Op vlug

  • 2

Foto: Canva.com

Parkstasie, Johannesburg, wemel van die malende menigte wat wag om aan boord die ronkende busse te gaan, maar, anders as die ronddraaiendes, stap sy in ’n reguit lyn tussen hulle deur. Haar lyf is gespanne en die kennetjie is vorentoe gestoot. Sy systap die dralende skare met die geringste voetwerk. Dit lyk inderdaad asof sy haastig op pad iewers heen is. Sy is maer, die blonde hare net so effens krullend in die waai van die nek. Dis somer en sy dra ’n seegroen t-hemp, sakkerige wit langbroek en sandale. Sy het by die westelike ingang ingekom en haas haar nou deur die enorme vertreksaal, oënskynlik na die teenoorgestelde uitgang toe.

Twee oë hou haar egter stip dop, terwyl sy voortstu. Die toeskouer is ’n oukêrel wat in die afgekettingde spasie voor die Griek se delicatessen aan die oostekant by een van die beskikbare tafeltjies en stoele sit.

Hy drink slurperig koffie, terwyl hy haar dophou. Hy kyk fyn. Merk hoe die kop met die geringste beweging gedraai word en die amandelvormige oë waarneem. Oomblikke later ontmoet hulle oë. Sy kyk ’n oomblik stip na hom, kyk weg en stap teen dieselfde haastige tempo voort.

Digby hom stap sy verby. Hy sien die versletenheid van haar klere en die stof op die wit langbroek. Sy stap verder en verder. Sy is amper by die oostelike uitgang, toe sy meteens vassteek en vraend rondkyk.

Hy lig sy wenkbroue en wag. Sy gee ’n tree in die rondte en kyk peinsend terug oor die vertreksaal. Hy wag en kyk. Sy neem die houding van iemand wat dringend op soek is na iemand in.

Byna traag begin sy terug die vertreksaal in te stap. Die koers wat sy inslaan is effens sywaarts, sodat sy byna onopsigtelik oordryf na waar hy by die tafeltjie sit. Hy slurp koffie en wag. Nader en nader kom sy. Hy leun terug in sy stoel en kyk doelbewus verby haar. Uiteindelik is sy voor die delicatessen. Nou kyk sy vervaard rond. Hy slaan sy oë op en kyk reguit na haar. Sy kyk nie weg nie, maar frons en dan stap sy doelgerig op hom af.

Toe sy voor hom staan, kan hy haar verwaarlosing na waarde skat.

“Ag, meneer, … oom! Ek moet iemand hier ontmoet wat my sou help, maar ek sien hom nêrens nie. Dis so dringend!” sê sy en vryf met haar hande oor haar ontblote bo-arms.

Hy roggel en kyk na haar. “Kindjie, hoe kan ek help? Ek is hulpeloos verlore in hierdie metropool. Sien jy die iemand wat jou moet help nêrens nie?”

“Nee, oom! Ag oom, groot asseblief: sal oom my nie dalk kan help nie?” vra sy en frons swaar. “Ek weet nie wanneer ek hom, my verloofde, weer sal sien nie.”

Hy verstaan, wyfel ’n oomblik en dan steek hy een hand in sy broeksak en trek ’n paar note uit. Daar is ’n tienrand, ’n vyftigrand en ’n tweehonderdrand. Hy sprei die note uit soos pokerkaarte.

Sy vryf nou angstig oor haar bo-arms, haar oë vasgenael op die geld.

“Maar sê my eers hoeveel het jy nodig?” vra hy.

“Ag, oom, dis eintlik nie so baie nie …”

Hy neem terstond die tweehonderdrand en hou dit na haar uit.

Sy klamp haar hande verbluf om haar bo-arms en kyk na hom. Maar sy herstel gou. Met bestudeerde traagheid neem sy die geld en klou die noot styf in haar hande vas.

“Baie dankie!” sê sy oorstelp en toe vlug sy! Haastig, haastig stap-draf sy omkyk-omkyk na die oostelike uitgang toe.

Hy kyk haar agterna en glimlag wrang. Tien minute gelede het haar bedelmaat, wat ook ’n verloofde vermis het, tienrand uit hom uit en is hy vort deur die westelike uitgang. (Waar hy haar klaarblyklik ontmoet het.) Nou het sy kom kyk of daar nog is en toe is daar sowaar! Maar sy haas haar nie met die noot na haar maat toe nie: sy vlug met die buit! Dis die korrupterende wreedheid van geld, dink hy, stoot sy stoel skraperig met sy bene agteruit, staan op en maak gereed om die metropool per bus te verlaat.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top