Net GOD alleen het nie ontstaan nie en het geen oorsaak nie. God IS – tydloos, grensloos, absoluut Self-bestaande, onbeperk (Eksodus 3:13-14). Daar is 'n klein groepie mense (agnostici) wat dit nie insien en aanvaar nie, maar daar is biljoene mense vandag en baie biljoene oor die eeu heen wat absoluut geen probleem het om God so te ken en verstaan nie. Die Woord is die rekord van hierdie aard en Wese van God waar God Homself so openbaar het aan Sy profeet (Moses) en alhoewel agnostici nie (tans) die vermoë het om kontak met God te hê nie, is dit nie die geval met mense wie in God glo nie aangesien God met hulle kontak bewerkstellig op Spirituele vlak.
God is die Begin. God het nêrens begin nie, God IS die Begin. Die begin kan self nie 'n begin hê nie.
Alles het by God begin. God is dus die Oorsaak daarvan, deur die prosesse wat God daarvoor geskep het.
“Oorsaak” word deur die VHAT aangegee as dit waardeur iets teweeggebring word of geskied; dit wat tot ’n bepaalde gevolg aanleiding gee, terwyl “gevolg” aangegee word as dit wat uit iets voortvloei, deur iets veroorsaak word; iets wat bestaan omdat iets anders vantevore gebeur het; resultaat, uitkoms, nadraai.
In die regte, byvoorbeeld, is daar 'n eeue oue gevestigde leerstuk wat leer dat daar vir 'n beweerde dader geen aanspreeklikheid is as daar nie 'n kousale verband bestaan tussen die gewraakte daad (handeling) en die beweerde gevolg daarvan nie. Maar as daar 'n kousale verband is, staan dit vas. So staan die kousale verband tussen God as Skepper en die skepping (alles in die heelal, alle lewe) vas. Daaroor kan mense nie stry nie. Veral nie die agnostici nie, want hulle weet nie van die begin van alles nie... Daar kan oor die detail van die ontwikkeling van die heelal en die lewe gedebatteer word, maar nie oor die feit dat God die Begin (Oorsaak) van alles is nie.
Alles wat aan ons bekend is, in die fisieke wêreld, is die gevolg van een of ander oorsaak. So kan die konsep van 'oorsaak' sinoniem met en selfs in baie gevalle gelykstaande wees aan die begin van iets. Die oorsaak is dus die begin.
'n Geweldige groot leemte in die evolusieleer, is juis hierdie kwessie. Agnostici probeer die evolusieleer aangryp as verklaring vir lewe op aarde, maar hulle erken dat hulle nie weet hoe lewe ontstaan het nie en nog 'werk daaraan', maar in dieselfde asem sê hulle (diegene van hulle in hulle ateïstiese staat) onomwonde dat 'n Skepper nie nodig is om die proses van lewe op aarde te verklaar nie en sluit die Godheid dus geheel en al uit. Ten spyte daarvan dat derduidende sekulêre wetenskaplikes al letterlik vir eeue lank besig is om die oorsaak van lewe te soek in hulle soeke vir die evolusionêre proses, maak hulle nie vordering nie. Die rede is voor die hand liggend – hulle ignoreer doelbewus die logiese oorsprong van lewe, naamlik Goddelike skepping daarvan, die feit waarvan al derduidende jare gelede geopenbaar is en opgeteken staan in die Goddelik gekose rekord daarvan, die Woord (Bybel).
Sekulêre wetenskaplikes sê dat die advent van Goddelike skepping nie wetenskaplik gefundeerd is nie, omdat dit nie voor getoets kan word nie en dit dus nie vervalsbaar of weerlegbaar is gebaseer op die sogenaamde aanvaarbare 'wetenskaplike metode' nie.
Hierdie verskoning van sekulêre wetenskaplikes laat egter die lig duidelik op die leemte van hulle wetenskaplike proses val, want dit wys uit dat hulle wetenskaplike metode eenvoudig nie gesofistikeerd en ontwikkeld genoeg is om te 'toets' vir Goddelike skepping nie. Die probleem lê dus glad nie by die advent van Goddelike skepping nie, maar by die ontoereikende sekulêre wetenskaplike proses.
Sekulêre wetenskaplikes weet ook nie hoe om hul wetenskaplike proses te ontwikkel om die nodige te kan akkommodeer nie. Daarom is dit gewoon vir hulle makliker om Goddelike skepping te ontken en die Woord wat dit bevestig, te verwerp en te probeer om dit af te maak as onwerklik.
Daar is egter baie voor die hand liggende aanduiders van Goddelike betrokkenheid – die mees voor die hand liggende waarvan is die absolute kompleksiteit en diversiteit en ultra intelligente aard van alles wat lewe, van die mikroskopiese tot die makro manifestasie daarvan. Mense probeer die mees basiese daarvan namaak (nie de novo skeppings nie) en dit verg talle van hulle kollektief baie jare en baie duur toerusting om iets daarvan reg te kry. Dan kom die einste wetenskaplikes en beweer die wonderlike dinge geskied sonder aanwending van beplanning, intelligensie op 'n lukrake basis – watter snert.
Oorsaak en gevolg – God is die Oorsaak en die natuurlike heelal in al sy kompleksiteit en diversiteit is die gevolg.
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus, ek hou van hierdie uiteensetting van jou. Dit gaan sekere mense se nekhare laat rys! Jy is vir my die voorbeeld van geduldigheid, veral met sekere mense waarvan die begripsvermoë duidelik ontbreek. Hou so aan, my vriend.
Ek geniet die gespartel van die ander kant af tog ook eintlik terdeë - dis nou vanweë die vermaaklikheidwaarde verbonde aan die onsinnige stellings wat gemaak word.
Lekker vriendelike groetnis.
Husky.
Dankie Neels, jou opinie omtrent hierdie dinge is vir my waardevol want ek het jou leer ken as opreg en standvastig in jou geloof. En ek weet dat jy boonop die wetenskap beter begryp as baie ander wat daarop aanspraak maak.
Beste Kobus,
Jammer om dit vir jou te sê, maar sommer aan die begin gorrel jy oor die begin.
Jy wil vir ons kom wysmaak God (van die Bybel) het nie 'n oorsaak nie. Natuurlik het hy 'n oorsaak: die mens het hom gemaak. Hy is 'n mitologiese figuur in die Bybel, soos Moses. Karakters in verhale waarin slange en bome praat, en vrouens maagdelik geboorte gee aan gode se kinders, is mitologiese figure. Daarby kan jy nie verbykom nie.
As jy vir my kan bewys dat God van die Bybel ook in ons wêreld bestaan, dan sal ek nie verder met jou argumenteer nie. Ek weet toevallig van 'n man wat albei sy hande verloor het. Ek sal hom na jou toe bring en dan bid jy tot jou almagtige God van jou om hom weer hande te gee. Hy is 'n gelowige en bid al jare vir hande, maar hulle het nog nie weer aangegroei nie.
As jy vir my kan bewys God bestaan, dan sal ek ook nie stry oor daardie kousale verband wat dit ookal mag wees wat jy voorhou as bewys nie. Groot woorde en klakkelose geprewel sal nie oortuig nie.
Die evolusieleer het niks te make met agnostici nie. Dit het te make met die wetenskap en wetenskaplikes. Baie agnostici dink ook maar evolusie beteken 'n olifant baar 'n muis. 'n Agnostikus is iemand wat nie weet of daar goeters soos spoke in die kerkhof is nie. Hulle is netso onnosel soos Christene.
Die kompleksiteit van die lewe is nie 'n bewys vir 'n god nie. Dis 'n pure grotbewonerredenasie. Die primitiewe mens het alles wat hy nie verstaan nie, die kompleksiteit vir hom van sy bestaan, god genoem.
Van snert gepraat: eintlik is die Bybel maar pure snert. Verbeel jou, 'n vrou word van 'n man se ribbebeen gemaak! Geen bonatuurlike truuks is nodig om die evolusie te verklaar nie, ook nie bonatuurlike wesens om die towerspulletjie uit te voer nie.
Dis nie eers nodig om 'n laboratorium te hê wat toegerus is om te toets of daar is god is nie. Ons kan sommer 'n kerk gebruik. Dis mos waar julle sê God elke Sondag is. Dan kan Dominee en broeders ouderlinge sy teenwoordigheid vir ons bewys. As jy wil, kan ons 'n laboratoriumtoets doen, maar ek waarborg jou, jou god sal nie slaag nie. Die krag van gebed is al wetenskaplik ondersoek en daar is bevind dat daar geen verskil is tusen bid en nie bid nie.
Groete,
Angus
Angus, hierdie brabbeltjie van jou is een van die mees lafhartige pogings om die onvermoë van die sekulêre wetenskap te probeer verdoesel, maar natuurlik slaag jy nie.
As hierdie gebrabbeltjie jou so laat benoude spronge maak, dan wonder ek wat sal gebeur as ek regtig lostrek.
Agnostoci is mense wat jarelank aan indoktrinasie walms verslaaf was. Hulle het besluit om op te hou met rook, en nou kom hulle benewelde breins so stadigaan reg, maar nog nie genoeg om te besef hulle is besig om die lig te sien nie. So nou en dan kry hulle 'n dampie religiedagga in en dan begin die hallusinasies en twyfel weer van vooraf.
Nou wil jy voorgee dat die mensdom, die ganse mensdom, wat oor die eeu heen in hul biljarde tel en op een of ander manier aan die Godheid as Skepper glo, aan indoktrinasie walms verslaaf was en steeds is, maar dat dit net die minuskule paar agnostici is wat 'normaal' is? Hoe desperaat en pateties raak jou pogings nie nou nie, Angus. Nee, walms is waarskynlik die oorsaak van jou huidige probleem as ateis, wil dit voorkom. Jy moot mooi oplet - en oppas - daar kan baie waarskynlik baie negatiewe sielkundige konnotasies aan sulke denkbeeldige superieure illusies gekoppel word...
Beste Kobus,
Jou biljarde Christene wat aan God glo, sê absoluut niks. Dit is geen bewys van sy bestaan in ons wêreld nie. Wat van die biljarde wat aan ander gode glo? Is dit 'n bewys dat hulle gode ook bestaan? (Ek hou nogal van "die een of ander manier aan die Godheid as Skepper glo.")
Ek kan bewys dat gode en jou god die skepping van menslike verbeelding is.
Jy kan nie bewys dat jou god werklik bestaan nie.
Hoe jy ookal slegsê en wriemel, dit sal jou absoluut niks help nie. Ek het jou gesê agnostici is nog maar deurmekaar in die kop. Nêrens het ek voorgegee dat die goed normaal is nie. Jy is 'n meester in die kuns om jou probleme om te draai en dit op ander te skuif. Dis nie ek wat desperaat en pateties is nie, dis jy. Denkbeeldige superieure illusies beskryf jou uitstekend. Hou so aan; netnou het ons 'n volledige prentjie van Kobus de Klerk.
Groete,
Angus
Die dae van in 'ander gode' glo is verby, Angus. Dit was laas so met die Grieke en Romeine se antiek afgode. Mense weet van die Godheid, maar hul manier (religie) om tot God toenadering te bewerkstellig, is net dikwels baie verdwaald. Jy praat dus weereens uit onkunde.
Jy kan niks bewys van wat jy sê omtrent God nie, en die 'ons wêreld' waarna jy verwys, is sekerlik jou bitter klein wêreldjie van spiritueel blindes.
Help nie jy herhaal jouself nie. Jy het al dikwels probeer om jou snert te bewys, terwyl jy nooit daarin slaag nie. Staak die herhalende pogings dus gerus - jy maak in elk geval geen vordering nie.. Dit is net twisgierig en raak baie kinderagtig.
Beste Kobus,
Dit help nie om my te beskuldig van twisgierigheid en kinderagtigheid nie. Dit baar jou niks.
Ek het aan jou bewys dat God van die Bybel 'n mitologiese figuur is. Mitologiese figure is die skepping van storievertellers en skrywers. Die werk van storievertellers en skrywers is fiksie. God is dus 'n fiktiewe karakter.
jy moet nou die teendeel bewys, sonder om my van twisgierigheid en kinderagtigheid te beskuldig.
Jy moet bewyse lewer dat God bestaan. Bybelse aanhalings, slegsêery, en my beskuldig daarvan dat ek nie spirituele intelligensie het nie en dus nie verstaan nie, help niks. Die storie van dat God die oorsaak is van die heelal se kompleksiteit en diversiteit, maak ook nie sin as jy nie kan bewys dat God werklik bestaan nie. Vir die primitiewe grotbewoner was wind en weerligblitse ook kompleks en onverstaanbaar en daarom het hy god daaragter gesien. Dit help ook nie om my te probeer wysmaak dat dit nie nodig is om te bewys dat God bestaan nie. Jy vra altyd bewyse; ek vra ook bewyse.
Groete,
Angus