Oor subjektiwiteit en Saaighon: Vitteneurigheid oor ’n bos van ’n boek

  • 3

Daar word gesê mens bly maar liewer beleefd stil as ’n resensie van jou eie boek verskyn en selfs as daar op ’n resensie uit jou pen gereageer word.

Wat boeke betref, ís dit inderdaad ’n deugsame riglyn. Dis immers effe onbetaamlik vir ’n skrywer wie se pennevrug op die rak pryk om dit gebiedend te probeer uitlê en om byvoorbeeld te sê ’n resensent tas mis.

In die geval van boekresensies is dit stellig ’n geval van oordrewe teruggetrokkenheid as ’n resensent sku is om verder te praat oor ’n uitspraak wat sy reeds gevel het.

’n Resensie is tog allermins ’n finale woord of mening. Dis juis die teendeel: die oopmaak van ’n gesprek.

En in Afrikaans is elke debat oor boeke ’n goeie ding. Om TT Cloete na te praat: Hier te lande is daar te min storms en te veel mooiweer en warm.

Met dié verontskuldiging agter die blad en onder die knie, tree ek met LitNet se versluierde kritikus van kritici in gesprek.

In Crito se aflewering van verlede week smeer sy in die eerste instansie vir my heuning om die mond oor my Rapport-resensie van Sondag 10 Februarie 2019 van Jaco Wolmarans se spanningsroman Bos (“’n Mens hoop hy skryf al ’n opvolg”).

Daarná skrywe sy só:

Net op een plek is Meiring onnodig vitterig. Om te sê dat die naam Xing Li meer Chinees klink as Viëtnamees, is totaal onsinnig as mens dit nie vir ’n feit kan stel nie. Dié een uiters subjektiewe opmerking staan lelik uit in ’n andersins baie objektiewe bespreking.

Vitterig en skoolvossig mag ek wel soms wees, maar die aantyging dat die kritiek oor die naam Xing Li “totaal onsinnig” en “uiters subjektief” is, kan nie daar gelaat word nie.

Laat ek ten geleide my Viëtnam-opmerking – eintlik was daar twee – in konteks plaas.

Vlakby die einde van ’n baie positiewe skatting van dié debuutroman (die woord taksering gee my die horriepiep) sleep ek enkele stukkies kritiek te berde:

Tog, juis omdat dit ’n boek is wat sy oë ambisievol op die kim rig, is daar enkele vertel- en redigeringsbesluite wat haper.

Waarom Tex se aanvanklike worsteling met ideologie en filosofie uitstippel en dit nie in die hede verder ontwikkel nie?

Aan die kop van elke hoofstuk staan ’n plek en tyd. Maar geen datum nie. Die tyddimensie, wat in spanningslektuur voorop staan, word dus effe verwater. Mens wonder telkens: presies hoeveel dae is dit nou ná die hele affêre van stapel is?

Van Noord-Viëtnam word gepraat asof dit steeds bestaan (bl 82). Die naam Xing Li klink boonop meer Chinees as Viëtnamees.

Hier en daar is daar setfoutjies, wat met vandag se rekenaarbystand gewoon onverskoonbaar is.

Maar dié voorbehoude ten spyt, is Bos ’n sterk debuut wat soebat om verfilm te word.

Eers moet ek sê dat resensente – ons geykte openbare beeld ten spyt – nie graag soos stiervegters in ’n stalletjie met Chinese breekgoed te kere gaan nie. As ’n boek werk, en veral as ’n debuutboek góéd werk, wil jy aanprys en aanmoedig – ook vir potensiële lesers se onthalwe.

Tog kan jy nie ’n rooi kleed oor jou oë trek en jou verbeel elke boek is eksieperfeksie nie. So ’n boek bestaan nie. Respekvolle en genuanseerde kritiek baat beide die skrywer en die leespubliek.

Weens die beperkte ruimte wat ’n resensent het om haar evaluering te begrond, word beide positiewe én negatiewe opmerkinge egter dikwels kort en bonding gestel.

Teen dié agtergrond moet beide my Viëtnam-opmerkinge, wat natuurlik op mekaar inspeel, gelees word. My leeservaring het só ontvou:

Op bl 82 word daar melding gemaak van mensehandelsindikate, wat meesal Noord-Viëtnamees is. By die eerste leesslag ervaar ek ’n ligte speldstekie. Iets is verkeerd.

Op die volgende blad verskyn Kim Jong-un se naam. Die grootbaas van Noord-Korea. Ek kyk terug en besef my kop het Noord-Viëtnam as Noord-Korea verteer.

Maar, nee, dit sê Noord-Viëtnam.

Nou wonder ek: Het ek verkeerd gelees – die verhaal speel mos wel in die hede af (Noord-Viëtnam het in 1975 die gees gegee)? Ek kyk terug en sien dat dit op bl 82 swart op wit in die hede gestel staan: “Noord-Viëtnam is eintlik vreeslik arm en het ’n yslike groot staatsdiens.”

Dís vreemd, dink ek by myselwers. Dis óf ’n nogal growwe redigeerfout óf die skrywer speel met die leser.

’n Stukkie ontsenu, lees ek verder – met voelers wat kwesbaar in die leesleegte tas.

Stokstyf staan hulle wéér as ek op bl 124 voorgestel word aan ene Xing Li Ho. Soos baie ander Afrikaanse lesers is ek al matig baie aan Chinese name blootgestel. Opsluit liasseer ek hom in my kop as ’n Chinese skavuit.

Maar nee, in die volgende paragraaf word die leser vertel: “Xing Li is Viëtnamees.”

Wéér is my voelers verwar. Ek dink terug aan my eerste Viëtnamese vriend, Quoc Tran. En aan ’n ander ene, met die van Nguyen.

Sover my blootstelling en algemene taalgevoel strek, is veral Xing Li niks anders nie as Chinees.

Dis presies dieselfde reaksie wat ek sou gehad het as ek in ’n Afrikaanse boek gelees het van ’n Franse vrouekarakter wat Jane Smith heet of ’n Engelse heldin wat Cécile de Maron geroep word.

In die lig van die Noord-Viëtnam-opmerking op bl 82 wonder ek terstond of dit deel van die intrige is: Is Xing Li ’n Chinese wolf in Viëtnamese skaapsklere? Dui die verwysing na Noord-Viëtnam daarop dat daar hier sprake is van ’n half-gefingeerde Oosterse staat wat skobbejakke voortbring?

Om my gevoel oor die naam Xing Li Ho te toets doen ek ’n bietjie navorsing.

Ek lees dat Viëtnamese name in die reël uit drie dele bestaan: eers verskyn die familienaam, dan ’n middelnaam en laastens ’n noemnaam. (Die volgorde word wel dikwels verwesters.)

Die webblad www.thingsasian.com sê:

Vietnam has about 300 family or clan names. The most common are Le, Pham, Tran, Ngo, Vu, Do, Dao, Duong, Dang, Dinh, Hoang and Nguyen – the Vietnamese equivalent of Smith. About 50 percent of Vietnamese have the family name Nguyen.

Op die webblad The John Cooke Fraud Report (www.johncooke.com) staan daar onder die hofie “Family Names”:

Nearly 50 percent of all Vietnamese people have the family name of Nguyen. Adding to the confusion is the fact that nearly 85 percent of the Vietnamese have one of the following family names: Dang, Dao, Dinh, Do, Duong, Hoang, Huynh, Le, Ngo, Nguyen, Pham, Tran, Vo, Vu.

Other names you may see are Au, Bui, Cao, Chau, Chu, Chuong, Cu, Doan, Gia, Ha, La, Lai, Lam, Loung, Ly, Ma, Phan, Ta, Trinh, Truong and Tu.

Wikipedia vertel wel dat die familienaam Ho, afkomstig uit die Chinees, wel deur 1,3% van Viëtnamese gedra word.

’n Goeie voorbeeld is Ho Chi Minh, die naam van die leier van die eertydse Noord-Vietnam. (Die van staan egter tradisioneel vooraan.)

Ho sal dus kan deurgaan, maar is dit tipies Viëtnamees? Gewis nie.

En Xing Li?

Op ’n gespreksforum op die internet lees ek oor die Viëtnamese middelnaam:

  1. “văn” for guys and “thị” for girls used to be the norm but “thị” is now out of favor being considered “provincial”. There are no hard and fast rules as to which syllable can be used as a middle name, however male middle names often carry notions of strength and bravery, such as “mạnh” = strong, “quyết” = willful, whereas female ones are, well, feminine, such as “thuỳ” = gentle, “thu” = autumn.

Wat noemname betref, sê John Cooke weer:

Commonly used by both sexes:  Anh, Dung, Hanh, Hoa, Hong, Khanh, Lan, Liem, Nhung and Xuan.

Commonly used by men: An, Ba, Bang, Bao, Bay, Canh, Ching, Cong, Cung, Dat, Dong, Gia, Giang, Gon, Ha, Hai, Hieh, Hiep,Hoai, Hoang, Hoi, Hung, Huynh, Khoa, Khoi, Ky, Lai, Linh, Loc, Long, Luc, Luu, Luy, Man, Manh, Minh, Nam, Nghia, Ngoc, Nguyen, Nho, Ninh, On, Phat, Phu, Phuc, Phung, Qua, Quan, Quang, Quy, Quyen, Sang, Sau, Son, Tam, Tan, Tao, Thanh, Thao, Thien, Thoi, Thuan, Tion, Toan, Tru, Truc, Trung, Tu, Tuan, Tung, Tuong, Tuyen, Ut, Van, Vang, Vien, Viet, Vinh, Vu and Xuong.”

Wat die naam Xing in Chinees betref, lees ek op Wikipedia: “Xing (Chinese: ) is a Chinese surname.”

En oor Li: “Li (Chinesepinyin: Lǐ) is the second most common surname in China, behind only Wang.”

Enduit pieker ek oor waarom die skrywer en sy redakteur besluit het om van Noord-Viëtnam te praat en waarom hulle op ’n naam wat allermins argetipies Viëtnamees is, besluit het.

Al die baie gevalle van ’n slegte Suid-Afrikaanse aksent in flieks en ’n Afrikaanse naam in Engelstalige fiksie wat eintlik meer Nederlands of Duits klink, skiet my gedagtes te binne. Beide het ’n bietjie aan die betrokke kunswerk se geloofwaardigheid weggekalwe en het my as kyker of leser gepla.

Daarom besluit ek om sagkens die kritiek te lewer. Vitterige redigeerwerk sou my dié vitterigheid gespaar het.

Natuurlik wil ek nie onnodig aandag daarop vestig nie. Dis maar ’n klein gebrek in ’n baie goeie en hoogs leesbare boek. Natuurlik is daar boonop nie ruimte om my nalees- en speurwerk uiteen te sit nie.

Maar nes ek op grond van my taalgevoel en algemene kennis in ’n resensie sou sê dat “Juffrou Rottemeyer” darem nie erg Italiaans klink nie, het ek laat val dat “Xing Li” darem eerder Chinees as Viëtnamees aandoen – wat vir my as leser gepla het.

’n Toelaatbaar subjektiewe slotsom, sou ek sê, met ’n noodwendig versweë objektiewe onderbou.

Maar “totaal onsinnig” en “uiters subjektief”?

Watwo.

 

Skemertyd

Crito
Blogs

"Sy sien die een ding raak wat ’n leser sou opval en hom/haar sal laat verstaan hoekom Du Plessis se boeke so lekker lees – sy skryfstyl en sy gebrek aan skrywerlike pretensie."

  • 3

Kommentaar

  • Sandra Pretroius

    Jinne, wie lees nog Crito, en wie neem hom buitendien ernstig op? Dis mos belaglik dat iemand 'n resensie skryf oor 'n resensie van 'n boek wat hy self nog nie eers gelees het nie.

  • Ek stem saam met die kritiek. Vir die meeste mense gaan dit nie saak maak nie, maar vir die wat meer van die onderwerp weet gaan dit pla. As jy oor 'n onderwerp skryf waarvan jy nie baie op hoogte is nie, moet jou navorsing goed gedoen wees.

  • Miskien sou 'n kort verduideliking in die resensie die hele ding duidelik gemaak het, selfs in 'n voetnota.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top