapstad: Oxford University Press.

McQuoid-Mason, D.J. 1978. The law of privacy in South Africa. Kaapstad: Juta.

Millard, D. 2012. J. Neethling and J.M. Potgieter (translated and edited by J.C. Knobel). Neethling, Potgieter and Visser’s Law of Delict (2010). Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2:382–3.

Nagel, C.J. (red.). 2006. Gedenkbundel vir JMT Labuschagne. Durban: LexisNexis.

Neethling, J. 2014. Dogmatiese verkenning van die reg op privaatheid kry verdere erkenning in die regspraak. LitNet Akademies, 11(1):27–39.

—. 2014a. Facebook en persoonlikheidsbeskerming. LitNet Akademies, 11(1):40–51.

—. 2014b. Die rol van die openbare belang by laster en privaatheidskending. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 77(1):109–16.

—. 2012. Die beskerming van die persoonlikheidsreg op identiteit teen kommersiële uitbuiting. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2:348–55.

—. 2011. ’n Vergelyking tussen die individuele en korporatiewe persoonlikheidsreg op identiteit. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:62–75.

—. 2010. Onregmatigheidsbewussyn as element van animus iniuriandi by iniuria. Obiter, 31(3):702–14.

—. 2006. Die betekenis en beskerming van die eer, dignitas en menswaardigheid in gemeenregtelike en grondwetlike sin. In Nagel (red.). 2006.

—. 2002. The constitutional court gives the green light to the common law of defamation. South African Law Journal, 119(4):700–8.

Neethling J. en J.M. Potgieter. 2014. Wrongfulness in delict: A response to Brand JA. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 77(1):116–23.

—. 2013. The law of delict. In Visser e.a. (reds.). 2013.

—. 2011. Defamation of school teachers by learners. Obiter, 32(3):721–30.

—. 2010. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling, J., J.M. Potgieter en P.J. Visser. 2005. Neethling’s law of personality. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Strauss, S.A., M.J. Strydom en J.C. van der Walt. 1987. Mediareg. 4de uitgawe (deur Klopper, H.B.). Van Schaik: Pretoria.

Visser, C. e.a. (reds.). 2013. Annual Survey of South African Law 2011. Claremont: Juta.

Eindnotas

1 Sien oor privaatheidsbeskerming bv. Greeff v Protection 4U h/a Protect International 2012 6 SA 393 (GNP) 407–8, 416–9; Heroldt v Wills 2013 2 SA 530 (GSJ) 547–8; Malema v Rampede 2011 5 SA 631 (GSJ) 638; Tshabalala-Msimang v Makhanya 2008 6 SA 102 (W) 117–8; sien ook Jooste v National Media Ltd 1994 2 SA 643 (K) 645–6; McQuoid-Mason 1978:218–24; Neethling e.a. 2005:246, veral vn. 238; Burchell 1998:416, 422–3; Strauss e.a. 1987:307–9; Neethling 2014:27–34; Neethling 2014a:48–9. Oor identiteitskending sien bv. Kumalo v Cycle Lab (Pty) Ltd 2011-06-17 saaknr. 31871/2008 (GSJ); sien ook Gowar en Visser 2012:160; Cornelius 2011:182 e.v.; Neethlinge.a.2005:37, 255 e.v.; Neethling 2012:351. Oor belediging sien bv. Greeff 408–9, 416–9; sien ook Neethling 2014:34–6. En oor laster sien bv. Malema 636–8; Greeff 409, 411, 416–9; sien ook Burchell 1998:27–8, 275 vn. 21, 310–4; Burchell 1985:192; Neethling en Potgieter 2013:816–8; Neethling 2014b:112–5; Neethling 2014:35–6.

 


LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer by die SA Departement Onderwys en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of Approved Journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel vir LitNet Akademies en kwalifiseer vir subsidie deur die SA Departement Onderwys.


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top