Oorlopers: Soos mense oor 'n brug en soos vloeistof oor 'n glas se rand

  • 1


Titel: Oorlopers
Skrywer: Ian Raper
Uitgewer: Rosslyn-Pers
ISBN: 9780987039736

 

 

Die beeld van ’n voetgangerbrug oor die rivier op die voorblad van Ian Raper se Oorlopers-bundel bied, tesame met die bundeltitel, verskeie interpretasiemoontlikhede.

Dit is ’n bundel waarin skokkende en ontstellende aktualiteitsverse soos vloeistof oor die rand van ’n houer loop. Dit word deur middel van tipografie, die gebrek aan afdelings en soms gedigtitels, die gebruik van asteriske en oormatige lettergebruik in woorde – byvoorbeeld “spinnerakkiger”, “sukkelskarrelender” (1) en “aggressiefies” (46) – gedoen. Die aktualiteitsgedigte gaan onder meer oor aardverwarming, egskeiding, eensaamheid, droefenis, huishoudelike geweld, besetting, oorbevolking en armoede, soos in “Bankdrif” (35) se slotstrofe: “en kinders word gebore/ om deur die nag te hoes/ en dag-lank te loop en tjank”. Nog ’n voorbeeld is op bladsy 12: “in al meer lande van die wêreld/ raak geboue elegant vervalle, kort verf,/ huisves kakkerlakke plakkers/ met graffiti en spuitnaalde/ (nesperado’s):/ ons verniet gelos om uit te sterf.” Terselfdertyd kom liefdesgedigte, byvoorbeeld “die langsame glimlagwording” wat groei tot “klopharde samesyn” (67), voor. In die slotvers van die bundel, “onlug oordag*” (71–7),  word oormatige aktuele kwessies in een vers saamgevat.

Oorgang na ’n “volgende wêreld”, of na ’n ander kant wat “miskien die werklikheid” impliseer (49), sluit aan by die ouerwording- en aftakelingsproses van die mens, asook die verganklikheidsbesef. Religie speel ’n belangrike rol as dit by die finaliteit van die dood kom en daarom word die Bybel as interteks gebruik met verse soos “Jesaja” (3) en “Ou Moses”. Die spreker doen afstand van die lewe in byvoorbeeld “Die fieta uitgespaar” (6), waar die “ek” gesien word as die spreker en die lewe as die “jy”. Die spreker noem in “Jesaja” (3) die volgende voorbeeld van die mens se nietigheid: “Laat staan tog die mens/ wie se asem in sy neus is,/ want hoe min is hy werd.” Daar word heelwat gefokus op die stoflike mens wat deur sy/haar lewensloop sy/haar ondergang veroorsaak, deur tegnologiese en wetenskaplike vooruitgang. Laasgenoemde word dus as belangrike tema in die bundel gekenmerk.

Personifikasie word gebruik om lewelose objekte te vermenslik en sodoende word die dryfkrag van die mens om vooruit te beweeg en te ontwikkel, beklemtoon. Voorbeelde hiervan is “angsverskrikte boom” (27), “stap die onweer swaar” (35), “dennebome saag ons neer/ met ’n gegrom en ’n blêr-woede/ dat die skeuring skree” (59) en “treine sidder weg van haltes” (76). Die mens se onvergenoegdheid, soos in “Transvaalse piekniek” (61), en die mens as “kernsondige” vernietiger (75), is opvallend.

Die bundel is ’n kragtige, ontstellende manifestasie van geweld en verwonding. Laasgenoemde word in elke vers afsonderlik, maar ook in die bundel as ’n geheel, verwoord.

Die woord oorloper kan verwys na ’n renegaat wat tydens oorlog grense oorsteek deur na ’n ander party oor te gaan, soos in “Uitlopers” (33). Versperring en die verskuiwing van grense kom voor in “’n Lewe aan gespanne sy” (1) en in “Ons land ken mos besmetting/ en die geweld op plase” in “Die keergety” (45).    

Met verwysing na die groot hoeveelheid water in die foto op die voorblad kan die leser verwag dat water (van riviere, die see, damme, reën, ’n rivierbedding of lopie) ’n belangrike motief in die bundel sal wees. Paddas is ook ’n motief wat ’n plaag en vermenigvuldiging impliseer. Dit lê klem op die mens wat homself vernietig deur oorbevolking en uitwissing.

Die woord oorloper kan die leser ook laat dink aan ’n insek wat in die mens of dier se oor loop – veral omdat insekte ’n motief in die bundel is. Dit is meestal bye en wespe (perdebye) wat in verse voorkom, byvoorbeeld in “Losskakels” (4), “Vaal skepping” (6), “Sjefs, ’n klaaglied in die wind” (22) en “Nektar” (40).  

Oorlopers is ’n verrykende poësieskat. Die digter het sy kunswerk goed oorgeloop. Die oorhoofse tema oorweldig die leser soos ’n vloedgolf, weens die onlosmaaklike verwikkeldheid tussen konkrete en abstrakte ruimtes, die mens en sy nietigheid, asook die natuur. Alhoewel die uiteenlopende verse in die bundel ’n hegte eenheid vorm wat die bundeltitel ondersteun, ontvou elke vers onafhanklik. Daar word van die leser verwag om as’t ware die loper te wees wat verskeie moontlike slotte in Oorlopers kan oopsluit. Byna elke vers moet deur die leser voltooi word om die betekenismoontlikhede te ontsluit, wat die volledigheid van die bundeltitel ironiseer.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top