Ek was nou ’n ruk weg en het met die terugkom so vlieg-vlieg deur meeste van die briewe gelees en sien Wouter beskuldig oester dat hy “samesweringsteoris” (ek voel –teoretikus sal nie hier pas nie). Vergewe my as ek misverstaan het maar oester is reg as hy sê hy ruik vis in Denemarke.
Ek het ’n jaar twee of drie terug oor dieselfde ding gekla; ek het ’n gewone R5 BIC-aansteker (R5 daardie tyd) uitmekaar gehaal en daar was iets soos 17 of 23, kan nie meer mooi onthou nie, onderdeelttjies; klein gemasjineerde skroefies, klein O-ringetjies, veertjies, hefboompies van plastiek, kleppies en dies meer. Dan is daar nog die butaan wat verkry word deur een of ander ingewikkelde proses en aanmekaargesit kos die hele spul R5, ’n breukdeel van ’n brilraam wat net twee skarniertjies het. Hoe werk dit?
Hier naby my het ’n mansklerewinkel nou die dag ’n uitverkoping en ’n T-hemp, afgemerk, was R650! By gewone christelik-nasionale winkels is T-hemde hier by die R90 tot R160 as ek dit nie mis het nie, reeds buitensporing want die ding is van lap gemaak, iets wat al eeue deur die mens gemaak is. Hoe kan ’n stuk lap in die vorm van ’n hemp soveel kos as mens ’n sakrekenaar met trig- en hiperboliese funksies ens vir hier van R40 af kan koop?
Ek het ook die voorbeeld van Coke genoem. In vergelyking met brandstof, wat deur een ma'se raffineringsproses gaan, maak Coke, suikerwater in wese, se prys nie sin nie. Van suiker gepraat, as die prys van suiker styg, styg die prys van alle koeldranke, insluitende sodawater wat geen suiker bevat nie.
Bogenoemde anomalieë kan seker maar toegeskryf word aan die wese van kapitalisme; die prys wat die verbruiker betaal het niks te doen met winsgrense, ekonomie van skaal en die soort van ding nie; dit is die prys wat die verbruiker bereid is om te betaal en as daar nie kompetisie is nie sal die pryse aanhou styg tot ’n plafon wat deur die verbruiker se inkomste bepaal word (en nie die produk se waarde nie).
Ek stem ook saam met die implikasie dat die middelmanne, ’n hele ketting van hulle, die produsent en die verbruiker melk. Weer eens, dis maar kapitalisme; as jy nie kan organiseer om sindikate teë te werk nie gaan jy betaal.
Jan Rap

