Op pad: ’n Reisjoernaal
Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624077176
Dana Snyman se Op pad: ’n Reisjoernaal (2017) is in werklikheid ’n joernaal van twéé reise wat die skrywer in 2015 onderneem het en wat hier ook as twee afsonderlike dele aangebied word, naamlik: “Deel I: Dieper die binneland in (Aantekeninge oor ’n reis)” en “Deel II: Koelkas (Enkele ervarings tydens Wêreldbeker 2015)”. Die woorde “aantekeninge” en “enkele ervarings” dien as aanduiding van die struktuur van die onderskeie teksdele: ’n oënskynlik lukrake versameling van aanhalings, beskrywings, indrukke en foto’s wat op verrassende wyse ’n groter geheel vorm. ’n Verhaal-in-dele, as ’t ware. In hierdie opsig herinner Op pad, veral wat aanbieding betref, aan ’n teks soos Huilboek deur Ryk Hattingh.
Eie aan die aard van die joernaal gaan dit in Op pad nie net oor die dinge wat Snyman tydens sy reise ervaar en die interessante mense wat hy ontmoet nie, maar veral ook oor sy persoonlike besinnings ten opsigte van dit wat hy meemaak. Dit is juis die onverskrokke eerlikheid waarmee hy oor sy ervarings nadink wat Op pad vir my so ’n boeiende leeservaring gemaak het.
Dieper die binneland in
In die eerste deel van die boek lewer Snyman verslag oor ’n reis wat hy as aanbieder van ’n televisiereeks van 13 episodes vir die VIA-kanaal op DStv onderneem het:
Elke oggend knip hulle ’n mikrofoon aan my hemp se kraag vas, dan ry ek dieper die binneland in. Leon, die een kameraman, ry saam met my in die bakkie. (...) Niel, die vervaardiger van die reeks, Charlenè, die regisseur, en Christiaan, die redigeerder en bykomende kameraman, kom in Niel se motor agterna. Net waar ek wil, hou ek stil en gesels met wie ek wil, maak aantekeninge, neem foto’s. Soos ek altyd maak wanneer ek ’n artikel of ’n storie navors. Het ek nog hoop vir Suid-Afrika? is die tema van die reeks. Maar daar is nie ’n draaiboek of veel van ’n reisplan nie. Wat op pad gebeur, moet spontaan gebeur waar dit ook al gebeur. (14)
Tog word dit gou duidelik dat hierdie geografiese reis vir Snyman ook ’n reis van selfkonfrontasie word. Nie net ’n reis dieper die binneland in nie, maar ook ’n reis dieper die land van sy binneste in.
In Op pad fokus Snyman veral op daardie dinge wat nie (volledig) deur ’n televisiekamera vasgevang of onthul kan word nie. Daarom behoort selfs lesers wat die televisiereeks getrou gevolg het, hierdie vertelling openbarend te vind. Wanneer Snyman byvoorbeeld aan die begin van die reis met geboë hoof in die NG Kerk op Hanover afgeneem word, dink hy wrang:
Hulle [die televisiekykers] sal nie weet ek kan nie bid nie, al wil ek ook. Ek probeer bid, maar my gebede is leeg, ’n ydel gewoonte, ’n rits kinderlike en selfsugtige versugtinge: “Help tog dat die televisie nie van my iets anders maak as wat ek is nie, Here. Help dat my bakkie nie breek nie. Vergewe my sondes ...” (16)
Tussen angs en (on)sekerheid
In aansluiting by die woorde van Günter Grass (’n Duitse skrywer en wenner van die Nobelprys vir letterkunde wat eers op 78-jarige ouderdom erken het dat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n lid van Hitler se elite-eenheid, die Waften-SS, was) begin Snyman sy vertelling met ’n persoonlike skuldbelydenis. Nie alleen erken hy sy wankelende geloof en sy dors na die skelm bottel Jameson onder sy bakkie se sitplek nie, hy beken ook die woede, twyfel en vrees wat hy as wit Afrikaanssprekende in die nuwe Suid-Afrika ervaar:
[D]ie woede is ook in my. Ek kan dit voel. Dis daar. Dit wil knaend beheer van my oorneem. Miskien is woede verslawend. (26)
Oral verander plekke op ’n manier wat my, ’n wit middelklas Afrikaner bang en onseker laat voel. Jy voel dit. Jy sien dit. (35)
Hoe swaar hy aan die bagasie van die verlede dra, word treffend uitgebeeld in die toneel waar hy voor ’n groot portretfoto van Hendrik Verwoerd in die Orania-museum bewus raak van ’n weerkaatsing van sy eie gesig in die glas en opmerk: “Die buitelyne van ons gesigte vloei inmekaar” (44). ’n Paar bladsye later erken hy prontuit:
Ek is een van die kinders van Verwoerd, die produk van Christelik-Nasionale Onderwys, een van dié wat geglo het dis God se wil dat die volke hier aan die suidpunt van Afrika apart moet leef. (...) Ek is een van die gebreinspoeldes wat myself al hoe lank probeer ontspoel. (46)
Tog is sy subjekposisie alles behalwe eenduidig. By geleentheid merk hy byvoorbeeld op dat hoewel hy as mens deur “waarhede, halwe waarhede en versinsels, tesame met ’n eng interpretasie van die Bybel en die geskiedenis” (54) gevorm is, dié vorming vir hom altyd inherent met Afrikaans én met Afrika vervleg sal wees.
As “onrehabiliteerbare Afrikaner” (54) voel hy aan die een kant bang en onseker om die “bekende agter te laat en oor ’n drumpel te tree na iets nuuts, na iets onbekends” (101); aan die ander kant is hy maar alte bewus van die gevaar “[o]m vasgevang te wees in ’n manier van bestaan waarvoor daar nie meer plek in die wêreld is nie” (28).
In ’n denkbeeldige gesprek met sy oorlede predikantpa kom hy na aanleiding van dié se verhouding met Johannes Bogosi – ’n jare lange vriend en versorger – tot die gevolgtrekking dat ’n mens se kultuur “eers regtig betekenis kry wanneer jy dit in verhouding met ander kulture beleef”:
Ek sal nooit hier op Orania kan woon nie, Pa. Ek kan nie vassteek in wit nie. Ek moet dieper die binneland in – altyd die binneland in, op my groot trek deur die ruimtes tussen mense. (57)
Van sentimentaliteit en ’n nostalgiese terughunkering na die “goeie ou dae” is daar geen teken nie. Op bl 150 verklaar Snyman ondubbelsinnig: “Ek moet gaan, ek kan nie vassteek in nostalgie nie.”
Agterbly of vooruitry?
Een van die opvallendste kenmerke van die eerste deel van Op pad is die bedrewe wyse waarop Snyman die oënskynlik losstaande tekselemente in sy reisjoernaal integreer en uiteindelik met mekaar laat resoneer: die twee boeke wat hy tydens sy reis lees (JM Coetzee se Disgrace en Ferdinand Deist se Tussen angs en sekerheid); die pikswart hond wat hom net buite Orania soos “’n boodskapper uit die beleërde binneland” (58) tegemoet hardloop; die grafsteen wat hy na vyf jaar nog nie op sy pa se graf laat sit het nie; sy besoek aan Adriaan Vlok, die enigste apartheidsminister wat by die WVK aansoek gedoen het vir amnestie; en sy herbesoek aan MaNthombi en Manji in Nkandla.
Al erken Snyman die moontlikheid dat hy sy hele lewe in oorgang, tussen die oue en die nuwe, tussen angs en sekerheid, kan deurbring (175), is die grootste deel van sy vertelling juis ’n viering van daardie oomblikke wanneer iemand wel daarin slaag om bogenoemde drumpel oor te steek.
In die konsistorie van die NG Kerk in Mookgopong – die ou Naboomspruit – kyk Snyman byvoorbeeld na ’n foto van sy pa wat vier jaar daar leraar was. Dit is ’n konfrontasie wat botsende emosies by Snyman ontketen. Enersyds neem hy sy pa en die res van sy generasie kwalik vir die versmorende invloed wat hulle op sy denke gehad het:
Ek is die bliksem in vir jou en ooms soos jy, Pa, want met julle direkte NG-lyn na God toe en julle aardse planne vir ’n aparte naasbestaan het julle gemaak dat ek swart mense – bruin mense ook, almal wat nie soos ons is nie – as minder as mense begin sien het. (127)
Andersyds voel hy trots op die dapperheid waarmee hulle uiteindelik wel “’n Rubicon in hulle hart oorgesteek” (127) het. Oplaas vergewe hy sy pa soos oudminister Adriaan Vlok hom aangemoedig het, bestel telefonies ’n steen vir sy pa se graf en groet hom met die volgende gedagtewoorde:
Ek gaan nou verder die binneland inry, Pa. Ek gaan jou nou vrylaat. Ek het genoeg by jou geleer om alleen verder te gaan. Ek moet oor ’n nuwe drempel trap. Dankie, Pa. Gaan nou. Toe. Gaan. Jy is vry. (129)
Wanneer Snyman die swart, brandsiekhond buite Orania oplaai en ’n heenkome vir hom begin soek, identifiseer hy vir die eerste keer met die karakter David Lurie wat in JM Coetzee se Disgrace vir Bev Shaw by haar hondeskut help en self verknog raak aan ’n hond wat gedeeltelik verlam is in die agterlyf. Anders As Lurie, wat aan die einde van die roman die hond vir Bev Shaw neem om uit te sit, besluit Snyman eerder om Blackie (die naam wat hy aan “sy” hond gee) by Tania Volschenk – die vrou op Bloemfontein wat na die hond omgesien het – te gaan haal. Op dié wyse aanvaar hy nie net ’n bepaalde verantwoordelikheid teenoor die hond nie, maar ook verantwoordelikheid teenoor almal vir wie die hond ’n “boodskapper uit die beleërde binneland” is. Deur sy hand na ’n ander uit te reik, ontdek Snyman oplaas ook die geheim van gebed; iets wat hom so lank bly ontwyk het:
Hoop is Tania. (...) Hoop is Ferdinand Deist: “Om deel te neem in die lewe van ander rondom jou deur daaroor na te dink, is gebed, want dit is die antwoord op God se opdrag om mekaar lief te hê. Om ’n keer na te dink oor jou verhouding met ander mense, om jou intens in te leef in hul rou en seer en so werklik medemens te wees, dit is gebed ... (173)
Oor rugbykoors en desperate Saterdagmiddagdrome
Hoewel die tweede deel van die boek, waarin Snyman enkele ervarings tydens die Wêreldrugbybeker van 2015 verwoord, nie heeltemal dieselfde mate van integrasie as die eerste deel vertoon nie, sluit dit tog in sekere opsigte daarby aan.
Aan die hand van gesprekke met rugbyspelers (van toe én nou) en getroue rugby-ondersteuners (vir én teen die Springbokke) lê Snyman ’n interessante verband tussen Heyneke Meyer se voorspelbare wedstrydplan, sommige Springbokrugbyondersteuners se ontnugtering met die huidige stand van Suid-Afrikaanse rugby en die liminale posisie van die Afrikaner waaroor hy in die eerste teksdeel besin het:
Ek kry dit nie reg om vir Heyneke kwaad te wees nie. Nes soveel ander van ons Afrikanermans is hy vasgevang tussen twee wêrelde. Hy het grootgeword in die ou Suid-Afrika, waar dissipline en kragdadigheid alles was as jy wil wen; maar om in die nuwe land, die nuwe wêreld te floreer, vereis kreatiwiteit en die moed om oorspronklik te wees. Ook op die rugbyveld. (188)
In hierdie deel gaan dit dus ook oor ’n bepaalde reis op soek na hoop (meer spesifiek kreatiwiteit en oorspronklikheid as oorlewingsmeganismes). Ook hier verkry die reis toenemend ’n persoonlike en intieme dimensie:
Ek voel laag en moeg. Hier bevind ek my in my 53 jaar op aarde op die agtersitplek van ’n Kia Picanto, twee keer geskei, die vader van geen kind, op reis agter rugby aan, asof ek na iets in myself op soek is. (236)
Uiteindelik beken Snyman dat hy, soos soveel ander Springbokondersteuners, dikwels ’n vinger na die Springbokke wys sonder om eers deeglik voor sy eie deur te vee:
Verwag ons nie van die Springbokke wat ons nie van onsself verwag nie? Hulle speel sonder enige geesdrif en trots, sê ons. Maar hoe geesdriftig is ons, die Springbok-ondersteuners, op die oomblik oor Suid-Afrika? Hoe trots is ons op ons land? (...) Ons kla oor hulle speelstyl. Hulle is nie kreatief genoeg nie, sê ons. Hulle speel verbeeldingloos en patroongebonde, en tog verheerlik ons verbeeldingloosheid op soveel maniere. (250)
Die Springbokke speel nie as ’n eenheid saam nie, sê ons ook (...) Hoe verenig is ons, die mense van hierdie land? Is ons en die Springbokke op ’n manier nie dalk spieëlbeelde van mekaar nie? (251)
In die lig hiervan is dit vir Snyman ’n bemoediging en troos dat hy tydens sy “rugbyreis” mense teëkom wat wel daarin slaag om ’n drumpel in hulle gemoed oor te steek, die nuwe wêreld te omarm en hulle met kreatiwiteit en oorspronklikheid in daardie wêreld uit te leef. Mense soos Trevor Nyakana en sy gesin (sy pa, Norman, sy stiefma, Agnes, en sy susters, Abigail en Rhulani); Siphiwe Gxadushe; Rudi “Vleis” Visagie; “Frik du Preez” en Tilla Hechter van Marble Hall.
Dit is besonder gepas dat Snyman, terug by sy huis in Jacobsbaai, sy reisverslag afsluit met ’n siek hond wat sy hand vertroostend lek en die gousblomme wat geel in die blom staan, al is dit winter. Bittersoet, net soos die reis agter hoop aan!
Foto van Dana Snyman: verskaf