Op die plaas

  • 0

Ons is op pad plaas toe. Alles wat nodig is vir die dag se kamp is gepak. Dit is grootwordgrond en altyd ’n voorreg om terug te keer.

Hier van die stowwerige bergpad af lê die wêreld groen daar onder. In die Moot het van die plekke se name ’n poort in, Hartbeespoort, Skeerpoort, Hekpoort. Hier kom jy van Skeerpoort se kant af deur die poort, al met die bergpad langs tot waar die klipperige grondpad weer aansluit by die teerpad.

Ons bestemming is die plaas Hartebeeshoek.

Op die bergpad is ’n plekkie om die motor vir ’n rukkie af te trek. Die groen vallei lê prentjiemooi daar onder. Groen saam met die rivier se loop. Dit is altyd spesiaal om hier ’n oomblik te verwyl en ’n mens voel traag om die grondpad verder aan te durf.
Die plaas lê aan die suidekant van die Witwatersberge. Verder na die suide is die grasvlaktes van die Hoëveld, maar hier aan die voet van die berg is dit groen, danksy die rivier.  Hier sien mens het al geslagte lank mense gewoon.Ons plan is om eers ’n bietjie teen die bult uit te ry en dan saam met ons vriende wat hier bly langs die rivier te kuier.

Waar die grondpad by die teerpad aansluit, draai ons regs teen die bult uit, op pad na Krugersdorp. ’n Entjie met die teerpad langs, nog lank voordat jy by die satellietstasie uitkom, kry jy mevrou Ples se vakansieoord. Daar na Krugersdorp se kant toe is die wieg van die mens, mevrou Ples se tuiste. Dit in ag genome, moes sy van tyd tot tyd seker met vakansie gegaan het. Definitief sou dit haar vakansiekeuse gewees het hier by Stapelkoppietjies. Hoe anders kan mens die vreemde klipstapel-koppietjie hier dan verduidelik? Die wonder oor hoe hierdie koppietjie ontstaan het, maak dit altyd nuut om na te kyk. ’n Vreemde klipformasie, hoe sou die plat klippe daar so opmekaar gestapel gekom het? Dit sou seker ook nie vir mevrou Ples te ver gewees het om hier van Stapelkoppie af te loop na die rivier nie. Net soos ons vandag rustig daar wil gaan kamp, met nét die kabbelende stroom.

Ons vriende wag en dit is tyd om terug te draai na die rivier daar onder. Ons ry nou in ’n oostelike rigting om by die rivier uit te kom. Die riviertjie vloei effentjies en rustig, net ’n stroompie. In Oktober begin alles hier groen word, maar die reën het nog nie gekom om die rivier in ’n groter stroom te verander nie.

Wanneer ons net oor die bruggie is, draai ons af om vir die dag daar langs die rivier te kampeer. Die voëls raas en gesels in ’n vaderlandswilg so ’n entjie van die kampplek af. Ons maak ons tuis onder ’n immergroen boom met genoeg beskerming teen die son. Ons vriende wat teen die oostelike bult woon, het sommer afgestap na die rivier toe. Dit is ’n blye weersiens. Ons het lanklaas saam gekuier en so tussendeur die koffieketel op die vuurtjie en later die vleis en pap begin ons oor lank gelede gesels.

Onthou jy nog vir Piet en wat het van ou Hendrik geword? Ons gesels oor die begraafplaas wat nou so verwaarloos in vreemde hande geval het. Jy weet mos van daardie een graf van die vrou, haar volle name is op die steen, maar geen geboorte- of sterfdatum nie – vreemd. Sy het mos hier onder in die rivier verdrink. Ja dit moes al hier in 1870 rond gewees het. Tragies. Die man is kort daarna weer getroud, nè.

Ons bespiegel of dit die vrou is wat nog al die jare met skemer naby die water ronddwaal. ’n Lang wit rok met ’n Voortrekkerkappie op haar kop. Altyd naby die water. Ek het haar nog nooit gesien nie. Nog nie baie mense het haar gesien nie, maar tog …

Nou trakteer ek almal op die storie wat ’n niggie aan my vertel het. Die gesprek het op daardie dag oor die plaas gegaan. Ek vertel my niggie van die vrou wat hier teen skemer rondloop. Baie verbaas merk sy toe op, “Dan het Lewies tog die waarheid gepraat.” Laggend vertel sy toe vir my dié storie:

Hulle het jare gelede op die plaas gekuier, maar sy het tot vandag toe nie geweet van die vrou nie. Daardie jare was die onwettige stookketeltjie nog daar in die rietbos langs die rivier, netjies verskuil vir alle agies, in gebruik. Die manne het ook maar die middag ’n bietjie rondom die keteltjie vergader. Klaar gekuier, wou niggie se man, Lewies, so teen laatskemer gou die longdrop besoek en toe hy oor die bruggie by die voor wou stap, toe sien hy die vrou daar by die water, met haar Voortrekkerkappie op en sy smile vir hom. Terug in die huis, vaal geskrik, word Lewies nog beskuldig van te veel kuier op die voggies. Arme Lewies, nie lekker geslaap nie, bly die glimlaggende vrou voor hom sien.

Ons het nou soveel stories vertel en na soveel stories geluister en dit is tyd om huiswaarts te keer. Die twee vriende het nog diere om te versorg. Met oor-en-weer-beloftes om weer hier bymekaar te kom, raak hulle weg in die skemer.

Alreeds op pad, ontdek ons dat ’n selfoon by die rivier agtergebly het. Ons draai om. Dit is amper donker. Ons skakel na die selfoon toe en ek drafstap op die geluid af.

Die populierblare op die grond ruik oud en muf. Vinnig draf ek na die luiende foon en vind dit op die grond. Ek raap die foon vinnig saam met ’n handvol muf blare op. Met die opkom uit die gebukkende posisie sien ek die vrou met die wit rok. Sy staan op die wal van die rivier en voor sy omdraai om weg te loop, glimlag sy vir my onder die Voortrekkerskappie uit.

Toe ek weer kyk, is sy weg. Met ’n rilling langs my rug af spring ek in die motor. “Ek het nou net die vrou met die Voortrekkerskappie op gesien.”

“Jy is laf, man, waar sal sy tog nou vandaan kom?” Ek besef skielik hoe Lewies moes voel.

Bo toe ons by stapelkoppietjies verbyry, voel ek nog die rilling, ek sien haar voor my geestesoog en sy smile ...

 

Lees nog van hierdie fiksie-kompetisie.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top