Oor Reusedwerg se 'openbare figure'-brief

  • 0

Reusedwerg maak die opmerking dat dit vir hom deesdae opvallend is dat "... prominente/bekende mense uitsprake maak wat grens aan die absurde."  Hy slaan die spyker op die kop.

So kondig Max du Preez toe nou die dag aan dat Zimbabwe nou weer in die posisie is waar hy destyds was; die land produseer nou glo weer net soveel voedsel as destyds toe Ian Smith nog aan bewind was.  Vir die land om soveel voedsel te produseer is arbeid nodig en hoe kry hulle dit reg met Zimbabwiërs wat gedurig land-uit stroom?  Hoe het die plase wat by wit boere gevat is weer so produktief geword na hulle HEELTEMAL verval het?  Het die paar plase wat oorgebly het 100% meganiseer?  Nie maklik nie.

Ek het 'n voëltjie hoor fluit dat die Britte hierdie storie versprei het sodat hulle nie meer 'skuld' aan Zimbabwe hoef te betaal nie.  Sluk Max die Engelse se storie of help hy hulle net?  Hoe dit ookal sy; dit is 'n absurde stelling.

Die kans is natuurlik daar dat dit NIE absurd is nie; dat dit wel waar is dat Zimbabwe, ten spyte van die geweldige verval die afgelope jare, weer die voedselmandjie is wat hy voorheen was.  Indien dit die geval is sal ek om verskoning vra dat ek Max se stelling in twyfel getrek het.  Dit sal vir my heerlik wees om verkeerd te wees want dit gaan beteken  al die Zimbabwiërs hier gaan terug en vat dan dalk ook die meeste Kongolese, Zambiërs, Senegalese, Malawiërs, Nigeriërs ens saam.

Reusedwerg slaan nog 'n spyker op die kop waar hy die joernalistieke standaarde bevraagteken.  Ek het al die gesegde gehoor dat vandag se nuus more se geskiedenis is.  Mag die mensdom daarvan behoede wees want joernaliste se aanslag is voorgeskryf deur die redakteur wat weer voorgeskryf word deur een of ander entiteit (regering / eienaar / aandeelhouers of wat ookal) met 'n spesifieke agenda.  Destyds as studente kon ons op Time Magazine inteken teen halfprys en dit hy my oë oopgemaak; as Time, 'n joernalisties hoogaangeskrewe tydskrif, soveel twak oor SA kon kwytraak wat kon mens glo van hulle ander 'in diepte' artikels?  En waar plaas dit die ander minder gesaghebbende tydskrifte en koerante? 

Die antwoord:  Baie hoog op die ongeloofwaardigheidskaal.  Een bewys byvoorbeeld van die onakkuraatheid van media-inligting is toeriste wat hier aankom en verbaas is dat daar nie leeus in die strate rondloop nie, of hulle skewe siening van sogenaamde apartheid en dit ten spyte van die talle 'in-diepte' artikels vir jare al oor Suid-Afrika.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top