Die VOC is in Maart 1602 gestig met die Heeren XVII (Zeventien) as die uitvoerende gesag In 1695 het hulle ‘Bevele en Instruksies’ uitgevaardig dat die chirurgijns in hulle diens elk ‘n joernaal hou waarin die persoonlike gegewens, siektegeskiedenis, simptome, behandeling en uitkoms van elke pasi?nt aangeteken moes word. Statisties was dit onteenseglik van waarde maar inhoudelik was baie (waarskynlik die meeste) van die inskrywings kort kripties en niks(min)seggend. Sommige was wel detailleerd en soms langdradig. Urine-retensie by mans het dikwels voorgekom hoofsaaklik as gevolg van blaasstene wat die uretra obstrukteer maar ook weens prostaatprobleme en ander oorsake.
Cornelius Gravenmoer het so ‘n geval behandel. Aanvanklik het ‘n stewige skeut van ol.therabunt cum ol.juniperi et liq.tartari nie enigsins gehelp nie en is katerisasie probeer maar “geen droppel water“ is verkry nie. Katerisasie is drie maal per dag herhaal elke keer met die pasi?nt “moort en brant schreeuwende“. Teen die derde aand het hy ‘n koors ontwikkel maar de goden sij dank hy het skielik urineer — dit is nie aangeteken of hy ‘n steen passeer het nie.
’n Funksionaris het by die H.XVII gekla dat die Kaapse geneeshere geensins “manne van wetenskap” is nie. Om en by 1794 het ’n ‘geneser’ genaamd Havenga geredelik krediet verskaf ook geld uitgeleen en ander mense se skuld betaal. Hy was waarskynlik van Duitse afkoms want hy het sohn in plaas van soon geskryf en Hoddendott. Hy was nie net ‘n ‘dokter’ nie maar ook ‘n winkelier, reisende verkoopsman, eienaar van ‘n verpleeg-inrigting en ‘n begrafnisondernemer — en hy het Willem Serpentyn van die Tuine twee sjielings laat betaal omdat hy by die siekbed van sy dogter gebid het.
Die dokters was ook ongelukkig. ‘n Jong geneesheer van Swellendam het gekla dat die ‘boere’ slegs by hom aandoen vir emetika en purgeermiddels en dat geen dokter in die dele ‘n bestaan kan maak deur die “gewone praktisering van medisyne” nie. Daar was nie ‘n ‘kolonis’ wat nie sy eie geneesheer was nie — hulle het net hulp gesoek in ekstreme omstandighede. Dit was waarskynlik die oorsaak dat baie min indien enige van die seuns van ryk families aan die Kaap in die agtiende eeu na Europa is om in medisyne te studeer.
Nogtans getuig getekende sieksertifikate wat vir ‘n aansienlike deel van die mediese praktisyns se werklading (en inkomste) verantwoordelik was dat die “ offisi?le chirurg, internis en apotheker” algaande beter opgelei is. Hulle het meer betroubaar geword en het meer agting verwerf onder diegene wat binne ‘ ‘n redelike afstand’ van die Kaap gewoon het.
Hoe het die ander Europese kolonies in dié tyd gevaar?
Die derde president van die Verenigde State van Amerika (VSA) Thomas Jefferson (1743 – 1826) het dikwels ‘n gesonde lewenskwaliteit voorgegee. Inderwaarheid was hy onderhewig aan erge hoofpyne wat hy (probeer) verlig het deur driftig vir lang ente perd te ry, rumatiek en kroniese diarree. Hy ook geredelik gekla dat geneeshere deur die jare meer tot sy lyding bygedra het eerder as om dit te verlig. Hy was egter verantwoordelik vir die vestiging van die eerste mediese skool in die VSA gekoppel aan die Universiteit van Virginia (UV).
Vroeg in 1825 stuur Jefferson vir Francis Walker Gilmer professor in regte by UV na London met ‘n gedetailleerde lys van vereistes (volgens Jefferson se konsep van die geskikte professor) om ‘n hoof van die Mediese Skool te werf. Gilmer keer terug met die ses-en-twintig jarige Robley Dunglison wat vir die volgende twee jaar as physician and anatomist as die enigste professor vir die opleiding van 26 studente verantwoordelik was.
Op 11 Mei 1825 word Jefferson siek en dr Watkins sy lyfarts diagnoseer “dysuria, a stricture and inflammation of the urinary canal probably due to an enlarged prostate”. Watkins skryf kasterolie voor met “warm water fomentations, rest, a mild diet and, if there was no improvement half a grain of opium with one grain of calomel at night”.
Spoedig het Watkins dit gerade geag om Dunglison se hulp in te roep — hy het die behandeling oor geneem en hy het Jefferson verskeie kere per week besoek Jefferson het daarop aangedring om Dunglison vir sy dienste te betaal.
Dunglison het 50 druppels laudanum saans vir pyn voorgeskryf — Jefferson het 100 druppels geneem Sy urine is intermitterend met gum catheters getap Lafayette het Jefferson besoek en opgemerk dat die kateters in Parys van baie beter gehalte is en het beloof om ‘n honderd aan te stuur — dit het helaas aangekom na Jefferson se dood.
Jefferson het op 4 Julie1826 gesterf presies 50 jaar nadat hy en die 2de president van die VSA John Adams die Declaration of Independence geteken het. Adams is op dieselfde dag oorlede.
Aan die Kaap was ekwivalente sofistikasie teenwoordig.
Op 25 Julie 1826 is James Barry MD (Edin) 1812 dringend ontbied om die eggenote van Thomas Frederik Munnik, ‘n tabak en snuif handelaar te sien. Sy was in obstruktiewe kraam Barry het ‘n keisersnit op die kombuistafel uitgevoer in die dae voor algemene narkose beskikbaar was. Volgens betroubare bronne was dit die vierde aangetekende geval waar beide die moeder en die baba die ingreep oorleef het.
Die baba is James Barry Munnik gedoop. Die Munnik familie was oorstelp van vreugde. Thomas se suster Christina het met Dirk Wilhelm Hertzog getrou en hulle was die grootouers van James Barry Munnik Hertzog wat die Eerste Minister van Suid Afrika in 1924 geword het.
John Robb is as die eerste Colonial Medical Inspector aangestel op 21 September 1821. Op 22 Februarie 1822 handig James Barry ,die lyfarts van die goewerneur, lord Charles Somerset, ‘n lys van benodighede vir die plattelandse apothekers (country apothecaries) aan Robb. Die lys was o?nskynlik opgestel op versoek van die goeweneur wat bekommerd was oor die swak mediese dienste. Die lys het ‘n paar farmokopi?se middels, patente medisynes, ‘n sonde (sound), ses bougies, ‘n dissector, ‘n mes vir litotomie, ‘n kissie met trepanering instrumente, ‘n kas met amputasie instrumente, tande instrumente en elf pare van verskillende spalke ingesluit. Robb was geensins hierdeur beïndruk nie. Hy het dit as onvoldoende beskryf en op 15 Maart bedank — en op 18 Maart 1822 is Barry as Colonial Medical Inspector aangestel!
Barry het na ‘n verblyf van om en by twaalf jaar die Kaap in 1828 verlaat om in diens van die Britse weermag voort te gaan. Hy is tot die rang van Inspector General of HM Army Hospitals bevorder.
Barry was ‘n hoogs bekwame geneesheer en maatskaplike hervormer. Hy was om die beurt oorheersend-diktatoriaal en simpatiek-vaardig. Daar is baie gegis en geskryf om sy persoon. Hy was moontlik gebore uit die Skotse adelstand Moontlik vroulik wat haar as man voorgedoen het — hy was selfs in ‘n tweegeveg oor ’n dame met lord Charles Somerset se aide-de-camp, kaptein (later sir ) Josias Cloete betrokke: “Oh, I say Cloete, that’s a nice young Dutch filly the Governor’s got hold of” Cloete “Retract your vile expression, you infernal little cad” — and Cloete, to add injury to insult tweaked Barry’s ‘long Ciceronian’ nose Whereupon Barry issued the challenge and they fought with pistols without fatal effect Later they became firm friends and in 1858 when Cloete was commander of the Barbadoes Barry travelled to the West Indies to visit him Cloete boasted (after Barry’s death) that he was the only man in the British Army that had fought a duel with a woman”.
Barry het op 25 Julie 1865 gesterf en die char woman, Sophia Bishop, wat die lyk ‘uitgelê’ het aan almal vertel van wat sy gesien het — en dit het bygedra tot die vermoede dat, indien nie vroulik, Barry ‘n hermafrodiet met twyfelagtige genitali? was. Die char se storie en amptelike gegewens is effektief deur die amptenary onderdruk.
Naas Viljoen

