Oor niks

  • 0

Vir Johannes Comestor.

Dagsê Johannes

Vir my 'n baie interessante onderwerp, ek stoei al jare met nul, maar meer die wiskundige as die filosofiese een. Ek het tot die besef gekom dat nul nie 'n getal is nie toe die universiteit my probeer oortuig het dat nul wel 'n getal is deur die eerste hoofstuk in een van die handleidings "Hoofstuk 0" te noem.

Klaar 'n teenstrydigheid; die EERSTE hoofstuk, gewoonlik aangedui met 'n "1", word hoofstuk 0 genoem. Nog 'n manier om te sien dat dit onsin is – dis nou 0 as 'n getal – is die feit dat die laaste hoofstuk die nde hoofstuk was maar hy was getitel Hoofstuk n-1. As jy die hoofstukke tel kom jy af op n en n-1 nie. Deur hom hoofstuk n-1 te merk was dus 'n liegstorie.

Die woorde "tel" en "getal" het duidelik dieselfde wortel so mens kan nooit tot "0" tel of meet nie, dit is bloot die beginpunt. Die interessante feit waarop Green wys, naamlik dat daar nie 'n jaar 0 tussen 1 vC en 1 nC was nie, is omdat dit onmoontlik is; dit maak nie sin nie, net soos dit onmoontlik is dat daar 'n 0de sentimeter op 'n maatstok is. Daar is wel 'n nulpunt wat maar bloot die begin van die eerste sentimeter is.

As jy byvoorbeeld kyk na die getalle op die X-as van 'n grafiek is daar ook nie 'n afstand 0 nie; daar is wel 'n nulpunt wat die beginpunt van die eerste afstandjie is, of die eindpunt van die afstandjie gemerk "-1". Die begin van die jaartelling is dus gemerk "0" maar wat ook al gebeur tussen die merkers 0 en 1 is gebeurtenisse in die eerste eeu, net soos byvoorbeeld 1652 in die 17de eeu is, of 2011 in die 3de millennium.

Nou ja, tot hiertoe dan, dis maar soos ek die ding sien. Miskien kan jy my wys waar ek mistas, of wat ek uit die oog verloor maar tot dan is ek oortuig dat as jy tel, jy nie nul as 'n getal gebruik nie, net 'n plekhouer.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top