Oor SêNet en mikrogeeste

  • 2

Dit sou help as ’n mens kon weet watter tyd van die dag die SêNet-briewe gepubliseer word. Tans is dit soms vroeg en ander kere laat. Enersyds kan dit veroorsaak dat ’n mens dié werf te vroeg en dus onverrigtersake besoek. Andersyds kan ’n mens so laat daar uitkom dat van die briewe reeds in die argief beland het. Dit is sekerlik moeilik om by ’n streng tydskedule te hou. ’n Alternatief is om al die briewe van die dag hulle voorargiefstatus te laat behou totdat die volgende dag se briewe gepubliseer word.

Soektogte in die argief is om twee redes problematies. Enersyds is die (of my) soekspoed baie stadig. Ek vermoed dit is omdat te baie briewe met elke soektog gelaai word, terwyl die meeste lesers seker net in die briewe van die jongste dag of twee belangstel. Andersyds verskil die volgorde van die briewe op die SêNet-werf en in die argief. ’n Mens kan dus nie gou in die argief vasstel of jy alle briewe van die betrokke dag gesien het nie.

Daar is myns insiens te veel besonderhede op die nuwe werf, wat die reaksiespoed negatief beïnvloed. Ek wonder ook of alle lesers besef dat hulle op óf die titel óf die outeur kan klik. In eersgenoemde geval word toegang tot net die betrokke brief verkry. In laasgenoemde geval word toegang tot ’n hele paar van die betrokke outeur se jongste skrywes verkry. Sodoende word die stadige soekproses in die argief vermy.

Myns insiens is van die grootste nadele van die nuwe opset dat die werf uit die oogpunt van die lesers en bydraers te onpersoonlik geword het. Die mense in die LitNet-kantoor is nie meer bekendes waarvan die name en skryfwerk aan die SêNetters bekend is nie. Dit is so omdat daar nie meer ’n daaglikse redaksionele brief is nie. Dit kan seker ’n probleem wees om daagliks iets te skryf wat die moeite werd is. Maar as daar nie ’n redakteursbrief is om aan te dui dat al die briewe vir daardie dag nou verskyn het nie, behoort daar ’n aanduiding (’n amen-teken) te wees dat dit so is.

Een van die groot voordele van die nuwe webwerf is dat kommentaar op ’n brief nou onderaan en dus by die brief gepubliseer kan word. Hierdie fasiliteit kan op ’n positiewe manier benut word deur korreksies voor te stel, aanvullende inligting te verskaf, met verdienstelike ander perspektiewe voor ’n dag te kom, ens. Reaksies kan egter ook vir destruktiewe doeleindes misbruik word.

Daar is elemente wat weens die kleinheid van hulle gees nie (meer) pro-aktief ’n bydrae op die hoofwerf lewer nie en nou suiwer reaktief funksioneer en op hierdie manier glans probeer verkry. Jan Rap het pas aangetoon dat so iemand op so ’n onbeholpe manier formuleer dat hy nie verstaan kan word nie.

As in ’n brief korrek uit ’n bron aangehaal word en ’n mikrogees hou nie van die mededeling nie, word in die reaksies beweer dat die feite verdraai word, daar selektief aangehaal word, ens. So ’n kritikus wend egter geen poging aan om die verwringing of selektiwiteit te bewys nie, onder andere omdat hy die betrokke bron nie gelees het nie. Dit kan neerkom op ’n uitdrukking van kleinlikheid, venyn, vooroordeel, ens.

Dit is verregaande om te insinueer dat ek, soortgelyk aan die kritikus se gebruik van die internet, nie die boek gelees het nie, maar bloot aanhalings via die indeks opgediep het. In werklikheid lees ek alles in ’n boek behalwe die indeks.

’n Ander vorm waarin kleingeestigheid uitgedruk word, is om ’n brief sonder meer in obsene taal te veroordeel bloot omdat die reageerder nie die agtergrondskennis het om die aanhaling te waardeer nie.

Gustav Mahler het beswaar teen Johannes Brahms as mens gehad omdat Brahms se gees te "smal" was. Dit het nie verhoed dat Mahler waardering vir sommige van Brahms se komposisies gehad het nie. Dalk is daar dan selfs hoop vir die skryfarbeid van mikrogeeste.

Ek besef dat sommige van hierdie opmerkings negatief op my kan reflekteer: dat ek te rekenaarongeletterd is, dat my apparatuur verouderd is, ens. Dan moet dit maar so wees. Ek weet dat ek met ’n positiewe gesindheid teenoor LitNet en in die besonder SêNet skryf.

Johannes Comestor

 

  • 2

Kommentaar

  • Dankie Johannes. Weer eens lewer jy 'n waardevolle bydrae op SêNet.

    Ek het voorheen gekla oor die stadige soekspoed as jy die argief wil besoek. Kon nog nooit enige positiewe reaksie kry nie, behalwe beloftes dat die besware aan die diensverskaffer oorgedra word.

    Ek hoop jou beswaar sal beter resultate oplewer.

    Koos Smit 

     

      

  • I Strove with None

    I strove with none, for none was worth my strife.
    Nature I loved and, next to Nature, Art:
    I warm'd both hands before the fire of life;
    It sinks, and I am ready to depart. 
     
    Walter Savage Landor
     
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top