Op soek na rowwe diamante

  • 1

(“Tree people out there, God bless you, I’m singing for you too.”)

 “Ek sit hier op Seinheuwel en hoor opgewarmde Steve Hofmeyr songs vanuit die rigting van Kaapstad-stadion. Dankie tog ek is nie daar nie,” berig ’n Facebook-vriendin op die aand van Neil Diamond se 2010-optrede in Kaapstad. Dit het my laat dink aan een van ons geliefde sêgoed op skool: “Tree people out there, God bless you, I’m singing for you too.” Die aanhaling kom uit Neil Diamond se Hot August Night dubbel-album wat in 1973 in Suid-Afrika aangekom het. Ons het op skool dié sêding links en regs aangehaal, soms in die mees absurde omstandighede, soos onder in ’n losskrum nadat die skeidsregter se fluitjie ’n rugbyskaakmat-dooiebal aangekondig het en ons soos gemufte wasgoed op ’n hopie lê en wag vir die vet stutte wat bo-op lê om op te staan. (Die agterlyn-outjies was in daardie dae mos maar altyd na ’n tackle heel onder in die hoop mensvleis begrawe.) 

Maar Neil se seënbede op die “tree people” was gerig op die honderde mense wat op die heuwels rondom die Greek-teater in die bome geklim het om na dié konsert te luister. Watter huis met ’n draaitafel het nie teen 1974 die Hot August Night dubbel-album of “8-track” band in die motor gehad nie? Elke song, die hele album-konsep, die pratery, “Brother Love’s Travelling Salvation Show” se soul- en gospel-ekstase, elke geluidjie uit die gehoor en die tromsolo van Dennis St John op dié album was een lang treffer. Uit die oogpunt van ’n standerd 6-laaitie was my gunsteling-lirieke: “You're so sweet, horseflies keep hangin' 'round your face.” Of “Porcupine Pie” se “You gotta eat it with gloves or your hands will turn green.” En “Soggy Pretzels” se uitgerekte en melodramatiese “What can I doooo to eeease your paiiin.” (Die stem-intonasie op dié frase ’n Dylan send-up?) Cult stuff in die mid-seventies.

Later jare het ek begin agterkom dat jy nie juis Neil Diamond se naam moet noem in rock ’n roll-kringe nie. Iewers tussen hier en die see het dit in die sirkel van hardebaard rockers mode geraak om op die regte tyd, en met die regte gehoor, ’n smerige grappie oor Neil Diamond te maak om te wys hoe cool jy is – net om seker te maak almal weet jy’s eintlik ’n Rolling Stones-aanhanger. Die onlangse Neil Diamond-kasregistergolf van die boeregeneraal Steve Hofmeyr het ook nie juis gehelp om die prentjie reg te trek nie. En dit was ook nie asof Neil Diamond nie self gemaak het na die nerdy beeld wat rondom hom en sy musiek ontstaan het nie. Die blink hemde en juwele, die sagte kommersiële albums wat later gevolg het en sy ongemaklike knock-knee dansery op die verhoog het nie juis ’n indruk gemaak in rock ’n roll-puriste se wêreld nie. Onlangs lees ek van ’n middeljarige ma wat haar dogter na ’n Neil Diamond-konsert gevat het met die doel om van haar ’n aanhanger te maak. Nadat Diamond “Love on the rocks” gesing het, draai die ma na die dogter toe en sê: “Now how do you like thát?” Waarop die dogter antwoord: “Just pour me a drink, and I’ll tell you some lies.”

Neil Diamond se lewe en loopbaan word gekenmerk deur paradokse en ironie. In 1968 begin hy ’n beweging genaamd Performers Against Drugs in ’n poging om te wys dat nie almal in die kunswêreld “so” is nie. Maar in 1976 word hy gearresteer vir die besit van marijuana en word hy gevonnis tot ’n sesmaande-rehabilitasieprogram. In hierdie konteks is die volgende nogal snaaks: hy het dié song geskryf voordat hy gearresteer is:

In Martin Scorsese se film The Last Waltz is Neil Diamond een van die kunstenaars in ’n eersteliga-versameling van kunstenaars. Hier deel hy die verhoog met Bob Dylan, Eric Clapton, Dr John, Joni Mitchell, Van Morrison, Muddy Waters, Ron Wood, Ringo Starr en Neil Young. Neil was daar op uitnodiging van Robbie Robertson van The Band, wat in dieselfde jaar Neil Diamond se Beautiful Noise-album vervaardig het. Rolling Stone berig na die tyd oor die verfilmde konsert: “Diamond took the stage right after Joni Mitchell's three-song set and, truth be told, (he) absolutely killed. It was a stellar performance, and probably the first time many in the audience had seen him live.” 

Maar dié “thumbs up” van rock se mees gesaghebbende tydskrif was van korte duur. Kort daarna het ’n storie, aangevuur deur Ron Wood van die Stones, die ronde begin doen dat Neil, nadat hy van die verhoog afgekom het, vir Bob Dylan gesê het: "Top that!", waarop Dylan geantwoord het: "By doing what? Falling asleep?". Dit is ’n storie wat deur beide Neil Diamond en mense wat agterna op die feite ingegaan het, ten sterkste ontken is. Inteendeel, die twee het groot respek vir mekaar se werk gehad. Dylan het selfs ’n Diamond-komposisie (“Crackling Rosie”) in optredes ge-cover en ’n opname daarvan vir Neil Diamond gestuur. Insgelyks het Neil Bob Dylan se “Make you feel my love” op sy Home before dark opgeneem. Bob Dylan is volgens berigte ook in 1976 as toeskouer opgemerk by ’n Neil Diamond-konsert in Las Vegas.

’n Verdere paradoks waaroor Neil self geen kommentaar lewer nie, is of hy sy Joodse herkoms gestand doen of nie. Was sy “Brother Love’s Travelling Salvation Show” eerlik bedoel of was dit net ’n gedramatiseerde rip-off? Of was dit sy Dylan Christian-fase? In die trefferfilm The Jazz Singer (1980) sing hy as kantor in die Joodse tradisie ’n hoendervleis sterk “Kol Nidre”. Is dit waar hy daardie unieke goue stem as jongeling ontwikkel het? Die Joodse gemeenskap kan hom nie vergewe dat hy drie Kersfees-albums uitgereik het nie. Jasper se pa fluister in my oor dat Diamond en Dylan waarskynlik dieselfde rabbi in New York gehad het.

Vir sy hoofrolspel in The Jazz Singer word hy benoem vir ’n Golden Globe-toekenning – en wen hy terselfdertyd ook die eerste Razzie-toekenning vir die swakste akteur.

In die film Saving Silverman (2011) is Jack Black ’n lid van ’n Neil Diamond cover band. Ten spyte van die feit dat die beeld van Neil Diamond as karikatuur opgestuur word (almal in die orkes probeer soos Neil Diamond lyk), maak Neil sy verskyning in verskeie tonele waar hy homself speel.

In 2011 word Neil Diamond ingehuldig in die Rock ’n Roll Hall of Fame. Hy word voorgestel deur Paul Simon. Sy toespraak (eintlik ’n “unspeech”) by dié geleentheid is ’n voortsetting van sy jare lange minagting van die burokrate in die rock-bedryf. Hy maak dit duidelik dat hy daar is vir sy aanhangers in die goedkoop sitplekke. Hy haat dit om te reis, maar dis hulle wat hom steeds die wêreld vol laat reis vir optredes, “even to fucking Australia”. Vir die rock-amptenary in die duur sitplekke sê hy: “I love you too. Even if you didn’t vote for me. I don’t give a shit. I still would sing that song with Barbara – she’s the greatest. And guess what? She doesn’t give a shit either.” Uit almal in die binnekring by dié geleentheid was dit net Robbie Robertson wat as medewerker van Diamond opgestaan het.

My eerste kennismaking met Neil Diamond se musiek was in 1971. In my oom se versameling het ’n plaat met “Do It” op kant A en “Hanky Panky” op kant B my gunsteling geword. Songs wat hy in 1966 opgeneem het. Die “hook” in “Do It” het vinnig en onuitwisbaar in my agtjarige ore gemaal. Eintlik is die hele song een lang “hook”. So ook die eenvoudige maar effektiewe “Hanky Panky”. Basiese en eenvoudige komposisies en ’n aanduiding van die trefferfabriek wat Neil later jare sou word:

Sy eerste treffer was “I’m a believer”, wat deur die Monkees gesing is voordat hy dit self vrygestel het. Die koning self het in 1969 Neil se “And the grass won’t pay no mind” sy eie gemaak:

Nog ’n onwaarskynlike samewerking wat vir Neil self ’n verrassing was, was toe Deep Purple “Kentucky Woman” gedoen het. Richie Blackmore en John Lord se solo’s in die tweede helfte van die song laat mens net kopskud oor die veelsydige aanwendingsmoontlikhede van Neil se komposisie – weer eens ’n teken van ’n meesterkomponis:

En hier is die rofste diamant van almal: ’n blues-verrassing uit ’n onwaarskynlike oord – dis ’n juweel:.

Na al die jare is my gunsteling Neil Diamond-album ’n versameling van sy vroeëre werk: And the Singer Sings his Song. Lekker warm analoog-baskitaarklanke en songs soos “Stones”, en “Walk on Water”. Die titelsnit “And the Singer Sings his Song” is gestroopte eenvoud op sy beste. Ignoreer die prentjies en luister met toe oë:

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Jy wakker die nostalgie in my. Ek is in soverre dit musiek betref 'n puris. Die musiek van die sestigs en selfs tot in die tagtigs bly maar my gunstelinge. Daar is die wat my as uit de oude doos beskou maar my smaak is my smaak. Ek is nie een wat  graag "name dropping" nie, maar ek het die voorreg gehad om Neil Young en sy vrou te ontmoet. Hulle was van die Okavango Delta na Kaapstad op pad. 'n Vriend van my is 'n vlienier en het my saam genooi om hom en sy vrou op Maun in Botswana te gaan haal. Interresante ou, baie terugetrokke en half bot. Ons het meer oor hul ervaring in die wildkampe en diere gesels. Wat gesels jy andersins met 'n ou wat mens nie ken en so pas ontmoet het. So ek "brag" nou by my pelle dat ek ook 'n bekende ou persoonlik ken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top