Oorsig oor die Suid-Afrikaanse boekmark en Afrikaanse boeke

  • 6

Dié toespraak deur Nicol Stassen is verlede week by Protea Boekhuis se skrywerspartytjie by Simonsvlei Wynlandgoed gelewer.

Dit lyk of dit goed gaan met die Suid-Afrikaanse boek, en spesifiek die Afrikaanse boek.

Volgens syfers wat Marga Stoffer van NB-uitgewers uit verkoopsyfers van Nielsen Bookdata saamgestel het, het die aandeel van plaaslike uitgewers in die Suid-Afrikaanse boekmark tussen 2004 en 2014 aansienlik toegeneem. Waar slegs 24% van boektitels wat gedurende 2004 in Suid-Afrika verkoop is, plaaslik uitgegee is, het dit tot 36% in 2014 gestyg. In dieselfde dekade het die aantal boeke wat jaarliks in Suid-Afrika gepubliseer is, van 9 000 titels tot ongeveer 16 000 gestyg. Dit het dus binne tien jaar amper verdubbel.

Waar algemene boekhandelaars tien jaar gelede net meer as 1,5 miljoen Suid-Afrikaanse boeke kon verkoop, het hulle in 2014 amper 3,6 miljoen Suid-Afrikaanse boeke van die hand gesit.

Binne hierdie gunstige mark vir Suid-Afrikaanse uitgewers, is die posisie van Afrikaanse uitgewers besonder rooskleurig. In 2004 was net 22% van die plaaslik-gepubliseerde boeke wat van die hand gesit is, in Afrikaans geskryf (teenoor 77% in Engels). Teen 2014 het die aandeel van Afrikaanse boeke tot 45% toegeneem teenoor die aandeel van Engelse boeke, wat tot 53% afgeneem het.

Daar is ook verdere aanduidings van die gunstige posisie waarin Afrikaanse uitgewers hulle bevind. Tydens ’n stemming van Wes-Kaapse biblioteekgebruikers vir die 100 beste boeke in die dekade 2001 tot 2010, waaraan meer as 2 000 mense deelgeneem het, was meer as die helfte van die top 100 boeke Afrikaanse boeke.

Dit begin lyk of die groeiende markaandeel van Afrikaanse boeke spoedig ook gevolg sal word deur al hoe meer boeke wat in Afrikatale gepubliseer sal word. Protea Boekhuis se beskeie eerste poging om boeke in drie Afrikatale naas Afrikaans te publiseer is met groot sukses bekroon en voorspel goeie dinge vir die toekoms. Ons gaan beslis meer boeke in Afrikatale publiseer.

Die beste aanduiding van die rooskleurige posisie waarin uitgewers van Afrikaanse boeke hulle bevind, is dat die grootste mediakonglomerate ter wêreld, soos Penguin Random House, Macmillan, Oxford en Pearson, ook tot die Afrikaanse mark toegetree het, en dit bowendien met groot sukses.

Oorsig  oor die internasionale boekwêreld

Tydens die afgelope twee dae op die jaarlikse konferensies van die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (PASA) en die Suid-Afrikaanse Boekhandelaarsvereniging (SABA) het verskeie sprekers die wekroep herhaal: “Die e-boek is dood!” Verskeie kettingboekwinkels in die Verenigde Koninkryk het besluit om hulle verkope van e-boeke en e-boek-lesers te staak. Dit is teen hierdie tyd duidelik dat die skouspelagtige suksesse wat destyds vir e-boeke voorspel is, nie gerealiseer het nie. Daar is verder ook talle aanduidings dat die tradisionele boek besig is om weer veld te wen teen die e-boek. In sekere genres, soos kinderboeke en akademiese boeke, kon die e-boek in elk geval nie veel hond haaraf maak teen die tradisionele boek nie.

Die betreklik swak rand en die nasleep van Brexit het tot gevolg dat plaaslik-gepubliseerde boeke relatief steeds goedkoper word in vergelyking met duur ingevoerde Engelse boeke. Dit skep natuurlik selfs nog meer geleenthede vir plaaslike uitgewers namate die prysverskil tussen ingevoerde en plaaslike boeke al groter word.

Oorsig oor toestande in Suid-Afrika

Twee gebeurtenisse wat vanjaar ongetwyfeld ’n groot impak op die plaaslike boekbedryf gehad het, was die sluiting van Leserskring en On the Dot.

Ek is nie noodwendig bekommerd oor die sluiting van Leserskring nie en verwag dat veel goeds mettertyd daaruit sal voortvloei. ’n Groot aantal uitgewers het eenvoudig te gemaklik geraak en te veel op die louere van hulle Leserskring-verkope gerus. Die sluiting van Leserskring sal plaaslike uitgewers ongetwyfeld dwing om in die toekoms meer ondernemend te wees, interessanter boeke te publiseer en hulle boeke meer ondernemend te bemark. Boekklubs soos Leserskring was 30 jaar gelede die Amazon van hulle tyd. Hulle is intussen deur meer suksesvolle modelle soos dié van Amazon vervang, net soos Amazon in die toekoms deur steeds meer suksesvolle besigheidsmodelle vervang gaan word. In hierdie stadium is daar sprake dat Leserskring in ’n ander vorm sal herleef, maar dis nog veels te vroeg om die impak daarvan te voorspel.

Die sluiting van die verspreider On the Dot was ongetwyfeld rampspoedig vir die Suid-Afrikaanse boekbedryf. Dit is gevolg deur ’n tydperkvan groot ontwrigting vir boekhandelaars dwarsdeur Suid-Afrika, maar alle aanduidings is dat die verspreiding van ’n groot aantal Suid-Afrikaanse uitgewers stadig maar seker besig is om na normaal terug te keer. Protea Boekhuis het in die lig daarvan gelukkig besluit om voortaan ons eie verspreiding te hanteer. Alle aanduidings is dat dit die regte besluit was, want die verspreiding van ons eie boeke het naatloos sonder onderbreking voortgegaan, terwyl ander uitgewers heelwat ontwrigting moet verduur. Ons sal dit in die toekoms waarskynlik oorweeg om die verspreiding van ander uitgewers se boeke aan te durf!

Die posisie van Afrikaanse uitgewers is natuurlik nie los te maak van die posisie van Afrikaanse koerante, die Afrikaanse media en Afrikaans as universiteitstaal nie, maar ek gaan nie nou hierop uitbrei nie.

Prestasies van Protea Boekhuis in 2016

Protea Boekhuis is die enigste groot Afrikaanse uitgewer wat nie aan ’n mediagroep of groot organisasie behoort nie en in privaatbesit is. Protea tel boonop onder die 15 grootste Suid-Afrikaanse uitgewers van algemene boeke.

Protea Boekhuis se duisendste boek word vanjaar gepubliseer – The Thirstland Trek, 1874–1881 van Nicol Stassen. (Ter vergelyking: Human & Rousseau se duisendste boek is in 1974 gepubliseer. Dit was Die groot verlange van Leon Rousseau.)

Protea se groot prestasie vanjaar was ongetwyfeld Ena Jansen se boek Soos familie,wat met die prestige-UJ-prys bekroon is. Dis ook so pas in Nederlands deur Uitgeverij Cossee gepubliseer. Ons het verlede week boonop verneem dat dié boek, saam met Die Dorslandtrek, 1874–1881 van Nicol Stassen, op die kortlys van die kykNet-Rapport-prys vir niefiksie vir 2015, die grootste boekprys in die land, is. Dit beteken dat twee van die drie boeke op vanjaar se kortlys publikasies uit ons stal is.

As vertaler sit Kobus Geldenhuys sy segetog voort met die toekenning van die Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur vir sy vertaling van Hoekom die walvisse gekom het van Michael Morpurgo. Kobus het verlede jaar die Elsabe Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir sy vertaling van Hoe om Drakonees te praat deur Cressida Cowell. Later vanjaar ontvang hy ’n spesiale IBBY-toekenning in Nieu-Seeland vir sy vertalings.

Ernst Stals ontvang die Stalsprys vir Geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Môrewind oor die Karasberge.

En Troula Goosen ontvang die ATKV-prys vir kinderboeke in die selfleeskategorie vir graad 6 tot 7 vir Spooksoene.

Laastens: talle goeie films is op goeie boeke gebaseer. Tydens die onlangse Silwerskermfees het Johnny is nie dood nie met omtrent al wat ’n prys is, weggestap. Die film is natuurlik gebaseer op die gelyknamige drama van Malan Steyn wat deur Protea Boekhuis gepubliseer is.

Opsomming van Protea Boekhuis se publikasies in 2015

Protea het in 2015, benewens herdrukke, 89 nuwe boeke gepubliseer. Dit sluit ses digbundels, twee dramas, tien prosawerke, sewe geskiedenisboeke en vyf ander niefiksiewerke en ’n allemintige 57 kinder- en jeugboeke in.

Soos in die verlede het ons ’n groot aantal boeke (57) in Afrikaans vertaal, onder andere 18 uit Nederlands, 16 uit Engels, 11 uit Duits en 10 uit Frans. Ons filosofie is steeds om die room van die wêreldletterkunde in Afrikaans te vertaal en te publiseer. Skrywers en lesers van Afrikaanse boeke sal in die toekoms al hoe meer op hoogte moet wees van wat in ander tale in die wêreld gepubliseer word. Ons sal beslis nie Afrikaanse boeke in isolasie kan publiseer sonder om kennis te neem van wat in die res van die wêreld gebeur nie.

Dis vir Protea Boekhuis ’n vreugde om ’n beskeie rol in hierdie verband te speel.

  • 6

Kommentaar

  • Dis alles goeie nuus. Wanneer vertaal julle 'n slag van die Skandinawiese meesters soos Nesbo, Nesser en Mankell - seker die beste wat daar in misdaadfiksie bestaan.

  • Theo van der Merwe

    Die goeie nuus verbly my hart. Dankie vir die groot werk wat julle by Protea vir Afrikaans en die ander Afrikatale doen.

  • Nicol Stassen het sedert hy begin het met Protea Boekhuis 'n enorme bydrae tot die Suid-Afrikaanse boekmark en spesifiek die Afrikaanse boek gelewer.. Tussendeur het hy nog navorsing gedoen en belangrike historiese boeke gepubliseer soos Proteas se 1000ste boek The Thirstland Trek wat reeds in Afrikaans uitgegee is.
    Ek haal my hoed vir hom af. Hij verdient een lintje!

  • ALVIDA VAN ZYL

    As ouer van n vryskutjoernalis is ek dankbaar vir enige boekhuis wat nog bereid is om te deel in Afrikaanse skryfkuns. Veral in die huidige ekonomiese lig. Sy het ook haar eerste boek op die winkelrak in Afrikaans en hopelik volg daar nog. Beste wense vir julle almal wat betrokke is ook met die Afrikaanse Geskiedenis wat so stadig aan die verdwyn of verander word. Geskiedenis is na my beskeie mening soos DNA en mag en kan nie verander word nie. Ek het Donkerland (hier in Kanada) op ShowMax gekyk en dit werklik baie geniet hoe na aan die waarheid die reeks geskryf was. Baie navorsing moes daarin gegaan het. Groete. Alvida

  • Estelle Diederiks

    Ek wil graag inligting hê oor die bemarking en verkope van boeke. Dagbreek Uitgewers is tans besig om my boek te druk, maar die verkope en bemarking is die belangrikste en moeilikste en meestal die skrywer se probleem. Baie dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top