Openbare beeld en waarheid kan verskil

  • 1

Ek het Christopher Hitchens (13.04.1949-15.12.2011) se gemaklik-vloeiende skryfwerk leer ken in sy boek, god Is Not Great (London: Atlantic Books, 2007, 307p). Die klein- en hoofletters in die titel is soos hy hulle wou hê. Hitchens was een van die vier voorste Nuwe Ateïste. Ek het voorheen genoem dat hulle dogmatisme en propagandisme my nie aanstaan nie (SêNet, 12.03.2010). Hitchens wou graag ’n openbare intellektueel wees maar het soms oorboord gegaan met stellings wat nie net oordrewe nie maar ook vals is. Hier volg ’n voorbeeld. Ek het onlangs geskryf oor wat tot Dietrich Bonhoeffer se dood aanleiding gegee het (SêNet, 14 Maart). Hitchens verkies ’n populêre stelling bo die waarheid: "Dietrich Bonhoeffer, a brave Lutheran pastor hanged by the Nazis for his refusal to collude with them" (p 7).

Ter illustrasie van Hitchens se dogmatisme die volgende voorbeeld. Oor Martin Luther King skryf hy: "In no real as opposed to nominal sense ... was he a Christian. This does not in the least diminish his standing as a great preacher, any more than does the fact that he was a mammal like the rest of us, and probably plagiarized his doctoral dissertation, and had a notorious fondness for booze and for women a good deal younger than his wife ... a high moral character is not a precondition for great moral accomplishments" (p 176). "Many of King’s inner circle and entourage were secular Communists and socialists" (p 179-180). "One wishes every day that Martin Luther King had lived on and continued to lend his presence and his wisdom to American politics" (p 184).

Op die internet kan maklik vasgestel word dat King sonder enige twyfel plagiaat met sy doktorale proefskrif gepleeg het. Daarom irriteer Hitchens my grenseloos deur telkens "Dr Martin Luther King" te skryf. Dit dui op die uiterste akademiese onsensitiwiteit by Hitchens; iemand wat dikwels na sy doseerwerk aan Amerikaanse universiteite verwys. Daar is myns insiens twee dinge wat geen opregte akademikus behoort te duld nie. Eerstens om eerder op nie-akademiese as akademiese gronde studentetoelatings en die aanstelling en bevordering van dosente te doen; ’n anti-akademiese wanpraktyk wat standaardpraktyk in die nuwe Suid-Afrika geword het. Tweedens is daar plagiaat. Dit en ander kenmerke genoem in die p 176-aanhaling dui op King se immoraliteit. Dit is die soort mens wat nie met ’n openbare vakansiedag (soos in Amerika) vereer behoort te word nie. King se politieke aktiwiteite word egter so hoog deur Hitchens en andere aangeslaan dat sy immorele gedrag goedsmoeds onder die mat gevee word.

Hitchens het hom (gelukkig) eerder met ander wêreldgebeure as met Suid-Afrika bemoei, maar dit het nie verhoed dat hy eensydige, snedige opmerkings oor die vorige politieke bedeling gemaak het nie. Hy verwys na "the other most hateful dictatorship of the twentieth century: the vile system of apartheid in South Africa. This was not just the ideology of a Dutch-speaking tribe bent on extorting forced labor from peoples of a different shade of pigmentation, it was also a form of Calvinism in practice ... Racism is totalitarian by definition: it marks the victim in perpetuity and denies him, or her, the right to even a rag of dignity or privacy ... an Afrikaner permutation of Zionism created a backward and despotic state, in which the rights of all other peoples were abolished and in which eventually the survival of Afrikaners themselves was threatened by corruption, chaos, and brutality ... It is to the credit of ... the African National Congress that South African society was saved from complete barbarism and implosion" (p 251-252).

In hierdie aanhaling is daar doelbewuste oordrywing en talle valshede. Was dit ’n diktatorskap? Het die Britsgebore Hitchens reg deur net die "Dutch-speaking tribe" vir rasseskeiding verantwoordelik te hou? Was dit ’n stelsel van dwangarbeid? Is rassisme altyd totalitaries? Is dit waar dat daar nie "the right to even a rag of dignity or privacy" vir nie-wittes was nie? Was Suid-Afrika toe ’n agterlike staat of het dit eerder sedertdien in groter mate sodanig geword? Het nie-wittes geen regte gehad nie? Was daar die daadwerklike gevaar dat Afrikaners weens korrupsie die mag sou verloor? Het die ANC die land van barbaarsheid gered, of is dit eerder waar dat korrupsie en barbaarsheid in die nuwe Suid-Afrika momentum gekry het? Het die gevaar van die inploffing van die staat voorheen bestaan of is daar eerder daadwerklike aanduidings dat dit vorentoe kan gebeur? Hitchens het hom graag skerp teen die apartheidsbewind uitgespreek maar hom van kritiek op die ANC-regering weerhou.

Hitchens het dit teen religie en rassisme gehad. Daarom is dit vir hom maklik om te sê: "Religion is not unlike racism" (p 35). In werklikheid hoef daar nie ’n verwantskap te wees nie. "One of the great emancipating results of genomics is to show that all ’racial’ and color differences are recent, superficial, and misleading" (p 95). Die verskille tussen mense en die aapsoorte kan op dieselfde grondslag as onbeduidend afgemaak word. [Volgens Francis Collins (The language of God, London: Pocket Books, 2007) is mense op die DNS-vlak 99.9% identies (p 125) en mense en sjimpansees 96% (p 137).] Maar daar is belangrike kwalitatiewe verskille. Nie-gnomies kan die intellektuele en kulturele verskille by mense groot wees. Thomas Huxley het in 1860 in sy beroemde debat met biskop Samuel Wilberforce oor die ewolusieleer die kwalitatiewe verskille tussen mense erken toe hy gese het: "I would rather be descended from an ape than a bishop."

In die geval van Bonhoeffer, King en Suid-Afrika bestendig Hitchens die geykte, populêre beeld. Met Mohandas Gandhi is dit anders. Hy wys daarop dat "Mahatma" ’n troetelbenaming is (p 182), dus soortgelyk aan "Madiba", waarmee ons tot vervelens toe plaaslik gekonfronteer word. Gandhi "wanted India to revert to a village-dominated and primitive ’spiritual’ society ... he was quite prepared to make hypo-critical use of violence when he thought it might suit him" (p 182). Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy selfs Japannese besetting bo die Britse bewind in Indië verkies. Die spinwiel op die Indiese vlag "was the emblem of Gandhi’s rejection of modernity ... expressing hostility to machinery and technology ... Millions of people would have mindlessly starved to death if his advice had been followed" (p 183). Volgens Hitchens was Gandhi nie konsekwent die wyse pasifis nie. Dit is eintlik maar die afgelope paar dekades dat Gandhi se dwase anti-moderniteit afgeskud is en Indië se nywerhede skouspelagtig tot hulle reg begin kom het.

Desmond Tutu se huidige openbare beeld kan op ’n soortgelyke wyse gekontrasteer word met wat hy werklik was. Hyself en andere probeer deesdae om hom voor te stel as ’n vredemaker wat konsekwent teen geweld gekant was. In werklikheid het hy die gepeupel opgesweep en nie die geweld veroordeel wat daaruit gevolg het nie. Ter illustrasie volg hier aanhalings in Tutu se eie woorde uit sy gemagtigde biografie, Rabble-rouser for peace (London: Rider, 2006), geskryf deur sy vriend John Allen. "If we base our decisions on race we should not be surprised that people should react violently" (p 98). [Beteken dit in die huidige politieke bedeling dat wittes hulle maar tot geweld mag wend?] "Blacks are being provoked beyond human endurance ... I reiterate this warning ... that desperate people will be compelled to use desperate means" (p 153). "Bloodshed and violence are going to happen in South Africa almost inevitably. A people can take only so much and no more" (p 154). "It is because blacks in Zimbabwe, in South Africa and in Namibia have, they believe, tried every peaceful means that they have been compelled reluctantly to resort to violence" (p 163). "Our cry is: ’Do not abandon us even when, perhaps particularly when, [the] struggle for various reasons becomes violent’" (p 174). "When people pick up arms ... I would not condemn them" (p 212).

"Tutu was personally ambivalent about civil disobedience ... he did not on principle reject the use of force under all circumstances" (p 184). Allen toon bv aan hoe Tutu tydens die Lambeth-konferensie in 1988 gesorg het dat politieke geweld in Noord-Ierland veroordeel word, maar dat dit nie (sonder meer) vir Suid-Afrika gegeld het nie (p 381). Wat ’n mens finaal van Tutu se werklike standpunt oor geweld behoort te oortuig is die wenke wat hy aan (potensiële) plaaslike geweldenaars gegee het: "Tutu had raised the prospect of attacks on white South African schoolchildren and of black servants poisoning their employers’ morning coffee" (p 263).

Soos in die geval van Gandhi het Hitchens ook die oorwegend gunstige openbare beeld van Moeder Teresa (Agnes Bojaxhiu) afgekam. Hy toon aan dat sy algemeen bekend geword het nadat Malcolm Muggeridge in 1969 verkeerdelik ’n wonderwerk aan haar toegeskryf het. Dit is opgevolg met valse inligting oor nog ’n wonderwerk na haar dood in 1997 (p 145-148). Hitchens het in 1995 ’n boek oor Moeder Teresa gepubliseer. Maar ek gaan volgende keer eerder oor Hitchens se laaste boek skryf.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top