Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die Jakes Gerwel-gesprek, “Munisipale verkiesings: waarvoor maak jy stem dik?”, wat as deel van die jaarlikse Suidoosterfees plaasgevind het. Hierdie gesprek, met Christi van der Westhuizen, Christo van der Rheede, Oscar van Heerden en Mia Spies, is in samewerking met Netwerk24 op 2 Mei aangebied.

Van links: Oscar van Heerden, Christi van der Westhuizen, Christo van der Rheede en Mia Spies (Foto: Jean Oosthuizen)
“Hierdie is die belangrikste verkiesing nóg.”
Dit is ’n refrein wat Suid-Afrikaners bykans voor elke verkiesing hoor. Maar vanjaar se munisipale verkiesing op 4 November dra inderdaad ’n besondere politieke gewig. Nie bloot omdat kiesers weer hul oordeel oor plaaslike regering gaan uitspreek nie, maar omdat dit waarskynlik die eerste ware toets gaan wees van Suid-Afrika se nuwe politieke werklikheid ná die ANC se dramatiese steunverlies in die 2024- nasionale verkiesing.
By vanjaar se Jakes Gerwel-gesprekke tydens die Suidoosterfees in Kaapstad het ’n paneel politieke ontleders en openbare denkers hul kristalballe uitgehaal om te besin oor wat op die spel is.
Onder leiding van Mia Spies van Netwerk24 het die politieke ontleder Oscar van Heerden, Christi van der Westhuizen van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting, besin oor die tema: “Munisipale verkiesings: Waarvoor maak jy stem dik?”
Die sentrale vraag was eenvoudig, maar diep ontstellend: Stem Suid-Afrikaners nog vir dienslewering – vir water in die krane, werkende verkeersligte en skoon strate – of stem hulle steeds hoofsaaklik volgens ideologie, identiteit en historiese lojaliteite?
Volgens Oscar van Heerden gaan die ANC op 4 November swaar bloei. “Die ANC gaan al die metro’s verloor,” het hy sonder omhaal gesê.
Hy meen die tendens wat in 2024 begin het, toe die ANC vir die eerste keer nasionaal sy meerderheid verloor het, gaan nou op plaaslike vlak versnel. “Almal se oë is nou op die ANC. Die vraag is nie óf hulle steun gaan verloor nie, maar hoeveel.”
Van Heerden glo veral stedelike kiesers het eenvoudig genoeg gehad van vervalle infrastruktuur, korrupsie en munisipale wanbestuur.
Johannesburg is volgens al die paneellede die duidelikste voorbeeld van hierdie verval. Christi van der Westhuizen, self ’n oud-Johannesburger, het dit as “’n absolute tragedie” beskryf. “Dit is hartverskeurend om te sien hoe een van Afrika se belangrikste stede letterlik op sy knieë gedwing is.”
Sy wys daarop dat swak dienslewering, finansiële wanbestuur en politieke chaos in metro’s toenemend kiesers se geduld toets.
Een van die grootste bekommernisse wat tydens die gesprek uitgespreek is, is die toenemende fragmentasie van Suid-Afrika se politieke landskap. Meer as 500 politieke partye sal na verwagting aan vanjaar se munisipale verkiesing deelneem.
Op papier lyk dit soos ’n triomf vir demokrasie. In praktyk, waarsku die paneel, lei dit dikwels tot chaos.
Van der Rheede meen die huidige koalisiestelsel maak dit moontlik vir mikropartye met minimale steun om buite verhouding groot invloed uit te oefen. “Dit lei tot ’n situasie waar die stert die hond swaai.”
Hy verwys na Johannesburg se onlangse politieke geskiedenis as ’n klassieke voorbeeld. Die Al Jama-ah-party se Thapelo Amad en later Kabelo Gwamanda het burgemeesters geword ondanks hul party se uiters beperkte kiesersteun.
Amad se termyn het skaars drie maande gehou voordat hy bedank het te midde van kontroversie oor ’n beweerde R9,5 miljard leningaanbod. Gwamanda het langer gehou, maar is uiteindelik ook deur koalisiedruk en diensleweringskrisisse ingehaal.
Van der Westhuizen meen Johannesburg se politieke verval het juis hier sy kantelpunt bereik. “Dit is absurd dat partye wat nie eens een persentasiepunt van die stemme kry nie, metro’s van hierdie omvang effektief kan gyselaar hou.” Sy betreur die afwesigheid van wetgewing wat ’n minimum steunbasis vereis voordat ’n party as volwaardige koalisievennoot kan optree.
As daar een party is wat volgens die paneel as groot wenner uit die verkiesing kan tree, is dit die Patriotic Alliance (PA). Van Heerden voorspel dat die party veral in die Wes-Kaap groot spronge gaan maak. Hy meen die PA ry tans ’n kragtige golf van bruin identiteitspolitiek.
“Die oorweldigende meerderheid bruin kiesers in sekere gebiede gaan waarskynlik vir hulle stem.” Dié stelling is egter nie sonder waarskuwing gemaak nie.
Al die paneellede het hul kommer uitgespreek oor die groei van identiteitspolitiek – nie net by die PA nie, maar ook by ander partye soos MK in KwaZulu-Natal.
Van der Rheede meen Suid-Afrikaanse politiek raak toenemend vasgevang in etniese en identiteitsraamwerke. “Bruin mense is steeds vasgevang in ’n identiteitsraamwerk. Dit skep ’n vrugbare teelaarde vir populisme.” Hy sê sy ideaal bly ’n politiek waarin leiers op grond van staatsmanskap beoordeel word, nie velkleur nie. “Ek droom van die dag dat ons politieke leiers van statuur het wat in belang van die land as geheel optree.”
Waar die DA in die verlede grootliks op die Wes-Kaap as veilige politieke vesting kon staatmaak, waarsku die paneel dat dié posisie nou onder druk is.
Volgens Van der Rheede betaal die DA reeds die prys vir wat hy as ’n ernstige tekort aan prominente bruin leierskap beskryf. “Hoe dom kan jy wees?” het hy gevra met verwysing na onlangse interne verkiesingsprosesse.
Hy verwerp die argument dat die party se leierskap bloot die produk van neutrale demokratiese prosesse is. “Demokratiese uitkomste kan maklik gemanipuleer word.”
Volgens hom speel interne magsblokke en strategiese posisionering ’n veel groter rol as wat die DA wil erken.
Die onlangse tussenverkiesings in Stellenbosch, waar die PA die DA in tradisioneel DA-gebiede geklop het, is volgens hom ’n waarskuwing wat die party nie kan ignoreer nie.
Van der Westhuizen stem saam. Sy meen die DA sukkel steeds om ten volle vrede te maak met Suid-Afrika se historiese werklikhede. “Die party kon nog nooit daarin slaag om die leierskapstransformasie te maak wat die land se demografie en geskiedenis vereis nie.”
Ten spyte van die PA se opmars, glo die paneel dat Kaapstad waarskynlik DA-beheer sal behou. Van der Westhuizen sê die stad bly objektief die beste bestuurde metro in Suid-Afrika.
“As mens eerlik na die data kyk – water, sanitasie, infrastruktuur en algemene dienslewering – is Kaapstad steeds die land se beste voorbeeld van plaaslike regering wat werk.”
Maar sy voeg by dat die DA nie selftevrede kan wees nie. Die party verloor steun aan die PA, veral in tradisionele bruin steunbasisse. Die groter gevaar, meen sy, is die DA se politieke blindekolle oor rasverteenwoordiging en dat gemeenskapsvervreemding uiteindelik die deur oopmaak vir populistiese uitdagers.
Waar beurtkrag die afgelope dekade die politieke debat oorheers het, meen die paneel die volgende groot verkiesingskwessie gaan water wees.
Van der Westhuizen stel dit skerp: “Suid-Afrika het nie ’n watertekort nie. Suid-Afrika het ’n waterbestuurskrisis.” Sy wys op enorme waterverliese in metro’s soos Tshwane en Ekurhuleni, lekkende infrastruktuur, swak stedelike beplanning en rioolbesoedeling.
Met meer as 70% van Suid-Afrikaners wat reeds in stedelike gebiede woon – en dié syfer wat teen 2050 na verwagting verder sal styg – word waterbestuur volgens haar die bepalende toets van plaaslike regering. “Water gaan die kroonjuweel van munisipale politiek word.”
Die belangrikste vraag bly egter of die kiesers enigsins by die stembus gaan opdaag.
Dalende kiesersopkoms is een van die grootste bedreigings vir die legitimiteit van Suid-Afrika se demokrasie. Van der Westhuizen wys daarop dat kiesersvertroue sedert 2004 dramaties afgeneem het. “Ons sien ’n massiewe onttrekking van burgers uit die demokratiese proses.”
Wanneer mense nie meer glo hul stem maak ’n verskil nie, ontstaan die gevaar dat protesaksie en populisme die plek van deelname inneem. Dit is waarskynlik die grootste uitdaging vir 4 November. Nie net om stemme te wen nie, maar om mense weer te laat glo dat stemme saak maak.
Die munisipale verkiesing gaan uiteindelik ’n toets wees van meer as partypolitieke steun. Dit gaan ’n referendum wees oor Suid-Afrikaners se geloof in plaaslike demokrasie self.
Op 4 November sal kiesers moet besluit: Stem hulle vir identiteit, vir protes, vir lojaliteit, of stem hulle vir werkende krane, skoon strate en munisipaliteite wat eenvoudig hul werk doen?

