Oorgangsfossiele?

  • 4

So ’n tyd gelede het ek “eksperimente” in my “laboratorium” hier op SêNet gedoen om te bewys dat daar nie eintlik oorgangsfossiele is nie, maar dat elke lewende organisme, elke lewende wese, ’n oorgangsfiguur is.

Eerstens het ek elke dag ’n foto van ’n mens geneem, vanaf geboorte tot op die ouderdom van negentig jaar. Na negentig jaar het ek die foto’s op ’n ry langs mekaar gepak. Nêrens in hierdie reeks het een foto verskil van sy voorganger of die foto na hom nie, maar tog, as die eerste foto met die laaste vergelyk word, is daar ’n yslike verskil. Die eerste is ’n baba en die tweede ’n ou man.

Met my tweede “eksperiment” het ek die ontwikkeling van die mens afgeneem in die baarmoeder vanaf waar dit net een sel was, tot by die geboorte van die baba. Hierdie keer het ek elke minuut ’n foto daarvan geneem. Na die nege maande, met die geboorte van die baba, het ek die foto’s op ’n ry langs mekaar gesit, en nêrens in die reeks was daar ’n foto wat verskil het van die vorige of die een daarna nie. Tog is die eerste foto dié van één sel, terwyl die laaste een die foto van ’n baba is.

So het die mens oor miljoene jare geëvolueer vanaf spons tot mens. Tussenin het daar so hier en daar ’n “foto” gefossileer, wat dan as “oorgangsfossiel” bekend kan staan.

Kyk hier hoe mens oor miljoene jare geëvolueer het vanaf vis tot mens.

Groete
Angus

  • 4

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Nou ja, as daar nog enige twyfel was of darwinistiese evolusieleer ’n wetenskap is of nie, is daar na dese geen twyfel meer nie – dit is nou as Angus reg is – dat dit nié wetenskap is nie, maar volbloed religieuse filosofie. Al Wouter se moeite met sy oplesery om darem ten minste te probeer om ’n geloofwaardige saak vir darwinisme uit te maak, is met die veeg van ’n paar hale oor Angus, wat homself ’n entoesias noem, se toetsbord daarmee heen.

    Nou, dit is presies wat ek met my talle aanhalings probeer demonstreer het – en reggekry het! Die massiewe gapings is met die tipe fabels toegestop wat hulle nou na hipotese probeer verhef. Daar is géén bewyse voor nie! Die feit is, die aarde word behoorlik omgedolwe oraloor. Mense het tegnologie wat diep in die aardkors indring en die aarde se geheime blootlê – maar Angus se reeks foto’s ontbreek geheel en al. Nes sy ‘eksperimente’ hier ’n hersenskim was, is sy fabel van vis tot mens ook ’n hersenskim.

    Darwiniste is goed met fabelbou. Maar dit is nie meer interessant nie – storieskrywers van Hollywood gaan hulle verreweg verby. Die chronicles of narnia is baie meer ‘interessant’ as die fabels wat Angus hier voorhou – en minder aanstootlik boonop. Algar snert, natuurlik. G’n wonder die werklike wetenskaplikes in die geledere van die darwiniste raak so gefrustreerd nie… en ek het die materiaal geplaas van werklike kundiges, nie Angus se kansvatter fabels nie, wat mos reguit sê dat daar eenvoudig nie oorgangsfossiele bestaan nie. PUNT.

    Dít is die werklikheid.

    Maar fabels is veel meer geduldig as papier en só maak Angus sommer van alles en almal ’n oorgangsfossiel – vir sy fabel. Lekker speel, Angussie! Maar in ’n stadium sal jy moet grootword…

    Terloops, as Angus kundig genoeg was, sou hy met elke dag se foto van die embrio in ontwikkelingstadium wél ’n verskil kon agterkom. Elke derde dag nog meer duidelik, elke week meer opsigtelik en elke maand die duidelike patroon. Dit is juis as gevolg van die veranderinge wat intree elke minuut van die ontwikkeling van die embrio wat uiteindelik báie stelselmatig volledig lewend mens gebore word. En as fabel-verknogte Angus dieselfde met vis se kind kon doen, dan sou hy sien hoe dié van die eerste dag af in vis ontwikkel en nóóit mens, nie. Andersom natuurlik ook. Presies soos God dit met unieke DNS pakket vanaf die Meesterplan, geontwerp en bewerkstellig het, soos ons in Genesis in die Woord ook wysword. Van die mens was daar nog nooit ooit ander 'spesies' nie - geen teken eers daarvan nie - nes die Woord by noodwendige implikasie vir ons sê.

    Ek is verras deur die onbeholpenheid van die spul darwiniste – ek het in hul voorhuis met hulle eie ‘wetenskap’ ingestap met my artikels van aanhalings en in hul eie sitkamer, met die gewaarwordinge van ander wat my voorafgegaan het, hulle fabel as sodanig ontbloot en sy wetenskaplike fineer afgestroop vir die mite en ongeloofwaardige storie wat dit is. En die reaksie? Aanvanklik slegsê en later net oorhoopse onbeholpenheid en probeerskote wat hulself in die voet skiet, keer op keer.

    Wat ’n absolute teleurstelling vir iemand wat waardige teenstand verwag het. Maar ons weet mos, alles wat leuen is, word voor die Goddelike Waarheid vermorsel. En ons sien dit weer. Die ironie en lagwekkendste van alles, op ’n tragiese manier, is dat hulle desnieteenstaande in desperasie maar net aanhou daarmee om hulself belaglik te maak met hulle fabelagtige evolusie stories. Angus se vis-na-mens storietjie is werklik die kersie op die fabel-koek. Om te dink hy dis soiets belaglik vir volwassenes op…

    Terloops, onthou julle nog hoe die ou spulletjie ontken het dat hulle beweer die mens stam van ape af? Kyk gerus Angus se feëverhaaltjie waarvan hy die skakel so ewe voorsien. Daar sal julle dit wrintie sien.

    Kobus de Klerk

  • Ag, Kobus, jy skryf baie en sê absoluut niks, behalwe om my daarvan te beskuldig dat evolusie plaasgevind het. laat ek jou reghelp. Darwin het die mens van sy goddelike troon laat tuimel. Ons is nie afstammelinge van ape soos jou dominee jou oor evolusie geleer het  nie, die mens is maar een van die baie aapspesies. 

     
    Ek sou graag dit anders wou gehad het. Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as daar werklik 'n almagtige god gewees het wat ons so een een volmaak geskape het in 'n volmaakte wêreld nie. Jy weet mos, so soos wat die Christene van droom. 
     
     
  • Henry Oosthuizen

    Liewe Angus

    Jy sien Angus, die mens was nog nooit op sy goddelike troon nie.  Wat Darwin wel gedoen het is om te bevestig hoe dwaas die mensdom geword het. Juis as gevolg daarvan het die mens juis op sy troon geklim en gesê “Ons is nou die god” Baie dwaas!! Aangesien jy dan nou beweer dat ons een van baie aapspesies is, wil ek hê dat jy die volgende eksperiment  gaan doen. Neem 'n piesang met jou voet, kies dan die grootste boom in jou agterplaas, klim in die boom, sodra jy die hoogste tak bereik, gaan sit daar en eet jou piesang. Ek wil jou net waarsku dat jy gaan sukkel, want jou voet het geen duim.

    Ekperiment 2: Sit twee ape (van die mees gevorderde spesies) in 'n hok, gee aan hulle een piesang. Kyk of hulle hom gaan deel. Indien, maak 'n gevolgtrekking. Indien die een aap die piesang steel van die ander een, kyk of hy skuldig voel (lyk). Indien , maak 'n gevolgtrekking.   Kyk ook mooi, want miskien steek die een aap die piesang weg vir die ander een en lieg dan vir hom deur te sê dat daar nie 'n piesang was nie. Kyk of hulle kan redeneer en 'n besluit kan neem. Indien, maak jou gevolgtrekking. Miskien sal die een aap vir die ander een sê dat hier 'n ander aap was, 'n baie meer gevorderde aap as ons, wat vir ons nog 'n piesang sal bring.

    Angus, julle is op soek na iets uit die verlede wat nie bestaan nie, julle weet ook nie waarheen  julle op pad is nie. Julle gryp na allerhande Darwin fabels  en voer verderflike ketterye.  Verledeloos en toekomsloos. Dit is jou geloof.”NIKS”   Groete Henry

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top