Op soek na 'n halwe sprokie

  • 7

Die plafon bied op die oog af geen leidrade van wat hier gebeur het nie. Hier en daar is nog maar kolle waar kleeflint of wondergom ’n tyd lank was.

Dit is laatmiddag, maar buitekant, omdat die woonstelblokke so naby aan mekaar is, maak die skaduwee al ’n sterk skemer. En nader die tyd dat hulle huis toe kom. Ek het my altyd verkyk aan hulle lewe.

Aan die oorkant, en na bo, is dit die ene ruite en toegetrekte gordyne. Blindings wat saans krakies lig deurlaat en só wys mense is tuis.

Saans as die lig aangegaan het wanneer ek tuis is, was hulle altyd daar: Hy besig om die kamer aan die kant te maak, het ek uit die hoek van my oog gesien. Ander kere het ek moeg op die rusbank gesit en kyk na sy mooi vrou waar sy by die venster na onder gekyk het.

’n Mens kon jou aande lank omkyk na hul bewegings in daardie eenvoudige vertrek, ’n plek waar hulle saam ’n droom aan die maak was.

Sy het met oop oë gedroom. Hy moes aan wat sy sien goed en reg gestalte gee. Waar sy wolke gesien het, het hy groot pluise watte laat hang. Daarna duiwe en kraaie en pelikane uit kleurvolle papier aan vislyn op verskillende hoogtes laat vlieg. Tot die son was later daar: ’n vriendelike, 60 watt wat onder die wolke skyn terwyl dit buite winter was.

Haar maag was later koeëlrond. Sy wolke was al hoe meer na die lewe. Soms het sy opgekyk en dan het dit gelyk of sy vir die wolke iets wou sê of vra noudat die hemel so naby is.

In die koue raak dit nog gouer donker tussen die geboue. Aan die rante bly koue stroke blou nog vir ’n uur of twee metaalhelder. Rame word die een na die ander gesellige glashaarde soos wat leesligte, plafonkandelare aanflikker of televisies begin flikker. In die wolkekamer boer die twee al hoe meer. Die pelikane en duiwe vlieg sonder ophou of landingsplek.

Nou die aand kom ’n ding my oor: ’n Rumoer maak my wakker. Moeisaam staan ek op en onvas loop ek na die venster waar rooie, bloue en gele teen die mure aan die oorkant kaats. Ek maak lui die venster oop en is aangenaam verras deur die wit minibus op die parkeergarage se dak met sy jolige liggies en partytjiesirenes soos ’n trompetterende olifant. Klank en lig tol in die ronde. Ek sien ’n lig in die wolkevertrek, maar dis nie die kamerson nie, dit moet van die gang af wees. Ek voel ’n koue luggie en hoor, asof baie ver, ’n deur wat toeklap. Die min lig laat die wolkekamer na stormweer lyk. Die pelikane en kraaie en duiwe hang swart soos ankers wat afgegooi is in die kamer. Dis ’n bak stilte waarin niks beweeg nie.

Bande skreefluit. Die klank en lig van die bussie buig weg om die hoek van die oorkantse gebou.

En af is die lig. ’n Telefoon lui êrens en ’n stemopname-apparaat gaan aan. Skielik brand die son waar dit onder die wolke hang. Buurman ruk die pelikane, duiwe en die kraaie uit die lug. Hy het vuiste vol wolk later. Dit reën in slierte op sy hemp en wange. Dis of hy ’n storm oor homself bring. Toe is die vertrek weer nag. Ek is hierna lam van ontsteltenis.

Vir talle aande daarna is dit aan die oorkant donker. Ek wou net aan die slaap raak, toe ek ’n murmeling buite hoor en ’n oranje gloed sien. Uit donkernag styg ’n ballon van oranjerooi papier met patrone van pelikane en wolke op, al wiegend saggies na bo. ’n Kort kers brand helder groen en amber vlamme onderaan die groot gloeiende lantern wat soos ’n reusagtige omgekeerde druppel vol lig stadig boontoe val. Al klaar kan ek nie die motiewe sien nie. Die gloeiende druppel plons suutjies reguit die nag binne, dan gaps ’n bries dit buite sig.

Ek het die ballon gedroom. Maar my herinnering daaraan is helder. Dit het die swart skadusome van verdiepings se muurlyste weggevou en het die gebou soos x-strale van ribbe in die dowwe lig gelyk. Is die patrone my eie? Was hulle op die ballon? Wie bedink so iets?

Vanoggend, terwyl die ballon nog verder in my gedagtes styg, probeer ek ’n verhaal skryf oor my bure. Ek bly soek na die regte storie vir hulle, selfs al is dit ’n halwe sprokie. Papier was hul boustof vir pelikane en watte; al wat nodig was vir mooiweerswolke. Die son net ’n skakelaar weg. ’n Tyd lank was winter onwerklik.

Ek staar na die venster, skaars bewus van die reën wat in slierte aan die hele muur en aan die venster oorkant my woonstel val. Die omliggende geelgrys muur wys vandag sy ou verf, ’n al hoe fyner netwerk van krakies.

Ek gaan lê op die bed en staar deur die venster na die plafon in die buurwoonstel. Ek probeer peil waar my bure kan wees. Die plafon bied geen leidrade nie. Hier en daar is kolle waar kleeflint of wondergom was. 

  • 7

Kommentaar

  • Chantal Pretorius

    Dit is een van die mooiste, realistiese fantasie- (fiksie-) verhale wat ek lanklaas gelees in in Afrikaans! Dit is net bohemels ... uitstekend geskryf!

  • Jacqueline Taljaard

    Hierdie is 'n baie goeie kortverhaal. My dogter wil dit graag gebruik vir haar Afrikaanse opdrag.
    Sal u haar asb kan help met die volgende denkprosesse wat sy uiteen moet sit in 'n paragraaf? Sy sal self die voorblad ontwerp.

  • Llinda Van Dyk

    Dit was goed vir my om die verhaal te lees. Dit het my vasgehou tot by die laaste woord.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top