Ope brief aan Johan Kotzé

  • 6

Hierdie skrywe rig ek persoonlik aan jou. Dit is nie oor die een of ander siek behoefte aan my kant dat ek die soeklig met jou wil deel waar jy in die vuurtonge dans nie. Dit is ‘n vorm van psigologiese reiniging. ‘n Eerste brief vanuit die buitenste duisternis. Inaggenome die huidige stand van die kollektiewe bewussyn sidder ek om te dink wat nog sal kop uitsteek indien die mensdom môre tot verantwoording geroep word. Of jy ooit hierdie woorde lees is ‘n bysaak.

Ek het doelbewus besluit om jou op jou naam aan te spreek. In die media staan jy bekend as die “Modimolle monster”. ‘n Opskrif soos “Kotzé martel en moor” beskik ook oor alliterasie maar dit rol nie so lekker van die tong af nie en die menslike ondertoon blyk onvanpas. Dis nie asof jy eens met tien vingers en tien tone in liefde ontvang is nie, nee, jy is ‘n monster en ons is mense. ‘n Gebore monster? Gemaak? Soos ek vroeër gemeld het is enigiets moontlik deesdae. My swaer byvoorbeeld is tans besig om homself dood te drink en sy pragtige gesin in die proses te verwoes oor sy ma hom as baba bottelskerwe gevoer het en ander euwels van die wanfunksionele huishouding waarin hy grootgeword het. Nie dat ek jou vermeende of sy dade wil regverdig nie. Ek is geen apologeet vir die keuses wat julle maak nie. Wat ek wel wil stel is dat elke kruisiging sy geskikte naamplaatjie het. Die groot verskil egter is dat jy of hy nie die een onskuldige party uit drie is nie.

Dalk moet ek in ‘n Aha-oomblik ‘n Oprah op myself trek en sê: “If you know better you do better.” Of myself op die oorspronklike teks beroep: “Vergewe hulle Vader want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Maar wat weet ‘n worstelende siel iewers verlore in die kerkbanke van Damaskus?

Ek sien in die hof plakkate wat versoeke rig van geen genade. Ongetwyfeld moet jy die swaar straf uitdien wat jou toekom. In jou geval (en ver het jy geval) worstel ek met die eindelose genade van God. Eindeloos is ‘n term wat mense nie eers behoorlik kan begryp nie al bestaan dit in hulle woordeskat. Genade is net so groot woord. Word dit verdien? Ontvang? Bepleit? Word dit deur die Alleenbeskikker toegestaan? Of geweier soos toe dit in jou hande was? Een ding is verseker, God gaan nie op ‘n goeie dag my op die skouer tik en jou ewige lot in my hande plaas nie.

Daar staan iewers dat mens eendag ‘n nuwe naam sal ontvang. Ek het al baie gewonder oor my nuwe naam. Dit moet ‘n naam wees wat die kern van my wees aanspreek. As ek dan die kern van my wees na baie selfondersoek moet saamvat, dit wat ek dalk nie nou alreeds is nie maar wat ek graag wil wees, sal ek volstaan by die woorde: Niemand mag verlore gaan. En nou sit ek met ‘n groot dilemma in jou geval. Sal ek aansluit by die koor en Good riddance to bad rubbish sing? Jy maak dit bitterlik moeilik vir my om jou lief te hê. Die vermeende dade wat jy gepleeg het, het nie net ons ganse volk van ‘n belowende seun ontneem nie maar ook sy moeder onskatbare leed aangedoen.

Jy was eens Johan Kotzé. Nou is jy in die volksmond die Modimolle monster. Indien jy steeds ‘n behoefte daaraan het om eendag ‘n nuwe naam te ontvang, wat sal dit wees volgens jou?

Adriaan

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 6

Kommentaar

  • Adriaan, ek ken hulle per toeval altwee en het haar gewaarsku sy maak 'n fout. Wonder net wat 'n man so laat optree.

  • Ons as Suid-Afrikaners is gewoond aan die mees grusame geweld denkbaar - dink byvoorbeeld aan die transitorooftog waarin die veiligheidswagte moedswillig in hulle voertuig doodgebrand is. Die groot ding wat die skokwaarde van die Kotze-geval verhoog het, is dat dit 'n uitsonderlike voorval was, omdat dit een van ons eie volk was wat na bewering op so 'n skokkende wyse opgetree het. Selfde met die Waterkloof-4. Lukrake moorde op vreemdelinge is nie buitengewoon in SA nie, maar lukrake moorde deur Afrikaners gepleeg is wel.

    Maak egter vrede daarmee: Enige volk het sy psigopate, pedofiele en soortgelyke wanaangepastes.

  • Ek beveel doodstraf aan indien hy skuldig bevind word.

    Vergifnis is nie ter sprake nie.

    Die rower aan die kruis saam met Jesus het daar skynbaar reeds vergifnis ontvang, maar steeds ook sy doodstraf.

    Ons moet nie die twee aspekte verwar nie, en hier inmeng met God se skenking van vergifnis nie.

    Ons plig is nakoming van die wet, en uitdeel van menslike strawwe.

    Groetnis

  • Vergete Sprokie

    God se ook ons moet nie oordeel nie en ek dink dis iets wat ons moet onthou. Die oordeel kom Hom toe.

     

    Jesus het gesterf vir ons sondes, ons almal sin en niemand uitgesonder nie. Ek keur nie goed wat hulle gedoen het nie, maar diep in my hart weet ek dat hulle elke dag berou het oor wat hulle gedoen het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top