Seisoene: Die WMO (World Meteorological Organisation — met ’n ledetal van 189 state) gebruik die eerste dag van die maand waarin die onderskeie dag – en nageweninge en sonnestilstande voorkom om die begin van die onderskeie seisoene aan te dui. Dus: 1 Mrt; 1 Jun; 1 Sep en 1 Des. Die IAO Internasionale Astronomiese Organisation) daarenteen gebruik weer die deklinasie van die son d.w.s. datums vir dag- en nagewening en noordelike en suidelike sonnestilstand wat op 22 Mrt; 22 Jun; 22 Sep en 22 Des val.
Maan: Die maan wentel in ’n eliptiese baan van wes na oos om die aarde, d.w.s. in dieselfde rigting as die aarde se rotasie. Die periode van een rotasie om die aarde duur 27.32166 dae en word ’n sideriese maand genoem omdat dit teen die agtergrond van die sterre gemeet word. Die sideriese maand se lengte is konstant en wissel nie. Die fases van die maan — volmaan tot volmaan — val egter nie saam met die sideriese maand nie omdat die aarde tydens die periode wat die sideriese maand duur, meer as 7° in sy wentelbaan om die son aanskuif en die maan moet dit natuurlik opvang voor daar weer ’n volmaan kan wees. Dié periode — genoem die sinodiese maand — tussen die opeenvolgende volmane, is ongeveer 29.53 dae, maar kan met tot soveel as 13 uur wissel omdat die aarde se spoed in sy wentelbaan om die son nie konstant is nie en die maan dus soms meer tyd nodig het om op te vang.
Dié wentelpatroon van die maan om die aarde herhaal homself en word ’n maansiklus genoem. ’n Maansiklus duur op enkele minute na presies 19 jaar.
“Blue Moon”: Daar kom dus min of meer een volmaan in elke kalendermaand voor maar die verskil akkumuleer sodat daar in ’n maansiklus van 19 jaar: (19 x 12)+7 volmane voorkom. Seisoene duur drie maande en daar behoort dus in elke seisoen ook drie volmane voor te kom. Volmane vir elke maand het name in die volksmond van verskillende kulture. Die addisionele volmane skep natuurlik nou ’n probleem en word hulle om een of ander rede, waaroor daar nogal taamlik meningsverskil bestaan, ’n “Blue Moon”, genoem.
Daar bestaan twee definisies vir ’n ‘Blue Moon’ en ongelukkig verskil die uitkoms. Volgens die ‘maande reël’ is die tweede volmaan in die maand waar daar twee volmane voorkom die “Blue Moon”. Volgens die ‘seisoene reël’ het elke seisoen normaalweg drie volmane maar wanneer daar vier volmane binne dieselfde seisoen val dan is die derde volmaan die “Blue Moon”.
Tydens 2012 sal daar op 2 Aug. en weer op 29 Aug. volmane voorkom en volgens die ‘maande reël’ sal 29 Aug. die ‘Blue Moon’ wees.
Tydens die WMO se winterseisoen van 2012, sal daar 4 volmane voorkom op onderskeidelik 4 Jun.; 3 Jul.; 2 Aug. en 31 Aug. en sal die derde een van 2 Aug. die ‘Blue Moon’ wees.
Volgens die IAO is daar nie ’n “Blue Moon” in 2012 indien die ‘seisoene reël geld nie, want ongeag die feit dat daar 13 volmane gaan wees sal daar nie een seisoen met meer as 3 volmane wees nie omdat die IAO seisone effens verskil van dié van die WMO.
Indien die ‘maande reël’ toegepas word, is ’n ‘Blue Moon’ op Oujaarsaand nie ’n ongewone verskynsel nie en kom dit elke 19 jaar voor. So was dit die geval in 1990; 2009 en so sal dit weer wees in 2018.
Vir meer inligting oor die verskynsel van die ‘Blue Moon’ kan die artikel daaroor in ‘Sky and Telescope’ nageslaan word.
Groete
Panda


Kommentaar
Regstelling: Tydens 2012 sal daar op 2 Augustus en weer op 31 Augustus volmane voorkom en nie op 29 Augustus nie.
Panda
Baie dankie Panda. Werklik nuttige inligting.
Datums was altyd my swakpunt: Die laaste sin in die tweede laaste paragraaf moet natuurlik lees: "So was dit die geval in 1990; 2009 en so sal dit weer wees in 2028."
Panda